Gaan na inhoud

Vreemdkwark

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Vreemdkwark
Die vreemdkwark se plek in die Standaardmodel (onder kwarke).
Die vreemdkwark se plek in die Standaardmodel
(onder kwarke).
SamestellingElementêre deeltjie
StatistiekFermionies
GroepKwarke
GenerasieTweede
WisselwerkingSterk, swak, elektromagneties, swaartekrag
Simbools
AntideeltjieVreemd-antikwark (s)
GeteoretiseerMurray Gell-Mann (1964)
George Zweig (1964)
Ontdek1947, Universiteit van Manchester
1968, SLAC
Massa95+9−3 MeV/c2[1]
Verval inOpkwark
Elektriese lading-1/3 e
KleurladingJa
Spin1/2
Swak isospinLH: -1/2, RH: 0
Swak hiperladingLH: 1/3, RH: -2/3

Die vreemdkwark of s-kwark (simbool: s, van die Engelse strange quark) is die derde ligste van al die kwarke, ’n soort elementêre deeltjie, en ’n hoofbestanddeel van materie. Hulle word in hadrone aangetref, wat subatomiese deeltjies is wat uit kwarke bestaan. Voorbeelde van hadrone wat vreemdkwarke bevat, is kaone, vreemde D-mesone, sigmabarione en ander vreemde deeltjies.

Volgens die Internasionale Unie vir Suiwer en Toegepaste Fisika (IUPAP) is die simbool s die amptelike naam, terwyl "strange" ("vreemd") bloot as ’n geheuesteun beskou moet word.[2] Die naam "sideways" ("sywaarts") is ook al gebruik, omdat die s-kwark, en ook die oorblywende drie kwarke, ’n I3-waarde van 0 het, terwyl die u- ("op") en d- ("af") kwarke onderskeidelik waardes van 1⁄2 en -1⁄2 het.[3]

Saam met die sjarmekwark is dit ’n tweedegenerasie-kwark. Dit het ’n elektriese lading van -1⁄3 e en ’n massa van 95+9−3 MeV/c2.[1] Nes ander kwarke is die vreemdkwark ’n elementêre fermion met spin-1⁄2. Dit ervaar al vier fundamentele kragte: swaartekrag, elektromagnetisme, die swak kernkrag en die sterk kernkrag. Sy antideeltjie is die vreemd-antikwark (ook die anti-vreemdkwark of bloot antivreemd), waarvan sekere eienskappe dieselfde grootte maar die teenoorgestelde teken het.

Die eerste vreemde deeltjie, naamlik die kaon, is in 1947 deur George Rochester en Clifford Butler aan die Universiteit van Manchester ontdek. Die bestaan van die vreemdkwark, sowel as dié van die opkwark en die afkwark, is in 1964 deur Murray Gell-Mann en George Zweig gepostuleer om die agtvoudige weg, ’n klassifikasieskema vir hadrone, te verklaar. In 1968 het diep inelastiese verstrooiingseksperimente by die Stanford Lineêre Versnellersentrum die eerste bewys gelewer dat kwarke werklik bestaan.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

In die beginjare van die deeltjiefisika, in die eerste helfte van die 20ste eeu, is hadrone soos protone, neutrone en pione nog as elementêre deeltjies beskou. Namate al hoe meer nuwe hadrone egter ontdek is, het die deeltjiedieretuin van ’n handjievol deeltjies in die vroeë 1930's en 1940's tot etlike dosyne in die 1950's gegroei. Sommige deeltjies het veel langer geleef as ander: die meeste het deur die sterk kernkrag verval en het leeftye van omtrent 10-23 sekondes gehad, terwyl dié wat deur die swak kernkrag verval het, leeftye van omtrent 10-10 sekondes gehad het. Uit die ondersoek na dié vervalle het Murray Gell-Mann (in 1953)[4][5] en Kazuhiko Nishijima (in 1955)[6] die begrip vreemdheid ontwikkel om die "vreemdheid" van die langerlewende deeltjies te verklaar; Nishijima het dit eta-lading genoem, na die eta-meson. Die Gell-Mann-Nishijima-formule is die resultaat van hierdie pogings om vreemde vervalle te verstaan.

Ondanks hul werk het die verband tussen die onderskeie deeltjies en die fisiese grondslag van vreemdheid onduidelik gebly. In 1961 het Gell-Mann[7] en Yuval Ne'eman[8] onafhanklik van mekaar ’n klassifikasieskema vir hadrone voorgestel wat as die agtvoudige weg, of SU(3)-geursimmetrie, bekend staan. Dit het hadrone in isospinmultiplette georden. Die fisiese grondslag van sowel isospin as vreemdheid is eers in 1964 verklaar, toe Gell-Mann[9] en George Zweig[10][11] onafhanklik van mekaar die kwarkmodel voorgestel het, wat destyds net uit die op-, af- en vreemdkwark bestaan het.[12] Die op- en afkwark was die draers van isospin, terwyl die vreemdkwark vreemdheid gedra het.

Hoewel die kwarkmodel die agtvoudige weg verklaar het, is daar eers in 1968 by die Stanford Lineêre Versnellersentrum direkte bewys van kwarke se bestaan gevind.[13][14] Diep inelastiese verstrooiingseksperimente het aangedui dat protone ’n substruktuur het en dat die data verklaar word indien protone uit drie meer fundamentele deeltjies opgebou is, wat die kwarkmodel bevestig het.[15] Daarmee is die bestaan van die op- en afkwark bevestig, en by uitbreiding ook dié van die vreemdkwark, wat die skema eweneens vereis het.

Navorsers was aanvanklik onwillig om die drie bestanddele as kwarke te identifiseer en het eerder Richard Feynman se partonbeskrywing verkies,[16][17][18] maar met tyd is die kwarkteorie aanvaar.[19]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
  1. 1 2 M. Tanabashi et al. (Particle Data Group) (2018). "Review of Particle Physics". Physical Review D. 98 (3): 1-708. Bibcode:2018PhRvD..98c0001T. doi:10.1103/PhysRevD.98.030001. hdl:10044/1/68623.
  2. ↑ Cohen, Richard E.; Giacomo, Pierre. Symbols, Units, Nomenclature and Fundamental Constants in Physics (PDF) (2010 uitg.). IUPAP. p. 12. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 18 Maart 2015. Besoek op 25 Maart 2017.
  3. ↑ McGervey, John D. (1983). Introduction to Modern Physics (2de uitg.). New York: Academic Press. p. 658. ISBN 978-0-12-483560-3. Besoek op 25 Maart 2017.
  4. ↑ Gell-Mann, M. (1953). "Isotopic Spin and New Unstable Particles" (PDF). Physical Review. 92 (3): 833. Bibcode:1953PhRv...92..833G. doi:10.1103/PhysRev.92.833.
  5. ↑ Johnson, G. (2000). Strange Beauty: Murray Gell-Mann and the Revolution in Twentieth-Century Physics. Random House. p. 119. ISBN 978-0-679-43764-2. By the end of the summer ... [Gell-Mann] completed his first paper, 'Isotopic Spin and Curious Particles' and send it of to Physical Review. The editors hated the title, so he amended it to 'Strange Particles'. They wouldn't go for that either—never mind that almost everybody used the term—suggesting insteand [sic] 'Isotopic Spin and New Unstable Particles'.
  6. ↑ Nishijima, Kazuhiko (1955). "Charge Independence Theory of V Particles". Progress of Theoretical Physics. 13 (3): 285. Bibcode:1955PThPh..13..285N. doi:10.1143/PTP.13.285.
  7. ↑ Gell-Mann, Murray (1961). "The Eightfold Way: A theory of strong interaction symmetry". California Institute of Technology. Synchrotron Laboratory Report CTSL-20.
  8. ↑ Ne'eman, Y. (1961). "Derivation of strong interactions from gauge invariance". Nuclear Physics. 26 (2): 222. Bibcode:1961NucPh..26..222N. doi:10.1016/0029-5582(61)90134-1.
  9. ↑ Gell-Mann, Murray (1964). "A Schematic Model of Baryons and Mesons". Physics Letters. 8 (3): 214-215. Bibcode:1964PhL.....8..214G. doi:10.1016/S0031-9163(64)92001-3.
  10. ↑ Zweig, G. (1964). "An SU(3) Model for Strong Interaction Symmetry and its Breaking". CERN Report No.8181/Th 8419.
  11. ↑ Zweig, G. (1964). "An SU(3) Model for Strong Interaction Symmetry and its Breaking: II". CERN Report No.8419/Th 8412.
  12. ↑ Carithers, B.; Grannis, P. (1995). "Discovery of the Top Quark" (PDF). Beam Line. 25 (3): 4-16. Besoek op 23 September 2008.
  13. ↑ Bloom, E. D.; Coward, D.; et al. (1969). "High-Energy Inelastic e–p Scattering at 6° and 10°". Physical Review Letters. 23 (16): 930-934. Bibcode:1969PhRvL..23..930B. doi:10.1103/PhysRevLett.23.930.
  14. ↑ Breidenbach, M.; Friedman, J.; et al. (1969). "Observed Behavior of Highly Inelastic Electron–Proton Scattering". Physical Review Letters. 23 (16): 935-939. Bibcode:1969PhRvL..23..935B. doi:10.1103/PhysRevLett.23.935. S2CID 2575595.
  15. ↑ Friedman, J. I. "The Road to the Nobel Prize". Hue-universiteit. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Desember 2008. Besoek op 29 September 2008.
  16. ↑ Feynman, R. P. (1969). "Very High-Energy Collisions of Hadrons" (PDF). Physical Review Letters. 23 (24): 1415-1417. Bibcode:1969PhRvL..23.1415F. doi:10.1103/PhysRevLett.23.1415.
  17. ↑ Kretzer, S.; Lai, H.; et al. (2004). "CTEQ6 Parton Distributions with Heavy Quark Mass Effects". Physical Review D. 69 (11): 114005. arXiv:hep-th/0307022. Bibcode:2004PhRvD..69k4005K. doi:10.1103/PhysRevD.69.114005. S2CID 119379329.{{Verwys vaktydskrif}}: VS1-onderhoud: artikelnommer as bladsynommer (link)
  18. ↑ Griffiths, D. J. (1987). Introduction to Elementary Particles. John Wiley & Sons. p. 42. ISBN 978-0-471-60386-3.
  19. ↑ Peskin, M. E.; Schroeder, D. V. (1995). An introduction to quantum field theory. Addison–Wesley. p. 556. ISBN 978-0-201-50397-5.

Verdere leeswerk

[wysig | wysig bron]