Toring van Babel
| Toring van Babel | |
|---|---|
| מִגְדַּל בָּבֶל | |
Die toring van Babel, deur Pieter Bruegel die Ouere (1563). | |
| Soort gebou | Toring |
| Ligging | Babilon, Irak |
| Hoogte | Sien Hoogte. |
Die Bybelse verhaal van die toring van Babel (Hebreeus: מִגְדַּל בָּבֶל, Migdal Bavel) in Genesis 11:1-9 verduidelik hoekom die wêreld se volke verskillende tale praat.[1][2][3]
Volgens die verhaal het ’n verenigde volk wat een taal gepraat het ná die Sondvloed ooswaarts getrek en by Sinar aangekom. Hulle het besluit om ’n stad te bou, asook ’n toring waarvan die punt tot in die hemel sou reik. God het dit gesien en verwarring in hulle taal gebring sodat hulle mekaar nie meer kon verstaan nie. Hy het hulle toe oor die aarde verstrooi. Sommige moderne skrywers het al die toring van Babel met bekende strukture verbind, veral Etemenanki, ’n ziggoerat in Babilon wat aan die god Mardoek opgedra was.
Bybelse geleerdes beskou die boek Genesis as mitologies en nie as ’n historiese weergawe van gebeure nie.[4] ’n Sumeriese storie met soortgelyke elemente word in Enmerkar en die god van Aratta vertel.[5] Die Skotse sosiale antropoloog sir James George Frazer vertel ook in sy Folklore in the Old Testament van 1918 van verskeie ooreenkomste van stories uit die Ou Testament, soos die Sondvloed en die toring van Babel, met inheemse legendes oor die wêreld heen.

Bybelse verhaal
[wysig | wysig bron]1 Die hele wêreld het net een taal gepraat.2 Toe die mense ooswaarts getrek het, het hulle uitgekom by 'n vlakte in Sinar en daar gaan woon.
3 Hulle het op 'n keer vir mekaar gesê: “Kom ons maak stene en ons brand hulle hard.” Hulle het toe stene in plaas van klip gebruik en asfalt in plaas van klei.
4 Toe sê hulle: “Kom ons bou vir ons 'n stad met 'n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir ons 'n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie.”
5 Die Here het afgekom om te kyk na die stad en die toring wat die mense vir hulle gebou het,
6 en toe sê Hy: “Hier is hulle een volk en almal het een taal. Hulle het nog maar net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie.
7 Kom laat Ons afgaan en verwarring bring in hulle taal, sodat die een nie die ander verstaan nie.”
8 Die Here het hulle toe van daar af verstrooi oor die hele aarde, en hulle het opgehou met die bou van die stad.
9 Daarom het hulle die stad Babel genoem, want daar het die Here in die taal van die aarde verwarring gebring, en van daar af het Hy die mense oor die hele aarde verstrooi..
—Genesis 11:1-9 (1983-vertaling)
Etimologie
[wysig | wysig bron]Die frase "toring van Babel" kom nie in die Bybel voor nie; dit word "stad en toring" of net "stad" genoem. Die oorspronklike ontlening van die naam Babel (ook die Hebreeuse naam vir Babilon) is onseker. Die Akkadiese naam vir die stad was Bāb-ilim, wat beteken "poort van God". Dié vorm en vertolking kom egter vermoedelik uit ’n volksetimologie wat op ’n vroeëre naam, Babilla, toegepas is; laasgenoemde se betekenis is onbekend en dit het waarskynlik ’n nie-Semitiese oorsprong.[6][7]
Volgens die Bybel is die stad "Babel" genoem, van die Hebreeuse werkwoord בָּלַ֥ל (bālal), wat beteken "deurmekaargooi" of "verwar".[8][9]
Samestelling
[wysig | wysig bron]Genre
[wysig | wysig bron]Die verhaal van die toring van Babel is ’n etiologie (oorsaakleer). ’n Etiologie verduidelik die oorsprong van ’n gebruik, ritueel, naam of ander verskynsel.[10]:426 Die storie van die toring verduidelik die ontstaan van verskeie tale. God was bekommerd dat die volk ’n toring wou bou om ’n tweede vloed te voorkom en daarom het Hy baie tale geskep.[10]:51 Mense is dus in taalgroepe verdeel wat mekaar nie kon verstaan nie.
Temas
[wysig | wysig bron]Die verhaal se tema van mededinging tussen God en die mens kom elders in Genesis voor, in die storie van Adam en Eva in die tuin van Eden.[11] Die 1ste-eeuse Joodse vertolking wat in Flavius Josephus voorkom, verduidelik die bou van ’n toring as ’n aanmatigende daad om God te tart, waarvoor die arrogante tiran Nimrod opdrag gegee het. Hierdie klassieke vertolking word egter soms betwis en klem word gelê op die eksplisiete motief van kulturele en linguistiese homogeniteit wat in verse 1, 4 en 6 genoem word.[12] In hierdie vertolking van die verhaal word God se optrede nie beskou as ’n straf vir trots nie, maar as ’n etiologie van kulturele verskille, en word Babel as die wieg van die beskawing beskou.
Outeurskap
[wysig | wysig bron]Tradisie gee Moses die eer vir die skryf van die hele Pentateug; in die laat 19de eeu is die dokumentêre hipotese egter deur Julius Wellhausen voorgestel.[13] Daarvolgens word vier bronne vir die Pentateug voorgestel: J (Jahwisties), E (Elohisties), P (priesterlik) en D (Deuteronomisties). Aanhangers hiervan meen die verhaal van Babel kan toegeskryf word aan die Jahwistiese bron. Die etiologiese aard van die verhaal word as tipies van J beskou. Daarbenewens word die opsetlike woordspeling in verband met die stad Babel en die geraas van die mense wat "babbel", beskou as tipies van J.[10]:51
Historiese konteks
[wysig | wysig bron]
Bybelse geleerdes beskou die boek Genesis as mitologies en nie as ’n historiese weergawe van gebeure nie.[14] Die storie van Babel kan nietemin in terme van sy konteks vertolk word. In Genesis 10:10 word Babel as deel van Nimrod se koninkryk verklaar. Die Bybel noem nie spesifiek dat Nimrod opdrag vir die bou van die toring gegee het nie, maar baie ander bronne verbind dit wel met Nimrod.[15]
Genesis 11:9 skryf die Hebreeuse weergawe van die naam "Babel" toe aan die werkwoord balal, wat beteken om te verwar. Ook Flavius Josephus het verduidelik die naam kom van die Hebreeuse woord Babel (βαβὲλ), wat "verwarring" beteken.[16]
Vernietiging
[wysig | wysig bron]Die weergawe in Genesis maak geen melding daarvan dat die toring vernietig is nie. Die volk wat verskillende tale begin praat het, is bloot "verstrooi oor die hele aarde", sodat hulle kon ophou om die stad te bou. In ander bronne, soos die Boek van Jubileë (hoofstuk 10:18-27), Cornelius Alexander (frag. 10), Abudenos (frag. 5 en 6), Josephus (Antiquities 1.4.3) en die Sibillynse Orakels (iii. 117-129) waai God die toring met ’n sterk wind om.
In een midrasj (Joodse Bybelse eksegese) word gesê die bopunt van die toring het afgebrand, die onderkant is ingesluk en die middelste deel is laat staan om mettertyd te verweer.
Etemenanki, die ziggoerat in Babilon
[wysig | wysig bron]
Etemenanki was die naam van ’n ziggoerat in die stad Babilon wat aan die god Mardoek gewy was. Dit is in die 6de eeu v.C. deur die Neo-Babiloniese konings Nabopolassar en Nebukadnesar II laat herbou. Volgens moderne geleerdes soos Stephen L. Harris is die verhaal van die toring van Babel waarskynlik beïnvloed deur Etemenanki tydens die Babiloniese gevangenskap van die Jode.[17]
Nebukadnesar het geskryf die oorspronklike toring is in antieke tye gebou: "’n Vorige koning het die Tempel van die Sewe Ligte van die Aarde gebou, maar hy het nie die punt voltooi nie. Mense het dit lank gelede ontruim, sonder ’n verslag van hulle woorde. Sedertdien het aardbewings en weerlig sy songedroogde klei opgebreek; die stene aan die buitekant het gebars en die grond aan die binnekant is in hope versprei."[18] Die sewe ligte was die planete, maan en son wat destyds geglo is om die aarde wentel.
In 2011 het geleerdes die oudste bekende voorstelling van Etemenanki ontdek.[19] Dit is uitgekerf op ’n swart steen bekend as die "Toring van Babel-stele", wat dateer van 604 tot 562 v.C., die tyd van Nebukadnesar II.[20]
Die Griekse historikus Herodotos (440 v.C.) het later van hierdie ziggoerat geskryf, wat hy die "Tempel van Zeus Belus" genoem het. Daarin skyf hy van sy enorme afmetings.
Die reeds vervalle Groot Ziggoerat van Babilon is eindelik deur Alexander die Grote vernietig in ’n poging om dit te herbou. Sy dood het egter ’n einde aan die projek gebring.
Toring se hoogte
[wysig | wysig bron]In Genesis word nie genoem hoe hoog die toring was nie. Die frase wat gebruik word om die toring te beskryf, "punt tot in die hemel" (Genesis 11:4), was ’n idioom vir ’n indrukwekkende hoogte en beeld nie arrogansie uit nie.[12]:37
Volgens die Boek van Jubileë was die toring 5 433 el en 2 palms hoog – of 2 484 m, sowat drie keer so hoog soos Burj Khalifa. Die Derde Openbaring van Barug noem die "toring van twis" was 463 el hoog – of 211,8 m, hoër as enige mensgemaakte struktuur tot met die oprigting van die Eiffeltoring in 1889. Die Eiffeltoring is 324 m hoog.
Gregorius van Tours haal omstreeks 594 ’n vroeëre skrywer, Orosius (omstreeks 417), aan wat gesê het die toring was "vierkantig, op ’n baie gelyk vlakte. Sy muur, wat van gebakte stene gemaak was en met pik gemessel is, was 50 el breed, 200 el hoog en 470 stadions in omtrek." ’n Stadium het destyds ’n omtrek van sowat 176 m gehad.[21] Aan elke kant was 25 poorte, dus altesaam 100. Die groot deure was van brons. "Dieselfde historikus vertel baie stories oor die stad en sê: 'Hoewel sy gebou so glorieryk was, is dit steeds verower en verwoes.'"[22]
’n Tipiese Middeleeuse weergawe word deur Giovanni Villani (1300) gegee: Dit was 130 km in omtrek, 4 000 treë (5,92 km) hoog en 1 000 treë dik.[23] Die 14de-eeuse reisiger John Mandeville gee ook ’n beskrywing van die toring en sê dit was volgens plaaslike bewoners 64 furlong (13 km) hoog.
In sy boek Structures: Or Why Things Don't Fall Down (Pelican 1978–1984), skryf prof. J.E. Gordon oor die hoogte van die toring. Volgens hom weeg stene en klippe 2 000 kg per m3. Elementêre rekenkunde wys ’n toring met parallelle mure kon 2,1 km hoog gewees het voordat die onderste stene deur die gewig inmekaargedruk word. As die mure nouer geloop het na bo, kon hulle so hoog gewees het dat die mense van Sinar se suurstof sou opraak en hulle moeilik sou asemhaal voordat die stene onder hulle eie gewig sou instort.
Latere geskrifte
[wysig | wysig bron]
Josephus
[wysig | wysig bron]Die Joods-Romeinse historikus Flavius Josephus hervertel die geskiedenis soos dit in die Hebreeuse Bybel voorkom in sy Antikwiteite van die Jode (omstreeks 94 n.C.) en noem die toring van Babel. Hy skryf Nimrod het die toring laat bou en hy was 'n tiran wat probeer het om die mense van God af te keer. God het besluit om die mense te verwar eerder as dood te maak, want uitwissing met 'n vloed het hulle nie geleer om goddelik te wees nie.
Islamitiese tradisie
[wysig | wysig bron]Hoewel dit nie by die naam genoem word nie, het die Koran 'n storie wat met die Bybelse weergawe van die toring van Babel ooreenstem. Dit speel egter in die Egipte van Moses af. Die farao vra Hamaan om vir hom 'n toring te bou sodat hy na die hemel kan opklim om die God van Moses te konfronteer.[24]
Hoewel variasies soortgelyk aan die Bybelse vertelling van die toring van Babel in Islam voorkom, is die idee dat God die mens geskei het op grond van hulle taal nie in Islam bekend nie, volgens die skrywer Yahiya Emerick. Hy glo God het volgens die Islamitiese geloof nasies geskep om mekaar te ken en nie om geskei te word nie.[25]
Boek van Mormon
[wysig | wysig bron]In die Boek van Mormon vra 'n man met die naam Jared en sy gesin God om nie hulle taal in die tyd van die "groot toring" te verwar nie. Vanweë hulle gebede bewaar God hulle taal en lei hulle na die Vallei van Nimrod. Van hier af reis hulle oor die see na die Amerikas.
Hoewel daar geen melding van die toring van Babel in die Boek van Mormon is nie, glo sommige leiers in die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae die "groot toring" was inderdaad die toring van Babel. Hulle sê hulle Kerk glo die vertellings van die Sondvloed en die toring van Babel, "hoewel baie mense vandag dink dit is fiksie".[26]
Spraakverwarring
[wysig | wysig bron]
Die spraakverwarring (confusio linguarum) is die ontstaansmite vir die fragmentasie van die menslike tale wat in die Bybel beskryf word en wat gevolg het op die bou van die toring van Babel.
Bybelse weergawe
[wysig | wysig bron]In Genesis 11 word beweer alle mense het voor die bou van die toring een taal gepraat. Dit bots met ’n vroeëre vers, Genesis 10:5. ("Uit hulle het die mense wat nou die kusstreke bewoon, daarnatoe versprei, volgens hulle stamme en nasies, elkeen met sy eie taal.")[27]
Latere vertolking
[wysig | wysig bron]Tydens die Middeleeue is Hebreeus algemeen deur Joodse, Christelike en Moslemse geleerdes beskou as die taal wat God gebruik het om in die Paradys met Adam te praat, en deur Adam self.
Dante Alighieri raak die onderwerp aan in sy De vulgari eloquentia (1302-1305). Hy sê daarin die taal van Adam is van goddelike oorsprong en dus onveranderlik.[28] Hy sê verder die eerste een wat volgens Genesis praat, is Eva toe sy met die slang praat, en nie Adam nie.[29]
In sy Goddelike Komedie (omstreeks 1308-1320) verander Dante egter sy mening en beskou hy Adam se taal as ’n produk van Adam.[28] Dit het die gevolg gehad dat dit nie meer as onveranderlik beskou kan word nie, en daarom kan Hebreeus nie die taal van die Paradys wees nie. Dante kom tot die gevolgtrekking (Paradiso XXVI) dat Hebreeus van Adam se taal afstam, en dat die belangrikste Hebreeuse naam vir God in skolastiese tradisie, El, moet kom van ’n ander naam wat Adam God genoem het, wat Dante meen I was.[28]
Voor die aanvaarding van die Indo-Europese taalfamilie is hierdie tale deur sommige geleerdes beskou as "Jafetities" (afkomstig van Jafet, seun van Noag). In die Europa van die Renaissance het die sogenaamde Jafetitiese tale voorrang geniet bo Hebreeus, want hulle het na bewering nooit vervorm nie omdat die mense wat dié tale gepraat het, nie aan die bou van die toring van Babel deelgeneem het nie. Onder die kandidate vir tale wat van Adam se taal sou afgestam het, was: Gaelies, Toskaans, (Giovanni Battista Gelli, Piero Francesco Giambullari), Nederlands (Goropius Becanus, Abraham Mylius), Sweeds (Olaus Rudbeck) en Duits (Georg Philipp Harsdörffer, Justus Georg Schottel).
Die Sweedse arts Andreas Kempe het in 1688 ’n satire geskryf waarin hy spot met die sprekers van verskillende Europese tale wat beweer het hulle moedertaal is die taal van Adam. Daarin praat Adam Deens, God Sweeds en die slang Frans.[30]
Linguistiek
[wysig | wysig bron]Historiese linguiste worstel al lank met die idee van ’n enkele, oorspronklike taal. In die Middeleeue, en tot in die 17de eeu, is pogings aangewend om ’n bestaande afstammeling van die taal van Adam te vind.

Die letterlike geloof dat al die tale van die wêreld hulle oorsprong by die toring van Babel het, is skynlinguistiek en bots met die bekende feite oor die oorsprong en geskiedenis van tale.[31]
In Genesis 11 word gesê almal het een taal gepraat, maar soos reeds gesê, bots dit met die Bybelse beskrywing van die wêreld ná Noag in Genesis 10:5, waar vertel word die afstammelinge van Sem, Gam en Jafet het verskillende volke gevorm, elk met sy eie taal.[2]:26
Verskeie ander tradisies in die wêreld beskryf ’n goddelike verwarring waar een taal gelei het tot baie, al is dit sonder ’n toring. Benewens die Griekse mite waarin Hermes die tale verwar het, noem die Skotse folkloris James George Frazer verskeie volke wat ’n soortgelyke verhaal vertel.[32]
Verskeie pogings is in die Middeleeue aangewend om ’n lys saam te stel van tale wat by Babel ontstaan het. ’n Lys name van al die afstammelinge van Noag in Genesis 10 (LXX) sluit 15 name vir Jafet se afstammelinge in, 30 vir Gam s’n en 27 vir Sem s’n – hierdie getal kom op 72 te staan en dit is beskou as die tale wat uit die verwarring by Babel voortgespruit het. Die presiese lys tale verskil egter van tyd tot tyd. ’n Paar van die vroegste bronne wat 72 (soms 73) tale noem, is die 2de-eeuse Christelike skrywers Clemens van Alexandrië (Stromata I, 21) en Hippolitus van Rome (Oor die Psalms 9). Dit word deur talle latere bronne herhaal, soos sint Augustinus se Stad van God 16.6 (omstreeks 410), die Persiese historikus Muhammad ibn Jarir al-Tabari (omstreeks 915), die Russiese Primêre Kroniek (omstreeks 1113), die Joodse kabbalawerk Bahir (1174) en die Siriese Boek van die By (omstreeks 1221).
Die kronieke van Hippolitus (omstreeks 234) bevat een van die eerste pogings om elk van die 72 volke te noem wat glo hierdie tale praat. Die tradisie van 72 tale het nog lank daarna voortbestaan.
Soortgelyke mites
[wysig | wysig bron]Grieks-Romeinse parallel
[wysig | wysig bron]
In die Griekse mitologie, wat grootliks deur die Romeine oorgeneem is, is daar 'n mite wat die Gigantomagie of Gigantestryd genoem word; dit is die geveg tussen die Gigante en die Olimpiese gode om die heerskappy van die kosmos. In Ovidius se vertelling van die mite in Metamorfoses het die Gigante probeer om by die gode in die hemel uit te kom deur berge op mekaar te stapel, maar hulle is deur Jupiter se weerligstrale weggekeer.[33]
Mexiko
[wysig | wysig bron]Verskeie soortgelyke mites word in Latyns-Amerika aangetref. Die Groot Piramide van Cholula in Mexiko is al met die toring van Babel verbind. Die Dominikaanse monnik Diego Durán (1537-'88) het berig oor 'n weergawe wat hy oor die piramide van 'n 100-jarige priester by Cholula gehoor het, kort ná die verowering van die Asteekse Ryk. Hy skryf hy het gehoor reuse het verskyn nadat die lig van die son die eerste keer op die land geskyn het, en hulle het na die son gaan soek. Hulle kon dit nie kry nie en het 'n toring gebou wat tot in die lug gestrek het. 'n Woedende God van die Hemele het 'n beroep op die bewoners van die lug gedoen, en hulle het die toring vernietig en sy bewoners verstrooi. Die storie het nie met 'n vloed of taalverwarring verband gehou nie, maar Frazer verbind die bou daarvan deur die reuse met die toring van Babel.[34]
'n Ander storie, wat die inheemse historikus Fernando de Alva Cortés Ixtlilxóchitl (c. 1565-1648) met die antieke Tolteke verbind het, lui dat nadat die mens ná 'n groot vloed vermeerder het, hulle 'n hoë toring gebou het om hulleself te beskerm in geval van nog 'n vloed. Hulle tale is egter verwar en hulle het na verskillende streke van die aarde versprei.[35]
Botswana
[wysig | wysig bron]Volgens David Livingstone het die mense wat hy in 1849 aan die Ngamimeer in Botswana teengekom het, 'n soortgelyke tradisie gehad. Die bouers se koppe is egter "gekraak toe die steierwerk inmekaartuimel".[36]
Arizona en Nepal
[wysig | wysig bron]Soortgelyke stories is ook verbind met die Tohono O'odham-volk van Arizona[37] en die Tharu-volk van Nepal en Indië.[38]
Ander tradisies
[wysig | wysig bron]In Folklore in the Old Testament, sy boek van 1918, dokumenteer die Skotse sosiale antropoloog sir James George Frazer ooreenkomste van stories uit die Ou Testament, soos die Sondvloed, met inheemse legendes oor die wêreld heen. Hy identifiseer Livingston se weergawe met 'n verhaal van die Lozi-volk van Suider-Afrika waarin die bose manne 'n toring van maste gebou het om die skeppergod, Nyambe, na die hemel te volg nadat hy op 'n spinnekopweb daarheen gevlug het. Die mans is dood toe die maste inmekaartuimel.
Hy vertel ook van ander stories van die Asanti van Ghana waarin stampers gebruik is in plaas van maste. Frazer het soortgelyke stories aangehaal wat onder die Kongo en in Tanzanië aangetref word waarin die mans pale of bome gebruik in 'n mislukte poging om die maan te bereik.[34] Hy sê verder die Karbi- en Kuki-volk van Assam het 'n soortgelyke storie. In die tradisie van die Karen-volk van Myanmar, wat volgens Frazer duidelike "Abrahamitiese" invloede toon, word vertel hulle voorouers het 30 generasies ná Adam daarheen migreer ná die verlating van 'n groot pagoda in die land van die Karenni-volk, toe tale deurmekaar geraak en die Karen van die Karenni geskei het. Hy noem ook 'n weergawe op die Admiraliteitseilande, waar die mens se tale deurmekaar geraak het ná 'n mislukte poging om huise tot aan die hemel te bou.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Metzger, Bruce Manning; Coogan, Michael D (2004). The Oxford Guide To People And Places of the Bible. Oxford University Press. p. 28. ISBN 978-0-19-517610-0. Besoek op 22 Desember 2012.
- 1 2 Levenson, Jon D. (2004). "Genesis: Introduction and Annotations". In Berlin, Adele; Brettler, Marc Zvi (reds.). The Jewish Study Bible. Oxford University Press. p. 29. ISBN 9780195297515.
{{cite book}}: Ongeldige|ref=harv(hulp) - ↑ Graves, Robert; Patai, Raphael (1986). Hebrew Myths: The Book of Genesis. Random House. p. 315. ISBN 9780795337154.
- ↑ Levenson 2004, p. 11
- ↑ Kramer, Samuel Noah (1968). "The 'Babel of Tongues': A Sumerian Version". Journal of the American Oriental Society. Vol. 88, no. 1. pp. 108–111.
- ↑ Day, John (2014). From Creation to Babel: Studies in Genesis 1-11. Bloomsbury Publishing. pp. 179–180. ISBN 978-0-567-37030-3.
- ↑ Dietz Otto Edzard: Geschichte Mesopotamiens. Von den Sumerern bis zu Alexander dem Großen, Beck, München 2004, p. 121.
- ↑ "Genesis 11:9 Hebrew Text Analysis". biblehub.com (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Maart 2019.
- ↑ John L. Mckenzie (1995). The Dictionary of the Bible. Simon and Schuster. p. 73. ISBN 978-0-684-81913-6.
- 1 2 3 Coogan, Michael D. (2009). A Brief Introduction to the Old Testament: the Hebrew Bible in its Context. Oxford University Press. ISBN 9780195332728.
- ↑ Harris, Stephen L. (1985). Understanding the Bible: A Reader's Introduction. Palo Alto: Mayfield. ISBN 9780874846966.
- 1 2 Hiebert, Theodore (2007). "The Tower of Babel and the Origin of the World's Cultures". Journal of Biblical Literature. 126 (1): 29–58. doi:10.2307/27638419. JSTOR 27638419.
- ↑ Blenkinsopp, Joseph (1995). "Introduction to the Pentateuch". In Keck, Leander E. (red.). The New Interpreter's Bible. Nashville: Abingdon Press. p. 310. ISBN 9780687278145.
- ↑ Levenson 2004, p. 11
- ↑ "Babel, Tower of". Jewish Encyclopedia. (1906). New York: Funk & Wagnalls. 395–398.
- ↑ Josephus, Antiquities, 1.4.3
- ↑ Harris, Stephen L. (2002). Understanding the Bible. McGraw-Hill. pp. 50–51. ISBN 9780767429160.
- ↑ Jeffrey, Grant R. (2013). Unveiling Mysteries of the Bible. Colorado Springs: WaterBrook Press. pp. 33–39. ISBN 9780307508607.
- ↑ Lorenzi, Rossella (27 Desember 2011). "Ancient Texts Part of Earliest Known Documents". Discovery Channel News (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Mei 2016. Besoek op 14 Januarie 2020.
- ↑ "The Tower of Babel Stele". Schoyen Collection (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Januarie 2020. Besoek op 28 Desember 2011.
- ↑ Donald Engels (1985). The Length of Eratosthenes' Stade. American Journal of Philology 106 (3): 298–311. doi:10.2307/295030 (subskripsie nodig).
- ↑ Gregorius van Tours, History of the Franks, vertaling van die 1916-vertaling deur Earnest Brehaut, Boek I, hoofstuk 6. Aanlyn beskikbaar by abridged form.
- ↑ Uittreksels uit Giovanni se Kronieke in Engels.
- ↑ Soera 28:36 en 40:36–37, Die Heilige Quran. In Afrikaans vertaal deur Imam M.A. Baker. Uitgegee deur IDM (Islamic Dawah Movement of Southern Africa) Publications. ISBN 978-0-620-60451-2
- ↑ Emerick, Yahiya (2002). The Complete Idiot's Guide to Understanding Islam. Indianapolis: Alpha. p. 108. ISBN 9780028642338.
- ↑ Parry, Donald W. (January 1998), "The Flood and the Tower of Babel", Ensign, https://www.churchofjesuschrist.org/study/ensign/1998/01/the-flood-and-the-tower-of-babel?lang=eng
- ↑ "Do Genesis 10 and 11 Conflict with Reference to the Languages in the Earth?" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Januarie 2020. Besoek op 12 Januarie 2020.
- 1 2 3 Mazzocco, Angelo (1993). Linguistic Theories in Dante and the Humanists". pp. 159–181. ISBN 978-90-04-09702-5.
- ↑ mulierem invenitur ante omnes fuisse locutam. Umberto Eco, The Search for the Perfect Language (1993), p. 50.
- ↑ [Olender, Maurice (1992). The Languages of Paradise: Race, Religion, and Philology in the Nineteenth Century. Vert. Arthur Goldhammer. Cambridge, Massachusetts en Londen: Harvard University Press. ISBN 0-674-51052-6.
- ↑ Pennock, Robert T. (2000). Tower of Babel: The Evidence against the New Creationism. Bradford Books. ISBN 9780262661652.
- ↑ Frazer, James George (1919). Folk-lore in the Old Testament: Studies in Comparative Religion, Legend and Law. Londen: Macmillan. p. 384.
- ↑ "Metamorphoses (Kline) 1, the Ovid Collection, Univ. Of Virginia E-Text Center".
- 1 2 Frazer, James George (1919). Folk-lore in the Old Testament: Studies in Comparative Religion, Legend and Law. Londen: Macmillan. pp. 362–387.
- ↑ "Fernando de Alva Ixtlilxóchitl". letras-uruguay.espaciolatino.com. Besoek op 24 Oktober 2018.
- ↑ David Livingstone (1858). Missionary Travels and Researches in South Africa. Harper & Brothers. p. 567.
- ↑ Farish, Thomas Edwin (1918). History of Arizona, Volume VII. Phoenix. pp. 309–310. Besoek op 5 Maart 2014.
{{cite book}}: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link) - ↑ Beverley, H. (1872). Report on the Census of Bengal. Calcutta: Bengal Secretariat Press. p. 160.
Skakels
[wysig | wysig bron]
Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Toring van Babel.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.