Gaan na inhoud

Oppervlakte

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Oppervlakte of area is die maat van die grootte van 'n gebied op 'n oppervlak. Die oppervlakte van 'n gebied in die platvlak word soms die vlakoppervlakte genoem, terwyl oppervlakarea na die oppervlakte van 'n oop oppervlak of van die grens van 'n driedimensionele voorwerp verwys. Oppervlakte kan verstaan word as die hoeveelheid materiaal van 'n gegewe dikte wat nodig sou wees om 'n model van die vorm te maak, of as die hoeveelheid verf wat nodig is om die oppervlak met een laag te bedek. Dit is die tweedimensionele eweknie van die lengte van 'n kromme – 'n eendimensionele begrip – en van die volume van 'n vaste liggaam, wat driedimensioneel is.[1]

Die oppervlakte van 'n vorm kan gemeet word deur die vorm met vierkante van 'n vaste grootte te vergelyk. In die Internasionale Stelsel van Eenhede is die standaardeenheid van oppervlakte die vierkante meter, die oppervlakte van 'n vierkant waarvan die sye een meter lank is. In die wiskunde word die eenheidsvierkant per definisie 'n oppervlakte van een gegee, en die oppervlakte van enige ander vorm of oppervlak is dan 'n dimensielose reële getal.[1]

Daar bestaan verskeie bekende formules vir die oppervlaktes van eenvoudige vorme soos driehoeke, reghoeke en sirkels. Met dié formules kan die oppervlakte van enige veelhoek bepaal word deur die veelhoek in driehoeke te verdeel. Vir vorme met geboë grense is die calculus gewoonlik nodig om die oppervlakte te bereken, en die probleem om die oppervlaktes van plat figure te bepaal, was inderwaarheid een van die belangrikste dryfkragte agter die historiese ontwikkeling van die calculus.[2]

Twee verskillende gebiede kan dieselfde oppervlakte hê, en die woord "oppervlakte" word soms self vir die gebied gebruik eerder as vir sy grootte.[1] Die oppervlakte, simbool A, dui die grootte van 'n tweedimensionele gebied aan. Die term oppervlakte word ook dikwels gebruik om die grootte van 'n stuk grond ('n plaas, erf of 'n land) aan te dui.

Die term oppervlakarea verwys na die totale oppervlakte van die ontblote oppervlaktes van 'n driedimensionele ruimteliggaam, soos die som van die oppervlaktes van die sye van 'n poliëder (veelvlak).

Formele definisie

[wysig | wysig bron]

Een benadering om te bepaal wat met "oppervlakte" bedoel word, is deur middel van aksiomas. Oppervlakte kan gedefinieer word as 'n funksie a vanaf 'n versameling M van besondere soorte plat figure – die sogenaamde meetbare versamelings – na die versameling reële getalle, wat aan die volgende eienskappe voldoen:

  • Vir alle S in M geld a(S) ≥ 0.
  • Indien S en T in M is, is S ∪ T en S ∩ T ook daarin, en geld a(S ∪ T) = a(S) + a(T) − a(S ∩ T).
  • Indien S en T in M is met S ⊆ T, is T − S in M en geld a(T − S) = a(T) − a(S).
  • Indien 'n versameling S in M is en S kongruent aan T is, is T ook in M en geld a(S) = a(T).
  • Elke reghoek R is in M. Indien die reghoek lengte h en breedte k het, is a(R) = hk.
  • Laat Q 'n versameling wees wat tussen twee trapgebiede S en T ingesluit is, met S ⊆ Q ⊆ T, waar 'n trapgebied uit 'n eindige vereniging van aangrensende reghoeke op 'n gemeenskaplike basis bestaan. Indien daar 'n unieke getal c is sodat a(S) ≤ c ≤ a(T) vir alle sulke trapgebiede S en T, dan is a(Q) = c.

Daar kan bewys word dat so 'n oppervlaktefunksie wel bestaan.[3]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die oppervlakte van 'n sirkel

[wysig | wysig bron]

In die 5de eeu v.C. was Hippokrates van Chios die eerste wat aangetoon het dat die oppervlakte van 'n skyf – die gebied wat deur 'n sirkel ingesluit word – proporsioneel is aan die kwadraat van sy deursnee, as deel van sy kwadratuur van die maantjie van Hippokrates; hy het egter nie die proporsionaliteitskonstante bepaal nie. Eudoxus van Knidos het, ook in die 5de eeu v.C., bevind dat die oppervlakte van 'n skyf proporsioneel is aan die kwadraat van sy radius.[4]

Boek I van Euklides se Elemente het daarna oor die gelykheid van oppervlaktes tussen tweedimensionele figure gehandel. Die wiskundige Archimedes het die hulpmiddels van die Euklidiese meetkunde gebruik om in sy werk Die meting van 'n sirkel te bewys dat die oppervlakte binne 'n sirkel gelyk is aan dié van 'n reghoekige driehoek waarvan die basis die lengte van die sirkel se omtrek het en waarvan die hoogte gelyk is aan die sirkel se radius. Aangesien die omtrek 2πr is en die oppervlakte van 'n driehoek die helfte van die basis maal die hoogte, lewer dit die oppervlakte πr² vir die skyf. Archimedes het die waarde van π benader met sy verdubbelingsmetode, waarin hy 'n reëlmatige driehoek in 'n sirkel ingeskryf het en die oppervlakte daarvan bepaal het, en toe die aantal sye herhaaldelik verdubbel het sodat die veelhoek se oppervlakte al nader aan dié van die sirkel gekom het.[4]

Vierhoeke en veelhoeke

[wysig | wysig bron]

In die 7de eeu n.C. het Brahmagupta 'n formule ontwikkel – vandag bekend as Brahmagupta se formule – vir die oppervlakte van 'n sikliese vierhoek, dus 'n vierhoek wat in 'n sirkel ingeskryf is, in terme van sy sye. In 1842 het die Duitse wiskundiges Carl Anton Bretschneider en Karl Georg Christian von Staudt onafhanklik van mekaar 'n formule gevind vir die oppervlakte van enige vierhoek.[4]

Die ontwikkeling van Cartesiese koördinate deur René Descartes in die 17de eeu het Gauss in die 19de eeu in staat gestel om die landmetersformule vir die oppervlakte van enige veelhoek met bekende hoekpunte te ontwikkel.[1]

Oppervlaktes met die calculus bepaal

[wysig | wysig bron]

Die ontwikkeling van die integraalrekening in die laat 17de eeu het hulpmiddels verskaf waarmee ingewikkelder oppervlaktes bereken kon word, soos die oppervlakte van 'n ellips en die oppervlakareas van verskeie geboë driedimensionele voorwerpe.[2]

Eenhede

[wysig | wysig bron]

Die SI-eenheid van oppervlakte is die vierkante meter, m2. Dit is 'n afgeleide eenheid van die SI-eenheid meter. (Vir 'n lys van SI-eenhede sien SI-stelsel.)

Elke lengte-eenheid het 'n ooreenstemmende oppervlakte-eenheid, naamlik die oppervlakte van 'n vierkant met daardie sylengte. Oppervlaktes kan dus in vierkante meter (m²), vierkante sentimeter (cm²), vierkante millimeter (mm²), vierkante kilometer (km²), vierkante voet, vierkante jaart, vierkante myl en so meer gemeet word. Algebraïes kan dié eenhede as die kwadrate van die ooreenstemmende lengte-eenhede beskou word.[1]

Omskakelings

[wysig | wysig bron]

Omdat oppervlakte die produk van twee lengtes is, is die omskakelingsfaktor tussen twee oppervlakte-eenhede die kwadraat van die faktor tussen die ooreenstemmende lengte-eenhede. Hoewel daar 10 mm in 1 cm is, is daar dus 100 mm² in 1 cm². Nuttige omskakelings in die metrieke stelsel is:

  • 1 vierkante kilometer = 1 000 000 vierkante meter;
  • 1 vierkante meter = 10 000 vierkante sentimeter = 1 000 000 vierkante millimeter;
  • 1 vierkante sentimeter = 100 vierkante millimeter.

Dieselfde beginsel geld vir nie-metrieke eenhede. Aangesien 1 voet = 12 duim, is 1 vierkante voet = 144 vierkante duim, waar 144 = 12². Net so is 1 vierkante jaart = 9 vierkante voet en 1 vierkante myl = 3 097 600 vierkante jaart of 27 878 400 vierkante voet. Verdere omskakelingsfaktore is:

  • 1 vierkante duim = 6,4516 vierkante sentimeter;
  • 1 vierkante voet = 0,092 903 04 vierkante meter;
  • 1 vierkante jaart = 0,836 127 36 vierkante meter;
  • 1 vierkante myl = 2,589 988 110 336 vierkante kilometer.[1]

Ander eenhede, ook historiese

[wysig | wysig bron]

Die aar was die oorspronklike oppervlakte-eenheid van die metrieke stelsel, met 1 aar = 100 vierkante meter. Hoewel die aar in onbruik geraak het, word die hektaar steeds algemeen gebruik om grond te meet: 1 hektaar = 100 aar = 10 000 vierkante meter = 0,01 vierkante kilometer. Die akker word ook algemeen vir grondoppervlaktes gebruik, met 1 akker = 4 840 vierkante jaart of 43 560 vierkante voet; 'n akker is ongeveer 40 % van 'n hektaar.[1]

Op atoomskaal word oppervlakte in barn gemeet, met 1 barn = 10−28 vierkante meter. Die barn word algemeen gebruik om die deursnee-oppervlakte van wisselwerking in die kernfisika te beskryf.[1]

In Suid-Afrika was die morg histories die belangrikste eenheid vir grondoppervlakte, en dit word steeds in ouer aktes en opmetings aangetref. Die Kaapse (Rynlandse) stelsel het op die Kaapse voet berus: 144 Kaapse vierkante voet maak 'n Kaapse vierkante roede, en 600 Kaapse vierkante roede 'n morg, wat op sowat 0,856 532 hektaar neerkom. Met die oorskakeling na die metrieke stelsel is die oppervlaktes in aktes na vierkante meter en hektaar omgereken.[5]

Eenhede vir die meet van oppervlak area sluit in:
Metries VS & Britse eenhede Kaapse eenhede[6]
vierkante meter (m2) = SI afgeleide eenheidvierkante voet = 144 vierkante duim = 0,092 903 04 vierkante meter (m2)Kaapse vierkante voet = 0,099136 vierkante meter (m2) = 1,067089 vierkante voet (VK/VS)
aar (a) = 100 vierkante meter (m2)vierkante jaart = 9 vierkante voet = 0,836 127 36 vierkante meter (m2)Kaapse vierkante roed = 144 Kaapse vierkante voet = 14,19 vierkante meter (m2)
hektaar (ha) = 10 000 vierkante meter (m2)vierkante roede = 30,25 vierkante jaart = 25,292 852 6 vierkante meter (m2)morg = 600 Kaapse vierkante roede = 0,856 532 hektaar (ha).[5]
vierkante kilometer (km2) = 1 000 000 vierkante meter (m2)akker = 160 vierkante roede of 4 840 vierkante jaart = 4 046,856 442 4 vierkante meter (m2)
vierkante megameters (Mm2) = 1012 vierkante meter (m2)vierkante myl = 640 akker = 2,589 988 110 3 vierkante kilometer (km2)

Vergelykings

[wysig | wysig bron]

Oppervlakte kan as volg bereken word:

A=∬DdA (gebied in die platvlak)
A=∬SdS (oppervlak in die ruimte),

waar daar oor die gebied of oor die oppervlak geïntegreer word. 'n Drievoudige integraal lewer nie 'n oppervlakte nie maar 'n volume.

Nuttige formules

[wysig | wysig bron]
Tweedimensionale areas
Tweedimensionale areas
Algemene vergelykings van verskeie tweedimensionale voorwerpe:
Vorm Vergelyking Veranderlikes
Vierkant s2 s is die lengte van die kant van die vierkant.
Reëlmatige seshoek 332s2 s is die lengte van een kant van die seshoek.
Reëlmatige aghoek 2(1+2)s2 s is die lengte van een kant van die aghoek.
Enige reëlmatige poligoon (veelhoek) 12ap a is die kortstraal, of die radius van 'n ingeskrewe sirkel in die poligoon, en p is die omtrek van die poligoon.
Enige reëlmatige poligoon (veelhoek) P2/n4⋅tan(π/n) P is die Omtrek en n is die aantal kante.
Enige reëlmatige poligoon (met gebruik van graadmeting) P2/n4⋅tan(180∘/n) P is die Omtrek en n is die aantal kante.
Reghoek l⋅w l en w is die lengtes van die reghoek se kante (lengte en breedte).
Parallelogram (in algemeen) b⋅h b en h is die lengte van die basis en die lengte van die loodregte hoogte, onderskeidelik.
Rombus 12ab a en b is die lengtes van die twee hoeklyne van die rombus.
Driehoek 12b⋅h b en h is die basis en hoogte (gemeet loodreg na die basis), onderskeidelik.
Driehoek s(s−a)(s−b)(s−c) waar s=a+b+c2 (formule van Heron).
Driehoek 12⋅a⋅b⋅sinC a en b van enige twee kante, en C is die hoek tussen hulle.
Sirkel πr2, of πD2/4 r is die radius en D die diameter.
Ellips πab a en b is die halwe hoofas en die halwe kortas, onderskeidelik.
Trapesoïed 12(a+b)h a en b is die parallelle sye en h die afstand (hoogte) tussen hulle.
Sirkelvormige sektor 12r2θ r en θ is die radius en die hoek (in radiane), onderskeidelik.
Vierkant na sirkelvormige area omskakeling 4πA A is die area van die vierkant in vierkante eenhede.
Sirkelvormige na vierkante area omskakeling 14Cπ C is die area van die sirkel in sirkeleenhede.
Algemene vergelykings van verskeie driedimensionale voorwerpe:
Vorm Vergelyking Veranderlikes
Totale oppervlakte area van 'n kubus 6s2 waar s die lengte is van 'n sy van die kubus.
Totale oppervlakte area van 'n reghoekige blok 2((l⋅w)+(l⋅h)+(w⋅h)) waar l, w en h onderskeidelik die lengte, breedte en hoogte van die blok is.
Totale oppervlakte area van 'n bol 4πr2 waarin r die straal van die bol is.
Totale oppervlakte area van 'n silinder 2πr(h+r) waar r die straal van die sirkelvormige basis is, en h die hoogte van die silinder.
Totale oppervlakte area van 'n kegel πr(r+(r2+h2)) waarin r die straal van die sirkelvormige basis is, en h die hoogte van die kegel is.
Totale oppervlakte van 'n torus 4π2Rr waarin R is die afstand vanaf die middelpunt van die buisie tot die middelpunt van die torus, r is die straal van die buisie met die voorwaarde dat R>r
Symantel van 'n silinder 2πrh waar r die straal en h die hoogte is.
Symantel van 'n kegel πrl waar r die straal en l die skuinshoogte is, met l=r2+h2.
Totale oppervlakte area van 'n prisma 2B+Ph waar B die oppervlakte van 'n basis is, P die omtrek van 'n basis en h die hoogte.
Totale oppervlakte area van 'n piramide B+12PL waar B die oppervlakte van die basis is, P die omtrek van die basis en L die skuinshoogte.
Totale oppervlakte area van 'n ellipsoïed [en; nl] ingewikkeld Sien die artikel oor die ellipsoïed; daar bestaan geen eenvoudige geslote formule nie.
Oppervlakte van 'n sferiese driehoek [en; nl] (A+B+C−π)r2 waar A, B en C is die hoeke van die driehoek en r is die straal van die sfeer.

Afleiding van die basiese formules

[wysig | wysig bron]

Reghoeke

[wysig | wysig bron]

Die mees basiese oppervlakteformule is dié vir 'n reghoek: vir 'n reghoek met lengte l en breedte w is die oppervlakte A = lw. As spesiale geval, waar l = w soos by 'n vierkant, is die oppervlakte van 'n vierkant met sylengte s gegee deur A = s². Die formule volg regstreeks uit die basiese eienskappe van oppervlakte en word soms as 'n definisie of aksioma geneem; word die meetkunde egter voor die rekenkunde ontwikkel, kan dié formule gebruik word om die vermenigvuldiging van reële getalle te definieer.[3]

Ontleding, parallelogramme en driehoeke

[wysig | wysig bron]

Die meeste ander eenvoudige oppervlakteformules volg uit die metode van ontleding, waarby 'n vorm in stukke gesny word waarvan die oppervlaktes tot dié van die oorspronklike vorm moet optel. Enige parallelogram kan byvoorbeeld in 'n trapesium en 'n reghoekige driehoek verdeel word; word die driehoek na die ander kant van die trapesium geskuif, is die resulterende figuur 'n reghoek. Daaruit volg dat die oppervlakte van die parallelogram dieselfde is as dié van die reghoek: A = bh. Dieselfde parallelogram kan egter ook langs 'n hoeklyn in twee kongruente driehoeke gesny word, waaruit volg dat die oppervlakte van elke driehoek die helfte van dié van die parallelogram is: A = ½bh. Soortgelyke argumente kan gebruik word om die formules vir die trapesium en vir meer ingewikkelde veelhoeke te vind.[2]

Sirkels en ellipse

[wysig | wysig bron]

Die formule vir die oppervlakte van 'n sirkel rus op 'n soortgelyke metode. Vir 'n sirkel met radius r kan die sirkel in sektore verdeel word waarvan elkeen ongeveer driehoekig is, en dié sektore kan herskik word om 'n benaderde parallelogram te vorm. Die hoogte van dié parallelogram is r en die breedte die helfte van die sirkel se omtrek, dus πr, wat die totale oppervlakte πr² gee. Hoewel die ontleding net benaderd is, word die fout kleiner en kleiner soos die sirkel in al meer sektore verdeel word, en die limiet van die oppervlaktes van die benaderde parallelogramme is presies πr².[2]

Hierdie argument is in werklikheid 'n eenvoudige toepassing van die idees van die calculus. In die oudheid is die uitputtingsmetode op 'n soortgelyke manier gebruik om die oppervlakte van 'n sirkel te vind, en dié metode word vandag as 'n voorloper van die integraalrekening erken. Met moderne metodes kan die oppervlakte van 'n sirkel met 'n bepaalde integraal bereken word:

A=2∫−rrr2−x2dx=πr2.

Die formule vir die oppervlakte wat deur 'n ellips ingesluit word, hou met dié van die sirkel verband: vir 'n ellips met halwe hoofas a en halwe kortas b is die oppervlakte A = πab.[2]

Nieplat oppervlakke

[wysig | wysig bron]

Die meeste basiese formules vir oppervlakarea kan verkry word deur oppervlakke te sny en plat uit te sprei. Word die symantel van 'n silinder – of van enige prisma – in die lengte oopgesny, kan die oppervlak in 'n reghoek plat uitgesprei word; word 'n kegel langs sy sy oopgesny, kan die symantel in 'n sektor van 'n sirkel plat uitgesprei word en die oppervlakte so bereken word.[2]

Die formule vir die oppervlakarea van 'n bol is moeiliker om af te lei, omdat 'n bol 'n Gaussiese kromming het wat nie nul is nie en dus nie plat uitgesprei kan word nie. Die formule A = 4πr² is die eerste keer deur Archimedes in sy werk Oor die bol en die silinder verkry, waarin hy aangetoon het dat die oppervlakarea van 'n bol presies vier keer die oppervlakte van 'n plat skyf met dieselfde radius is.[4]

Afleiding met integrale

[wysig | wysig bron]

Deur gebruik te maak van A=∫∫dA:

  • sirkel: ∫−RR∫−R2−y2R2−y2dxdy=πR2. Uiteraard is dit eleganter om die sirkel polêr te beskryf en in 'n poolassestelsel te integreer.

Algemene formules

[wysig | wysig bron]

Veelhoeke met bekende hoekpunte

[wysig | wysig bron]

Vir 'n veelhoek wat homself nie sny nie en waarvan die Cartesiese koördinate (xi, yi) van sy n hoekpunte bekend is, word die oppervlakte deur die landmetersformule of skoenveterformule gegee:

A=12|∑i=0n−1(xiyi+1−xi+1yi)|

waar die indeks i + 1 modulo n geneem word, sodat dit na 0 verwys wanneer i = n − 1.[1]

'n Eenvoudige veelhoek wat op 'n rooster van gelykafstandige punte met heelgetalkoördinate gebou is, en waarvan al die hoekpunte roosterpunte is, het 'n oppervlakte van i + b/2 − 1, waar i die aantal roosterpunte binne die veelhoek is en b die aantal punte op die grens. Dié resultaat staan as Pick se stelling bekend.[7]

Oppervlakte in die calculus

[wysig | wysig bron]

Die oppervlakte tussen 'n kromme met positiewe waardes en die horisontale as, gemeet tussen twee waardes a en b op daardie as, word gegee deur die integraal van die funksie wat die kromme voorstel:

A=∫abf(x)dx.

Die oppervlakte tussen die grafieke van twee funksies is gelyk aan die integraal van die een funksie minus dié van die ander:

A=∫ab(f(x)−g(x))dx,

waar f(x) die kromme met die groter y-waarde is. 'n Oppervlakte wat deur 'n funksie r = r(θ) in poolkoördinate begrens word, is

A=12∫r2dθ.

Die oppervlakte wat deur 'n parametriese kromme ingesluit word, kan met lyn-integrale bereken word; dít is die beginsel waarop die planimeter, 'n meganiese meettoestel, werk.[2]

Algemene formule vir oppervlakarea

[wysig | wysig bron]

Die algemene formule vir die oppervlakarea van die grafiek van 'n deurgaans differensieerbare funksie z = f(x, y), waar (x, y) in 'n gebied D van die xy-vlak met 'n gladde grens lê, is

A=∬D(∂f∂x)2+(∂f∂y)2+1dxdy.

'n Nog algemener formule geld vir 'n parametriese oppervlak in die vektorvorm r = r(u, v), waar r 'n deurgaans differensieerbare vektorfunksie van (u, v) in 'n gebied D is:

A=∬D|∂𝐫∂u×∂𝐫∂v|dudv.

[2]

Verband tussen oppervlakte en omtrek

[wysig | wysig bron]

Die isoperimetriese ongelykheid sê dat vir 'n geslote kromme van lengte L, en vir die oppervlakte A van die gebied wat dit insluit,

4πA≤L2,

en dat gelykheid slegs geld indien die kromme 'n sirkel is. 'n Sirkel het dus die grootste oppervlakte van enige geslote figuur met 'n gegewe omtrek. Aan die ander uiterste kan 'n figuur met 'n gegewe omtrek L 'n arbitrêr klein oppervlakte hê, soos 'n rombus wat so ver oorgekantel word dat twee van sy hoeke arbitrêr naby 0° en die ander twee arbitrêr naby 180° is.[3]

Vir 'n sirkel is die verhouding van die oppervlakte tot die omtrek gelyk aan die helfte van die radius, wat uit die formules πr² en 2πr volg. Die oppervlakte van 'n reëlmatige veelhoek is die helfte van sy omtrek maal die apotema, die afstand van die middelpunt tot die naaste punt op enige sy.[1]

Fraktale

[wysig | wysig bron]

Wanneer die sylengtes van 'n veelhoek verdubbel word, word sy oppervlakte vier keer groter: dit is twee – die verhouding van die nuwe tot die ou sylengte – tot die mag twee, die dimensie van die ruimte waarin die veelhoek lê. Word die eendimensionele lengtes van 'n fraktaal wat in twee dimensies geteken is egter alles verdubbel, skaal die ruimtelike inhoud van die fraktaal met 'n mag van twee wat nie noodwendig 'n heelgetal is nie. Dié mag word die fraktale dimensie van die fraktaal genoem.[1]

Oppervlaktehalveerders

[wysig | wysig bron]

Daar is oneindig veel lyne wat die oppervlakte van 'n driehoek in twee gelyke dele verdeel. Drie daarvan is die mediane van die driehoek, wat die middelpunte van die sye met die teenoorstaande hoekpunte verbind, en dié is konkurrent by die driehoek se swaartepunt; dit is inderwaarheid die enigste oppervlaktehalveerders wat deur die swaartepunt gaan. Enige lyn deur 'n driehoek wat sowel die oppervlakte as die omtrek halveer, gaan deur die middelpunt van die ingeskrewe sirkel, en daar is een, twee of drie sulke lyne vir enige gegewe driehoek. Enige lyn deur die middelpunt van 'n parallelogram halveer die oppervlakte, en alle oppervlaktehalveerders van 'n sirkel of ander ellips gaan deur die middelpunt.[3]

Optimering

[wysig | wysig bron]

Vir 'n gegewe draadkontoer is die oppervlak met die kleinste oppervlakte wat dit oorspan, 'n minimale oppervlak; bekende voorbeelde is seepblase. Die sirkel het die grootste oppervlakte van enige tweedimensionele voorwerp met dieselfde omtrek, en 'n sikliese veelhoek – een wat in 'n sirkel ingeskryf is – het die grootste oppervlakte van enige veelhoek met 'n gegewe aantal sye van dieselfde lengtes. 'n Weergawe van die isoperimetriese ongelykheid vir driehoeke sê dat die driehoek met die grootste oppervlakte onder al dié met 'n gegewe omtrek gelyksydig is. Van al die driehoeke wat in 'n gegewe sirkel ingeskryf is, het die gelyksydige een die grootste oppervlakte, en van al dié wat om 'n gegewe sirkel omskryf is, het die gelyksydige een die kleinste oppervlakte.[3]

Oppervlakte in ander velde

[wysig | wysig bron]

Skaalwette

[wysig | wysig bron]

Wanneer 'n voorwerp se lineêre afmetings met 'n faktor k vergroot word, neem sy oppervlakte met k² toe en sy volume met k³. Dié verband staan as die kwadraat-kubuswet bekend en het verreikende gevolge. Die verhouding van oppervlakte tot volume neem dus af namate 'n voorwerp groter word, wat verklaar waarom klein diere proporsioneel meer hitte deur hul velle verloor as groot diere, waarom die longe en derms van soogdiere sterk gevou is om 'n groot oppervlakte in 'n klein volume te pas, en waarom 'n fyn verdeelde stof – soos meel of steenkoolstof – veel vinniger brand as dieselfde massa in een blok.[1]

Landmeting

[wysig | wysig bron]

Die oppervlakte van grond is een van die belangrikste toepassings van die begrip. In die landmeting word die oppervlakte van 'n erf of plaas uit die opgemete koördinate van sy hoekpunte bereken, gewoonlik met die landmetersformule, en in Suid-Afrika word dit in die aktes en op die opmetingsplanne van die landmeter-generaal in vierkante meter of hektaar aangegee.[5]

Deursnee-oppervlakte

[wysig | wysig bron]

In die fisika en die ingenieurswese is die deursnee-oppervlakte – die oppervlakte van 'n snit dwars deur 'n voorwerp – 'n sleutelgrootheid. Die spanning in 'n staaf onder 'n trekkrag is byvoorbeeld die krag gedeel deur die deursnee-oppervlakte, en die elektriese weerstand van 'n draad is omgekeerd proporsioneel aan sy deursnee-oppervlakte. In die kernfisika word die waarskynlikheid van 'n wisselwerking as 'n werksame deursnee uitgedruk, gemeet in barn.[1]

Liggaamsoppervlakte

[wysig | wysig bron]

In die geneeskunde word die liggaamsoppervlakte van 'n pasiënt uit sy lengte en massa beraam en gebruik om die dosis van sommige middels, veral in die chemoterapie, te bepaal, omdat dit die metaboliese tempo beter benader as die liggaamsmassa alleen.[8]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 (en) "Area". Encyclopædia Britannica. 
  2. 1 2 3 4 5 6 7 8 (en) Stewart, James (2003). Single Variable Calculus: Early Transcendentals (5de uitg.). Toronto: Brooks/Cole. ISBN 978-0-534-39330-4.
  3. 1 2 3 4 5 (en) Apostol, Tom M. (1967). Calculus, Volume I: One-Variable Calculus, with an Introduction to Linear Algebra (2de uitg.). New York: John Wiley & Sons. ISBN 978-0-471-00005-1.
  4. 1 2 3 4 (en) Heath, Thomas L. (2003). A Manual of Greek Mathematics. Dover Publications. pp. 121-132. ISBN 978-0-486-43231-1.
  5. 1 2 3 "Instructions for the Conversions of Areas to Metric" (in Engels). Law Society of South Africa. November 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Maart 2016. Besoek op 13 November 2014.
  6. ↑ Elffers, Hubertus (1903). The Englishman's guide to the speedy and easy acquirement of Cape Dutch (PDF) (in Engels). Kaapstad: Juta. p. 29. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 10 Mei 2025.
  7. ↑ (en) Trainin, J. (November 2007). "An elementary proof of Pick's theorem". The Mathematical Gazette. 91 (522): 536-540. doi:10.1017/S0025557200182270.
  8. ↑ (en) Du Bois, D.; Du Bois, E.F. (1916). "A formula to estimate the approximate surface area if height and weight be known". Archives of Internal Medicine. 17: 863-871.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]