Gaan na inhoud

Siekte

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die bakterieë wat tuberkulose veroorsaak.

'n Siekte is 'n skadelike fisiese of psigiese afwyking van 'n organisme wat die struktuur of funksie van die hele organisme of 'n deel daarvan aantas en nie die onmiddellike gevolg van 'n uitwendige besering is nie.[1] Meer spesifiek, dit is 'n ontwrigting van die homeostase, die selfregulerende proses waardeur biologiese stelsels hulle stabiliteit bewaar deur by omstandighede aan te pas.[2] Dit gaan dikwels met simptome gepaard wat die mediese toestand verklap. 'n Siekte kan deur uitwendige faktore soos patogene of deur inwendige disfunksies veroorsaak word; so kan 'n versteuring van die immuunstelsel onder meer tot immuniteitsgebrek, hipersensitiwiteit, allergieë en outo-immuunsiektes lei.

Siektes veroorsaak meestal pyn, ongemak of 'n abnormale toestand. Dit kan deur genesing gevolg word, moontlik na behandeling, maar kan ook tot 'n gestremdheid of die dood lei; 'n dood weens siekte word 'n natuurlike dood genoem. Voorkoming is gewoonlik beter as behandeling.

Voorbeelde van algemene siektes is griep en virusinfeksies van die lugweë. Algemene dodelike siektes is kanker en kardiovaskulêre siektes; die dodelikste by mense is isgemiese hartsiekte (die belemmering van die bloedvloei na die hart), gevolg deur beroerte en chroniese obstruktiewe longsiekte.[3] In ontwikkelde lande veroorsaak neuropsigiatriese toestande soos depressie en angsversteuring die meeste siekte in die algemeen.

Gegewe die baie verskillende siektes is dit nie altyd moontlik om 'n duidelike onderskeid tussen siekte en gesondheid te tref nie. Daar is ook 'n kulturele sy, wat in die gewoontes en medikasie wat 'n samelewing gebruik bespeur kan word.

Die invloed van siektes is nie tot individue en hul onmiddellike omgewing beperk nie, maar het 'n groot rol in die geskiedenis van die mensdom gespeel. Volgens die historikus McNeill, selfs 'n sentrale rol.

Patologie is die studie waarbinne die verskillende stadia van siektes ondersoek word. So is etiologie die leer van die oorsake wat die ontwikkeling van siektes beskryf. Siektes word onder meer in oordraagbare en nie-oordraagbare siektes ingedeel, of volgens hul oorsaak, hul verloop of die liggaamstelsel wat hulle aantas.

Terminologie

[wysig | wysig bron]

Begrippe soos siekte, versteuring, morbiditeit en ongesteldheid word dikwels uitruilbaar gebruik, hoewel 'n bepaalde term in sommige situasies verkies word.[4]

By mense word siekte dikwels breër gebruik vir enige toestand wat by die persoon self, of by diegene wat met hom in aanraking kom, pyn, disfunksie, nood, maatskaplike probleme of die dood veroorsaak of kan veroorsaak. In dié breër sin sluit dit soms beserings, gestremdhede, versteurings, sindrome, infeksies, afsonderlike simptome, afwykende gedrag en atipiese variasies van struktuur en funksie in, terwyl dit in ander verbande as afsonderlike kategorieë beskou word. 'n Siekte raak mense nie net liggaamlik nie maar ook geestelik, aangesien dit iemand se lewensuitkyk kan verander om 'n siekte op te doen en daarmee saam te leef.

Die woord word ook dikwels spesifiek vir infeksiesiektes gebruik: kliniese siektes wat deur die teenwoordigheid van patogeniese mikrobes soos virusse, bakterieë, swamme, protosoë, meersellige organismes en abnormale proteïene bekend as prione veroorsaak word. 'n Infeksie of kolonisasie wat die normale funksionering nie klinies merkbaar aantas nie en ook nie sal aantas nie, soos die normale bakterieë en giste in die ingewande, word nie as 'n siekte beskou nie. Daarenteen word 'n infeksie wat gedurende die inkubasietydperk simptoomloos is, maar later simptome sal veroorsaak, gewoonlik wel as 'n siekte beskou.

Sommige outeurs onderskei tussen die siekte self, 'n toestand wat objektief bepaal kan word, en die pasiënt se persoonlike, subjektiewe ervaring daarvan.[5][6][7][8] Volgens dié model kan iemand 'n siekte hê sonder om siek te wees, byvoorbeeld met 'n simptoomlose subkliniese infeksie of 'n klinies sigbare gebrek wat hom nie pla nie, en siek wees sonder om 'n siekte te hê, soos wanneer 'n objektief gesonde persoon 'n normale ervaring as 'n mediese toestand vertolk. Die simptome van siekwees is dikwels nie die direkte gevolg van 'n infeksie nie, maar 'n versameling geëvolueerde reaksies van die liggaam, bekend as siektegedrag, wat help om die infeksie uit te roei en herstel te bevorder. Dit sluit lusteloosheid, neerslagtigheid, verlies aan eetlus, slaperigheid, hiperalgesie en konsentrasieprobleme in.[9][10][11]

Begrippe

[wysig | wysig bron]
Verworwe siekte
'n Siekte wat iewers in die loop van iemand se lewe ontstaan, teenoor 'n siekte wat reeds by geboorte teenwoordig is.
Aangebore siekte
'n Aangebore afwyking is reeds by geboorte teenwoordig. Dit is dikwels 'n genetiese siekte en kan oorgeërf word, maar kan ook die gevolg van 'n infeksie wees wat die moeder aan die kind oordra, soos MIV.
Genetiese siekte
'n Genetiese siekte word deur een of meer genetiese mutasies veroorsaak. Dit is dikwels oorerflik en kan dan in families voorkom, maar sommige mutasies ontstaan willekeurig en de novo.
Iatrogene siekte
'n Siekte of toestand wat deur mediese ingryping veroorsaak word, hetsy as 'n newe-effek van 'n behandeling of as 'n onbedoelde uitkoms.
Idiopatiese siekte
'n Siekte waarvan die oorsaak onbekend is. Soos die geneeskunde gevorder het, is van baie sulke siektes ten minste 'n deel van die oorsaak verklaar, sodat hulle nie meer idiopaties is nie. Dit is byvoorbeeld bekend dat outo-immuniteit sommige vorme van tipe 1-diabetes mellitus veroorsaak. Dit is ook algemeen dat sekere faktore met sekere siektes geassosieer word sonder dat hulle die siekte noodwendig veroorsaak; 'n derde faktor kan byvoorbeeld sowel die siekte as die geassosieerde verskynsel veroorsaak.
Ongeneeslike siekte
'n Siekte wat nie genees kan word nie. So 'n siekte is nie noodwendig terminaal nie, en soms kan die simptome so goed behandel word dat die siekte min of geen invloed op die pasiënt se lewensgehalte het.
Primêre en sekondêre siekte
'n Primêre siekte spruit uit 'n grondoorsaak van siekte voort; 'n sekondêre siekte is 'n nagevolg of komplikasie van 'n vroeëre, primêre siekte. 'n Verkoue is byvoorbeeld 'n primêre siekte, en rinitis 'n moontlike sekondêre siekte daarvan. 'n Dokter moet dus bepaal of die rinitis deur 'n verkoue of deur 'n bakteriële infeksie veroorsaak word voordat hy besluit of hy antibiotika voorskryf. Net so kan 'n primêre virusinfeksie die immuunstelsel verswak en tot 'n sekondêre bakteriële infeksie lei, of kan 'n brandwond 'n oop wond laat waardeur bakterieë die liggaam binnedring.
Versteuring
'n Funksionele abnormaliteit of steuring wat al dan nie bepaalde tekens en simptome toon. Mediese versteurings kan in geestesteurings, fisiese versteurings, genetiese versteurings, emosionele en gedragsversteurings en funksionele versteurings ingedeel word.[12] Die term word dikwels as meer waardeneutraal en minder stigmatiserend as siekte beskou en word daarom in sommige omstandighede verkies.[13] In die geestesgesondheid erken die term geestesteuring die komplekse wisselwerking tussen biologiese, sosiale en sielkundige faktore in psigiatriese toestande, maar die term word ook elders in die geneeskunde gebruik, veral vir fisiese versteurings wat nie deur aansteeklike organismes veroorsaak word nie, soos metaboliese versteurings.
Mediese toestand
'n Breë begrip wat alle siektes, letsels, versteurings en nie-patologiese toestande insluit wat gewoonlik mediese behandeling ontvang, soos swangerskap en geboorte. Soms sluit die term geestesongesteldhede uit: die Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesteurings (DSM) gebruik algemene mediese toestand vir alle siektes en beserings behalwe geestesteurings,[14] en sommige mediese versekeringspolisse omskryf 'n mediese toestand op dieselfde manier.[15] Omdat die term meer waardeneutraal as siekte is, verkies mense met gesondheidskwessies wat hulle nie as skadelik beskou nie, dit soms; omdat dit die mediese aard van die toestand beklemtoon, word dit egter ook verwerp, soos deur voorstanders van die outismeregtebeweging.
Morbiditeit
'n Siek toestand, gestremdheid of swak gesondheid weens enige oorsaak.[16] Die term kan na die bestaan van enige vorm van siekte verwys of na die mate waarin die toestand die pasiënt aantas; by ernstig siek pasiënte word die vlak van morbiditeit dikwels met puntestelsels vir intensiewe sorg gemeet. Komorbiditeit is die gelyktydige teenwoordigheid van twee of meer mediese toestande, soos skisofrenie en dwelmmisbruik. In die epidemiologie en die aktuariële wetenskap kan morbiditeit na die insidensie of prevalensie van 'n siekte verwys, of na die persentasie mense wat 'n toestand binne 'n bepaalde tyd kry, byvoorbeeld dat 20% van mense in 'n jaar griep kry.[17] Dit staan teenoor die sterftesyfer, die persentasie mense wat in 'n bepaalde tyd aan die toestand sterf. Versekeraars gebruik morbiditeitsyfers om te voorspel hoe waarskynlik dit is dat 'n versekerde 'n bepaalde siekte sal opdoen, en om hul premies te bepaal.
Sindroom
Die samehang van verskeie tekens en simptome of ander kenmerke wat dikwels saam voorkom, ongeag of die oorsaak bekend is. Sommige sindrome, soos Downsindroom, het net een bekende oorsaak (in dié geval 'n ekstra chromosoom by geboorte); ander, soos parkinsonisme, het verskeie moontlike oorsake. Akute koronêre sindroom is byvoorbeeld nie self 'n enkele siekte nie, maar die manifestasie van een van verskeie siektes, waaronder 'n hartaanval as gevolg van koronêre-arteriesiekte. By ander sindrome is die oorsaak onbekend. 'n Bekende sindroomnaam word dikwels steeds gebruik nadat die onderliggende oorsaak gevind is, soos by Turnersindroom en DiGeorge-sindroom.
Voorsiekte
'n Subkliniese of prodromale voorloper van 'n siekte; prediabetes en prehipertensie is algemene voorbeelde. Die nosologie van voorsiektes is omstrede, omdat daar selde 'n duidelike skeidslyn is tussen 'n regmatige kommer oor 'n subkliniese toestand en oormedikalisering wat deur belangebotsings gedryf word (byvoorbeeld deur farmaseutiese vervaardigers), of demedikalisering (byvoorbeeld deur mediese en gestremdheidsversekeraars). Om 'n regmatige voorsiekte te identifiseer, kan tot nuttige voorkomende maatreëls lei, soos om die persoon aan te moedig om genoeg te oefen,[18] maar om 'n gesonde persoon sonder grond as iemand met 'n voorsiekte te etiketteer, kan tot oorbehandeling lei, soos om medisyne te gebruik wat net mense met 'n ernstige siekte help. Volgens een oorsig maak voorsiekte as kategorie net sin as drie voorwaardes nagekom word: mense met die voorsiekte moet baie meer geneig wees om die siekte te ontwikkel as ander; daar moet 'n uitvoerbare ingryping wees wat die risiko verminder; en die voordele van die ingryping moet swaarder weeg as die skade daarvan.[19]

Soorte volgens liggaamstelsel

[wysig | wysig bron]

Geestesongesteldheid is 'n breë, algemene etiket vir 'n kategorie siektes wat affektiewe of emosionele onstabiliteit, ontwrigte gedrag en kognitiewe disfunksie of inperking kan insluit, soos ernstige depressie, algemene angsversteuring en skisofrenie. Dit kan 'n biologiese (anatomiese, chemiese of genetiese) of 'n sielkundige oorsprong (soos trauma of konflik) hê, en kan die persoon se vermoë om te werk of te studeer en sy verhoudings met ander benadeel.

'n Organiese siekte word deur 'n fisiese of fisiologiese verandering aan 'n weefsel of orgaan van die liggaam veroorsaak. Die term sluit soms infeksies uit en word gewoonlik teenoor geestesteurings gestel. Dit sluit emosionele en gedragsversteurings in as hulle deur veranderinge aan die liggaam se fisiese strukture of funksionering veroorsaak word, soos ná 'n beroerte of 'n traumatiese breinbesering, maar nie as hulle psigososiale oorsake het nie.

Stadiums

[wysig | wysig bron]

By 'n infeksiesiekte is die inkubasietydperk die tyd tussen die infeksie en die verskyning van simptome. Die latente tydperk is die tyd tussen die infeksie en die oomblik waarop die siekte na 'n ander persoon kan versprei; dit kan voor, ná of saam met die verskyning van simptome kom. Sommige virusse het ook 'n rustende fase, virale latensie, waarin die virus onaktief in die liggaam skuil. Die varicella-zostervirus veroorsaak byvoorbeeld waterpokkies in die akute fase; ná herstel kan die virus jare lank in senuweeselle sluimer en later gordelroos veroorsaak.

Akute siekte
'n Kortstondige siekte, soos verkoue.
Chroniese siekte
'n Chroniese siekte duur lank, gewoonlik minstens ses maande, en sluit siektes in wat na verwagting die res van iemand se lewe sal duur. Gedurende dié tyd kan dit voortdurend teenwoordig wees, of in remissie gaan en periodiek terugkeer. 'n Chroniese siekte kan stabiel of progressief wees: 'n stabiele siekte word nie erger nie, terwyl 'n progressiewe siekte mettertyd erger word. Sommige chroniese siektes kan permanent genees word, en die meeste kan nuttig behandel word, selfs al kan hulle nie permanent genees word nie.
Kliniese siekte
Die stadium van 'n siekte wat die kenmerkende tekens en simptome daarvan veroorsaak.[20] Vigs is byvoorbeeld die kliniese stadium van 'n MIV-infeksie.
Opvlamming
Die terugkeer van simptome of die aanvang van erger simptome.[21]
Progressiewe siekte
'n Siekte wat in sy gewone natuurlike verloop erger word totdat die dood, ernstige aftakeling of orgaanversaking intree. Stadig progressiewe siektes is ook chroniese siektes, en baie is ook degeneratiewe siektes. Die teenoorgestelde is 'n stabiele of statiese siekte: 'n mediese toestand wat bestaan, maar nie beter of erger word nie.
Refraktêre siekte
'n Siekte wat weerstand teen behandeling bied, veral 'n individuele geval wat meer weerstand bied as wat vir die betrokke siekte normaal is.
Subkliniese siekte
Ook bekend as 'n stil of simptoomlose siekte: 'n stadium van sommige siektes voordat die eerste simptome opgemerk word.[22]
Terminale siekte en terminale fase
'n Terminale siekte lei na verwagting onvermydelik tot die dood. Vigs was vroeër 'n terminale siekte; dit is steeds ongeneeslik, maar kan met medikasie onbepaald beheer word. As iemand binnekort aan 'n siekte gaan sterf, ongeag of die siekte gewoonlik dodelik is, is die stadium tussen die vroeëre siekteproses en die sterwe self die terminale fase.
Herstel
Die herstel van fisiese prosesse (weefsels, organe ensovoorts) en die hervatting van gesonde funksionering nadat die prosesse wat die skade veroorsaak het, genees is.

Omvang

[wysig | wysig bron]
Uitslag op die been
Dié uitslag raak net een deel van die liggaam en is dus 'n gelokaliseerde siekte.

'n Gelokaliseerde siekte raak net een deel van die liggaam, soos atleetvoet of 'n ooginfeksie. 'n Gedissemineerde siekte het na ander dele versprei; by kanker word dit gewoonlik 'n metastatiese siekte genoem. 'n Sistemiese siekte raak die hele liggaam, soos griep of hoë bloeddruk.

Klassifikasie

[wysig | wysig bron]

Siektes kan volgens hul oorsaak, hul patogenese (die meganisme waardeur die siekte ontstaan) of hul simptome ingedeel word. Hulle kan ook volgens die betrokke orgaanstelsel ingedeel word, hoewel dit dikwels ingewikkeld is omdat baie siektes meer as een orgaan aantas.

'n Hoofprobleem van die nosologie is dat siektes dikwels nie duidelik gedefinieer en ingedeel kan word nie, veral wanneer die oorsaak of patogenese onbekend is. Diagnostiese terme weerspieël daarom dikwels net 'n simptoom of 'n stel simptome, 'n sindroom.

Die klassieke indeling van menslike siektes berus op die waargenome verband tussen patologiese ontleding en kliniese sindrome. Waar die oorsaak van 'n siekte bekend is, word dit by voorkeur daarvolgens ingedeel.[23]

Die bekendste en mees gebruikte indeling van siektes is die Wêreldgesondheidsorganisasie se Internasionale Statistiese Klassifikasie van Siektes en Verwante Gesondheidsprobleme (ICD), wat periodiek hersien word; ICD-11 is die elfde hersiening.

Oorsake

[wysig | wysig bron]

Siektes kan deur talle faktore veroorsaak word en kan verworwe of aangebore wees. Mikroörganismes, genetika, die omgewing of 'n kombinasie daarvan kan tot 'n siektetoestand bydra.[24]

Infeksiesiektes, ook bekend as oordraagbare siektes, is kliniese siektes wat uit die infeksie, teenwoordigheid en groei van patogeniese biologiese agense in 'n individuele gasheerorganisme ontstaan.[25] Die patogene sluit bakterieë, virusse, protosoë en swamme in. Hulle kan byvoorbeeld deur hand-tot-mond-kontak met besmette materiaal op oppervlakke, deur die byt van insekte of ander draers en deur besmette water of kos oorgedra word, dikwels deur fekale besmetting.[26] 'n Luggedraagde siekte word deur patogene veroorsaak wat deur die lug oorgedra word;[27] voedselvergiftiging ontstaan wanneer iemand kos eet wat met patogeniese bakterieë, gifstowwe, virusse, prione of parasiete besmet is;[28] en daarnaas is daar seksueel oordraagbare siektes. Aansteeklike siektes, soos griep of verkoue, versprei gewoonlik van mens tot mens; ander oordraagbare siektes kan van een persoon na 'n ander versprei, maar nie noodwendig deur alledaagse kontak nie.

Wanneer 'n patogeniese organisme 'n siekte veroorsaak, soos wanneer malaria deur Plasmodium veroorsaak word, moet die patogeen nie met die siekte self verwar word nie: die Wes-Nylvirus (die patogeen) veroorsaak byvoorbeeld Wes-Nylkoors (die siekte). Sulke basiese definisies word dikwels in wetenskaplike publikasies verkeerd gebruik.[29]

Ander siektes, soos die meeste (maar nie alle) vorme van kanker, hartsiektes en geestesteurings, is nie infeksiesiektes nie. Nie-oordraagbare siektes kan nie direk van een persoon na 'n ander versprei nie;[30] hartsiektes en kanker is voorbeelde daarvan by mense.[31] Baie het 'n gedeeltelik of geheel genetiese grondslag en kan dus van een geslag na die volgende oorgedra word. Ander kan met goeie voeding of ander leefstylveranderinge voorkom of verlig word. 'n Leefstylsiekte is enige siekte wat al hoe meer voorkom namate lande meer geïndustrialiseer raak en mense langer leef, veral as die risikofaktore gedragskeuses soos 'n sittende leefstyl of 'n dieet ryk aan geraffineerde koolhidrate, transvette of alkoholiese drankies insluit.[32] Kanker kom byvoorbeeld baie meer voor in samelewings waarin die meeste mense 80 jaar oud word as in samelewings waarin die meeste voor die ouderdom van 50 sterf.

Die sosiale determinante van gesondheid is die maatskaplike omstandighede waarin mense leef en wat hul gesondheid bepaal; siektes hang oor die algemeen met maatskaplike, ekonomiese, politieke en omgewingsomstandighede saam.[33] Verskeie gesondheidsorganisasies, soos die Kanadese openbare gesondheidsagentskap en die WGO, erken dat hulle 'n groot invloed op kollektiewe en persoonlike welstand het. Klimaatsverandering kan die oordrag en las van sommige infeksiesiektes vererger.[34]

Voorkoming

[wysig | wysig bron]

Baie siektes en versteurings kan op verskeie maniere voorkom word, onder meer deur sanitasie, goeie voeding, genoeg oefening, inentings, selfsorg en maatreëls vir openbare gesondheid, soos die dra van materiaalmaskers.[35] Voorkomende gesondheidsorg probeer 'n besering of siekte in die eerste plek vermy, terwyl 'n behandeling toegepas word nadat 'n mediese probleem reeds begin het.

Behandeling

[wysig | wysig bron]

Mediese terapieë of behandelings is pogings om 'n siekte of ander gesondheidsprobleem te genees of te verbeter. By sielkundiges kan terapie spesifiek na psigoterapie verwys. Algemene behandelings sluit medikasie, chirurgie, mediese toestelle en selfsorg in. Dit kan deur 'n georganiseerde gesondheidsorgstelsel of informeel deur die pasiënt of sy familie verskaf word.

'n Behandeling probeer 'n probleem verbeter of verwyder, maar lei nie altyd tot permanente genesing nie, veral by chroniese siektes. 'n Genesing is die einde van 'n mediese toestand, of 'n behandeling wat dit baie waarskynlik sal beëindig; remissie is die verdwyning van simptome, moontlik net tydelik, en volkome remissie is die beste moontlike uitkoms by ongeneeslike siektes. Baie siektes wat nie heeltemal genees kan word nie, is steeds behandelbaar. Pynbestuur is die tak van die geneeskunde wat interdissiplinêr te werk gaan om pyn te verlig en die lewensgehalte van mense met pyn te verbeter.[36] Mediese noodgevalle moet dadelik behandel word, dikwels in 'n ongevalle-afdeling of, in minder kritieke gevalle, by 'n dringende-sorgfasiliteit.

Epidemiologie

[wysig | wysig bron]

Epidemiologie is die studie van die faktore wat siektes veroorsaak of bevorder. Sommige siektes kom meer in sekere geografiese gebiede voor, by mense met sekere genetiese of sosio-ekonomiese eienskappe, of op sekere tye van die jaar.

Die epidemiologie geld as 'n hoeksteen van navorsing oor openbare gesondheid en word in die bewysgebaseerde medisyne hoog aangeslaan om risikofaktore vir siektes te identifiseer. Epidemioloë se werk strek van die ondersoek van uitbrekings tot studieontwerp, data-insameling en -ontleding, insluitend statistiese modelle om hipoteses te toets, en die publikasie van resultate in eweknie-beoordeelde vaktydskrifte. Hulle bestudeer ook die wisselwerking tussen siektes in 'n bevolking, wat 'n sindemie genoem word. Hulle steun op ander dissiplines: die biologie om siekteprosesse beter te verstaan, die biostatistiek, geografiese inligtingswetenskap om data te stoor en siektepatrone te karteer, en die sosiale wetenskappe om nabye en verwyderde risikofaktore beter te verstaan. Die epidemiologie kan help om oorsake te identifiseer en voorkoming te rig.

Die epidemiologie staan voor die uitdaging om siektes te definieer. Veral by siektes wat swak verstaan word, gebruik verskillende groepe soms aansienlik verskillende definisies, en sonder 'n ooreengekome definisie kan navorsers verskillende getalle gevalle en kenmerke van die siekte rapporteer.[37]

Sommige morbiditeitsdatabasisse word uit data van gesondheidsowerhede op nasionale vlak saamgestel,[38][39] ander op groter skaal, soos die Europese databasis vir hospitaalmorbiditeit (HMDB), waarvoor Europese lande data aan die WGO se streekkantoor vir Europa voorlê.[40] Hulle kan hospitaalontslagdata volgens gedetailleerde diagnose, ouderdom en geslag bevat.

Siektelas

[wysig | wysig bron]

Siektelas is die impak van 'n gesondheidsprobleem in 'n gebied, gemeet aan finansiële koste, sterftes, morbiditeit of ander aanwysers.

Verskeie maatstawwe word gebruik om dié las te kwantifiseer. Die verlore jare potensiële lewe (YPLL) is 'n eenvoudige skatting van die aantal jare waarmee 'n siekte iemand se lewe verkort het. As iemand op 65 aan 'n siekte sterf en sonder dié siekte waarskynlik 80 geword het, het die siekte 15 jaar potensiële lewe gekos. Die maatstaf hou nie rekening met hoe gestremd iemand voor sy dood was nie, en behandel iemand wat skielik sterf en iemand wat ná dekades van siekte op dieselfde ouderdom sterf, as gelyk. In 2004 het die WGO bereken dat 932 miljoen jaar potensiële lewe aan voortydige sterftes verlore gegaan het.[41]

Die gehalte-aangepaste lewensjaar (QALY) en die gestremdheid-aangepaste lewensjaar (DALY) is soortgelyk, maar tel ook 'n deel van die jare wat aan siekte verlore gaan. Anders as YPLL toon hulle die las van mense wat baie siek is, maar 'n normale lewensduur het: 'n siekte met hoë morbiditeit maar lae sterfte het 'n hoë DALY en 'n lae YPLL. In 2004 het die WGO bereken dat 1,5 miljard DALY's aan siekte en besering verlore gegaan het.[41] In die ontwikkelde wêreld kos hartsiektes en beroerte die meeste lewensjare, maar neuropsigiatriese toestande soos ernstige depressie die meeste jare aan siekte.

Persentasie van alle verlore YPLL's en DALY's, 2004[41]
Siektekategorie YPLL, wêreldwyd DALY, wêreldwyd YPLL, Europa DALY, Europa YPLL, VSA en Kanada DALY, VSA en Kanada
Infeksie- en parasitiese siektes, veral laer lugweginfeksies, diarree, vigs, tuberkulose en malaria 37% 26% 9% 6% 5% 3%
Neuropsigiatriese toestande, soos depressie 2% 13% 3% 19% 5% 28%
Beserings, veral motorongelukke 14% 12% 18% 13% 18% 10%
Hartbloedvatsiektes, hoofsaaklik hartaanvalle en beroerte 14% 10% 35% 23% 26% 14%
Vroeggeboorte en ander perinatale sterftes 11% 8% 4% 2% 3% 2%
Kanker 8% 5% 19% 11% 25% 13%

Samelewing en kultuur

[wysig | wysig bron]
Vetsug was in die Renaissance 'n statussimbool: die Toskaanse generaal Alessandro del Borro, wat aan Andrea Sacchi toegeskryf word, 1645.[42] Dit word oor die algemeen as 'n siekte beskou.

Hoe 'n samelewing op siektes reageer, is die onderwerp van die mediese sosiologie.

'n Toestand kan in sommige kulture of tydperke as 'n siekte beskou word, maar nie in ander nie. Vetsug is byvoorbeeld met voorspoed en oorvloed geassosieer, en dié persepsie bestaan steeds in baie Afrika-streke, veral sedert die begin van die MIV/vigs-epidemie.[43] Epilepsie word onder die Hmong as 'n teken van geestelike gawes beskou.[44]

Siekte verleen maatskaplike legitimiteit aan sekere voordele, soos siektevoordele, vrystelling van werk en versorging deur ander. Die siek persoon neem 'n maatskaplike rol aan wat die siekterol genoem word. Iemand wat op 'n kultureel aanvaarbare manier op 'n gevreesde siekte soos kanker reageer, kan in die openbaar en privaat met 'n hoër maatskaplike status vereer word.[45] In ruil vir dié voordele is die siek persoon verplig om behandeling te soek en daaraan te werk om weer gesond te word. Ter vergelyking word swangerskap nie as 'n siekte vertolk nie, al kan die moeder en baba albei by mediese sorg baat.

Die meeste godsdienste stel siek mense van godsdienstige pligte vry. Iemand wie se lewe deur vas op Jom Kippoer of gedurende die maand Ramadan in gevaar gestel sou word, word van die vereiste vrygestel of selfs verbied om deel te neem.[46][47] Siek mense word ook van maatskaplike pligte vrygestel.

Mense met melaatsheid is histories vermy omdat hulle 'n aansteeklike siekte gehad het, en die siekte dra steeds 'n sosiale stigma. Vrees vir siektes kan steeds 'n wydverspreide maatskaplike verskynsel wees, hoewel nie alle siektes 'n uiterste stigma dra nie.

Maatskaplike stand en ekonomiese status beïnvloed gesondheid. Armoedesiektes hang met armoede en lae maatskaplike status saam, en welvaartsiektes met hoë maatskaplike en ekonomiese status. Watter siektes met watter stand saamhang, wissel volgens tyd, plek en tegnologie. Sommige siektes, soos diabetes mellitus, kan deur verskillende meganismes met sowel armoede (swak voedselkeuses) as welvaart (lang lewensduur en 'n sittende leefstyl) saamhang.

Taal van siekte

[wysig | wysig bron]

'n Siektenarratief orden 'n mediese ervaring tot 'n samehangende verhaal wat die siek persoon se persoonlike ervaring illustreer.

Mense gebruik metafore om sin te maak van hul ervarings met siekte. Die metafore maak van siekte 'n affektiewe ervaring eerder as 'n objektiewe ding wat bestaan. Die gewildste metafore put uit militêre begrippe: die siekte is 'n vyand wat gevrees, beveg en verslaan moet word, en die pasiënt of gesondheidswerker is 'n vegter eerder as 'n passiewe slagoffer of toeskouer. Die veroorsakers van oordraagbare siektes is indringers, terwyl nie-oordraagbare siektes 'n interne opstand of burgeroorlog vorm. Omdat die bedreiging dringend is, miskien 'n saak van lewe en dood, word radikale en selfs onderdrukkende maatreëls die morele plig van die samelewing en die pasiënt. Die "oorlog teen kanker" is 'n voorbeeld van dié metaforiese taalgebruik.[48] Dié taal bemagtig sommige pasiënte, maar laat ander voel dat hulle misluk het.[49]

'n Ander soort metafoor beskryf siekte as 'n reis: die persoon reis na of van 'n plek van siekte, en verander, ontdek nuwe dinge of doen langs die pad ervaring op. Hy is "op pad na herstel" of kies 'n bepaalde "weg".[48][49] Sommige metafore het 'n immigrasietema: die pasiënt is uit die tuisland van gesondheid na die land van die siekes verban, en sy identiteit en verhoudings verander in die proses.[50] Britse gesondheidswerkers gebruik dié taal meer as die taal van fisieke aggressie.[49]

Sommige metafore is siektespesifiek. Slawerny is 'n algemene metafoor vir verslawing: die alkoholis is 'n slaaf van drank, en die roker 'n gevangene van nikotien. Sommige kankerpasiënte beskou die verlies van hul hare deur chemoterapie as 'n metonimie of metafoor vir alles wat die siekte hulle ontneem het.[48]

Sommige siektes word self as metafore vir maatskaplike euwels gebruik. "Kanker" is 'n algemene beskrywing van enigiets wat endemies en vernietigend in die samelewing is, soos armoede, onreg of rassisme. Vigs is as 'n goddelike oordeel oor morele verval gesien, en die samelewing kon volgens dié siening net weer gesond word deur hom van die "besoedeling" van die "indringer" te suiwer.[48] Toe vigs later minder bedreigend gelyk het, is dieselfde emosionele taal op voëlgriep en tipe 2-diabetes toegepas.[51]

Wanneer die oorsaak van 'n siekte swak verstaan word, is samelewings geneig om die siekte te mitologiseer of dit as metafoor of simbool te gebruik vir wat die kultuur ook al as boos beskou. Tot die bakteriële oorsaak van tuberkulose in 1882 ontdek is, het kenners die siekte onder meer aan oorerwing, 'n sittende leefstyl, neerslagtigheid en oormatige seks, ryk kos of alkohol toegeskryf, wat destyds almal as maatskaplike euwels gegeld het.[52] Skrywers in die 19de eeu het tuberkulose algemeen as simbool en metafoor van transendensie gebruik: in die letterkunde het mense met die siekte bo die alledaagse lewe uitgestyg en vlugtige toonbeelde van geestelike of artistieke prestasie geword. In die 20ste eeu, toe die oorsaak beter verstaan is, het dieselfde siekte die embleem van armoede, vuilheid en ander maatskaplike probleme geword.[50]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. ↑ Disease by Dorland's Medical Dictionary
  2. ↑ "Regents Prep: Living Environment: Homeostasis: Introduction". Oswego City School District Regents Exam Prep Center. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Oktober 2012. Besoek op 12 November 2012.
  3. ↑ "The top 10 causes of death". WHO. 24 Augustus 2024. Besoek op 23 Januarie 2026.
  4. ↑ "Mental Illness – Glossary". The Science of Mental Illness. US National Institute of Mental Health. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Mei 2010. Besoek op 18 April 2010.
  5. ↑ "illness". Dorland's Medical Dictionary for Health Consumers. Elsevier. 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 November 2017. Besoek op 6 November 2017 – via Medical Dictionary - The Free Dictionary.
  6. ↑ sickness by Dorland's Medical Dictionary
  7. ↑ Emson HE (April 1987). "Health, disease and illness: matters for definition". CMAJ. 136 (8): 811-13. PMC 1492114. PMID 3567788.
  8. ↑ McWhinney IR (April 1987). "Health and disease: problems of definition". CMAJ. 136 (8): 815. PMC 1492121. PMID 3567791.
  9. ↑ Hart BL (1988). "Biological basis of the behavior of sick animals". Neurosci Biobehav Rev. 12 (2): 123-37. doi:10.1016/S0149-7634(88)80004-6. ISSN 0149-7634. PMID 3050629. S2CID 17797005.
  10. ↑ Johnson R (2002). "The concept of sickness behavior: a brief chronological account of four key discoveries". Veterinary Immunology and Immunopathology. 87 (3-4): 443-50. doi:10.1016/S0165-2427(02)00069-7. PMID 12072271.
  11. ↑ Kelley KW, Bluthe RM, Dantzer R, Zhou JH, Shen WH, Johnson RW, Broussard SR (2003). "Cytokine-induced sickness behavior". Brain Behav Immun. 17 (Suppl 1): S112-18. doi:10.1016/S0889-1591(02)00077-6. PMID 12615196. S2CID 25400611.
  12. ↑ "Disorder". www.cancer.gov (in Engels). National Cancer Institute. Besoek op 23 April 2024.
  13. ↑ Sefton, Phil (21 November 2011). "Condition, Disease, Disorder". AMA Style Insider. American Medical Association. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Augustus 2019. Besoek op 20 Augustus 2019.
  14. ↑ American Psychiatric Association Task Force on DSM-IV (2000). Diagnostic and statistical manual of mental disorders (4de uitg.). Washington, DC: American Psychiatric Association. ISBN 978-0-89042-025-6.
  15. ↑ "Expat Insurance Glossary by The Insurance Page". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Oktober 2008. Besoek op 20 November 2008.
  16. ↑ "morbidity". Dorland's Medical Dictionary for Health Consumers. Elsevier. 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 November 2017. Besoek op 6 November 2017 – via medical-dictionary.thefreedictionary.com.
  17. ↑ Kirch, Wilhelm (13 Junie 2008). Encyclopedia of Public Health: Volume 1: A – H Volume 2: I – Z (in Engels). Springer Science & Business Media. p. 966. ISBN 978-1-4020-5613-0. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 April 2023. Besoek op 3 Januarie 2023.
  18. ↑ Lenzer, Jeanne (14 Augustus 2012). "Blood pressure drugs for mild hypertension: Not proven to prevent heart attacks, strokes, or early death". Slate. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Augustus 2012. Besoek op 16 Augustus 2012.
  19. ↑ Viera, Anthony J. (2011). "Predisease: when does it make sense?". Epidemiologic Reviews. 33 (1): 122-34. doi:10.1093/epirev/mxr002. PMID 21624963. S2CID 12090327. When the goal of preventing adverse health outcomes is kept in mind, this review poses the idea that "predisease" as a category on which to act makes sense only if the following 3 conditions are met. First, the people designated as having predisease must be far more likely to develop the disease than those not so designated. Second, there must be a feasible intervention that, when targeted to people with predisease, effectively reduces the likelihood of developing the disease. Third, the benefits of intervening on predisease must outweigh the harms in the population.
  20. ↑ "clinical disease". Mosby's Medical Dictionary (9de uitg.). Elsevier. 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Junie 2017. Besoek op 6 November 2017 – via medical-dictionary.thefreedictionary.com. a stage in the history of a pathological condition that begins with anatomical or physiological changes that are sufficient to produce recognizable signs and symptoms of a disease
  21. ↑ Shiel, William C. Jr. (20 Junie 2019). "Definition of Flare". MedicineNet. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Januarie 2020. Besoek op 21 Desember 2019.
  22. ↑ "definition of subclinical". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 September 2017. Besoek op 6 November 2017 – via The Free Dictionary.
  23. ↑ Loscalzo, Joseph; Kohane, Isaac; Barabasi, Albert-Laszlo (2007). "Human disease classification in the postgenomic era: A complex systems approach to human pathobiology". Molecular Systems Biology (in Engels). 3 (124): 124. doi:10.1038/msb4100163. ISSN 1744-4292. PMC 1948102. PMID 17625512.
  24. ↑ "Human disease – Pathogenesis, Etiology, Resistance, and Immunity | Britannica". britannica.com (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Mei 2023. Besoek op 25 Mei 2023.
  25. ↑ van Seventer, Jean Maguire; Hochberg, Natasha S. (2017). "Principles of Infectious Diseases: Transmission, Diagnosis, Prevention, and Control". International Encyclopedia of Public Health (in Engels). Elsevier. pp. 22-39. doi:10.1016/b978-0-12-803678-5.00516-6. ISBN 978-0-12-803708-9. PMC 7150340.
  26. ↑ Knappett, Peter S.K.; Escamilla, Veronica; Layton, Alice; McKay, Larry D.; Emch, Michael; Williams, Daniel E.; Huq, R.; Alam, J.; Farhana, Labony; Mailloux, Brian J.; Ferguson, Andy; Sayler, Gary S.; Ahmed, Kazi M.; van Geen, Alexander (1 Augustus 2011). "Impact of population and latrines on fecal contamination of ponds in rural Bangladesh". Science of the Total Environment (in Engels). 409 (17): 3174-3182. Bibcode:2011ScTEn.409.3174K. doi:10.1016/j.scitotenv.2011.04.043. PMC 3150537. PMID 21632095.
  27. ↑ "Disease information". World Health Organization (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Julie 2020. Besoek op 14 Februarie 2024.
  28. ↑ Mead, Paul S.; Slutsker, Laurence; Dietz, Vance; McCaig, Linda F.; Bresee, Joseph S.; Shapiro, Craig; Griffin, Patricia M.; Tauxe, Robert V. (Oktober 1999). "Food-Related Illness and Death in the United States". Emerging Infectious Diseases. 5 (5). CDC: 607-625. doi:10.3201/eid0505.990502. ISSN 1080-6040. PMC 2627714. PMID 10511517.
  29. ↑ Marcantonio, Matteo; Pascoe, Emily; Baldacchino, Frederic (Januarie 2017). "Sometimes Scientists Get the Flu. Wrong...!". Trends in Parasitology. 33 (1): 7-9. doi:10.1016/j.pt.2016.10.005. PMID 27856180.
  30. ↑ "Non-communicable diseases". IFRC. 17 Februarie 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Mei 2024.
  31. ↑ "Non communicable diseases". World Health Organization (in Engels). 16 September 2023. Besoek op 14 Februarie 2024.
  32. ↑ Al-Maskari, Fatma. "Lifestyle Diseases: An Economic Burden on the Health Services". UN Chronicle (in Engels). United Nations. Besoek op 14 Februarie 2024.
  33. ↑ "Social determinants of health". www.who.int (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 November 2022. Besoek op 25 Mei 2023.
  34. ↑ Van de Vuurst, Paige; Escobar, Luis E. (16 Mei 2023). "Climate change and infectious disease: a review of evidence and research trends". Infectious Diseases of Poverty. 12 (1): 51. doi:10.1186/s40249-023-01102-2. ISSN 2049-9957. PMC 10186327. PMID 37194092.
  35. ↑ "COVID-19: examining the effectiveness of non-pharmaceutical interventions" (PDF). The Royal Society. 2023.
  36. ↑ Hardy, Paul A.; Hardy, Paul A. J. (1997). Chronic Pain Management: The Essentials. Cambridge University Press. p. 10. ISBN 978-1-900151-85-6. OCLC 36881282. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Oktober 2015.
  37. ↑ Tuller, David (4 Maart 2011). "Defining an illness is fodder for debate". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Januarie 2017.
  38. ↑ "National Hospital Morbidity Database". aihw.gov.au. Australian Institute of Health and Welfare. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Augustus 2013. Besoek op 11 Julie 2013.
  39. ↑ "Hospital Morbidity Database (HMDB)". statcan.gc.ca. Statistics Canada. 24 Oktober 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Junie 2016. Besoek op 21 September 2015.
  40. ↑ "European Hospital Morbidity Database". who.int. World Health Organization. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 September 2013.
  41. 1 2 3 "Disease and injury regional estimates for 2004". who.int. World Health Organization. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Desember 2010. Standaard-DALY's (3% afslag, ouderdomsgewigte). Sien ook die DALY-sigblad en die YLL-sigblad.
  42. ↑ Gerten-Jackson, Carol. "The Tuscan General Alessandro del Borro". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Mei 2009.
  43. ↑ Haslam DW, James WP (2005). "Obesity". Lancet. 366 (9492): 1197-209. Bibcode:2005Lanc..366.1197H. doi:10.1016/S0140-6736(05)67483-1. PMID 16198769. S2CID 208791491.
  44. ↑ Fadiman, Anne (1997). The spirit catches you and you fall down: a Hmong child, her American doctors, and the collision of two cultures. New York: Farrar, Straus, and Giroux. ISBN 978-0-374-52564-4.
  45. ↑ Sulik, Gayle (2010). Pink Ribbon Blues: How Breast Cancer Culture Undermines Women's Health. New York: Oxford University Press. ISBN 978-0-19-974045-1.
  46. ↑ Gupta, Nikita; Gusdorf, Jason (13 Julie 2023). "Guidance for Physicians on the Yom Kippur Fast". Georgetown Medical Review (in Engels). 7 (1). doi:10.52504/001c.83342. ISSN 2689-095X.
  47. ↑ Rashed, A. H. (29 Februarie 1992). "The fast of Ramadan". BMJ (in Engels). 304 (6826): 521-522. doi:10.1136/bmj.304.6826.521. ISSN 0959-8138. PMC 1881417. PMID 1559053.
  48. 1 2 3 4 Gwyn, Richard (1999). "10". In Cameron, Lynne; Low, Graham (reds.). Researching and applying metaphor. Cambridge, England: Cambridge University Press. ISBN 978-0-521-64964-3. OCLC 40881885.
  49. 1 2 3 Span, Paula (22 April 2014). "Fighting Words Are Rarer Among British Doctors". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Junie 2021.
  50. 1 2 Diedrich, Lisa (2007). Treatments: language, politics, and the culture of illness. Minneapolis: University of Minnesota Press. pp. 8, 29. ISBN 978-0-8166-4697-5. OCLC 601862594.
  51. ↑ Hanne M, Hawken SJ (Desember 2007). "Metaphors for illness in contemporary media". Med Humanit. 33 (2): 93-99. doi:10.1136/jmh.2006.000253. PMID 23674429. S2CID 207000141.
  52. ↑ Olson, James Stuart (2002). Bathsheba's breast: women, cancer & history. Baltimore: The Johns Hopkins University Press. pp. 168-70. ISBN 978-0-8018-6936-5.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]