Mekka
| Kaart | Wapen |
| Vlag | |
| Land | |
| Provinsie | Makkah |
| Koördinate | 21°25′N 39°49′O / 21.417°N 39.817°O |
| Stigting | 4de eeu |
| Oppervlakte: | |
| - Totaal | 850 vk km |
| Hoogte bo seevlak | 277 m |
| Bevolking: | |
| - Totaal (2022) | 2 385 509 |
| - Totaal (2007) | 1 700 000 |
| - Bevolkingsdigtheid | 4 200/vk km |
| Tydsone | UTC +3 |
| Burgemeester | Osama Al-Bar |
| Amptelike webwerf | holymakkah.gov.sa |
Mekka (Arabies: مكة, ook "Mekka, die Eerwaarde", مكة المكرّمة) is die heiligste stad van die Islam en lê in Saoedi-Arabië.[1] Mekka het 'n bevolking van 1 700 000 (2007-sensus) en 'n oppervlakte van 850 km². Volgens die sensus van 2022 het die stad 2 385 509 inwoners gehad, wat dit ná Riaad en Djedda die derde grootste stad in Saoedi-Arabië maak.[2] Die Kaäba in Mekka is die rigting, of kiebla, van die daaglikse islamitiese gebed. In 570 is Mohammed, die profeet van Islam, in Mekka gebore. In 610 begin die Islamitiese openbaring en Mekka is een van die twee stede waar Mohammed die Koran van Allah ontvang. Met die vlug van Mohammed na Medina in 622 begin die Islamitiese kalender. Tradisioneel is die stad vir nie-Moslems gesluit.
Die stad is die hoofstad van die provinsie Makkah en lê in die Hidjaz, die bergagtige streek langs die weskus van Saoedi-Arabië, sowat 70 km binneland toe vanaf die hawestad Djedda aan die Rooisee en 277 m bo seevlak. Die grot Hira op die berg Jabal al-Nour net buite die stad is volgens Moslems die plek waar die eerste woorde van die Koran aan Mohammed geopenbaar is. Die Groot Moskee van Mekka huisves die Kaäba, wat volgens Moslems deur Abraham en sy seun Ismael gebou is, en dit is die gebedsrigting van al die Moslems ter wêreld. Sowat 44,5 % van die inwoners is Saoedi-burgers en die res is Moslems uit ander lande.
Elke jaar vermeerder pelgrims die bevolking van die stad tot meer as drie keer sy gewone getal tydens die Hadj, die pelgrimstog wat in Dhoe al-Hidjdja, die twaalfde maand van die Islamitiese maankalender, plaasvind en wat vir elke Moslem 'n verpligting is wat minstens een keer in 'n leeftyd nagekom moet word. Met meer as 19,3 miljoen internasionale besoekers in 2024 was Mekka een van die vyf mees besoekte stede ter wêreld.
Moslemheersers in en om die streek het die stad eeue lank probeer beheer, en soos die grootste deel van die Hidjaz het Mekka verskeie regimewisselings gesien. Die stad is die laaste keer in 1925 verower, toe Ibn Saoed en sy bondgenote die Hidjaz ingeneem het. Sedertdien het Mekka geweldig in omvang en infrastruktuur uitgebrei, met moderne geboue soos die Abraj al-Bait-kloktoringkompleks, wat een van die hoogste geboue ter wêreld is. Nie-Moslems mag ingevolge Saoedi-Arabiese wetgewing nie die stad binnegaan nie.
Naam
[wysig | wysig bron]Die naam van die stad word op verskillende maniere weergegee, en die herkoms daarvan is – soos dié van baie Arabiese woorde – onseker. Die vorm Makkah is die amptelike transliterasie wat die Saoedi-Arabiese regering in die 1980's aanvaar het en staan nader aan die Arabiese uitspraak, hoewel dit nie wêreldwyd algemeen gebruik word nie. Die volledige amptelike naam is Makkah al-Mukarramah (مكة المكرمة, "Makkah die Eerwaarde"). Die vorm Makkah kom in die Koran in soera 48 (Al-Fath), vers 24, voor. Party navorsers meen dat die naam oorspronklik na die vallei self verwys het, terwyl Moslemgeleerdes dit gewoonlik gebruik vir die heilige gebied wat die Kaäba insluit en omring.[3]
In Engels het die woord mecca 'n algemene betekenis gekry vir enige plek wat groot getalle mense aantrek, en juis daarom beskou sommige Engelssprekende Moslems dié spelling vir die stad self as aanstootlik.
Die Koran gebruik ook ander name vir die stad. In 6:92 word dit Umm al-Qura (أم القرى, "moeder van alle nedersettings") genoem, en in soera 3 (Al Imran), vers 96, word na die stad as Bakkah verwys: "Waarlik, die eerste huis [van aanbidding] wat vir die mensdom opgerig is, was dié in Bakkah." Volgens die oorlewering was dit die naam van die stad in die tyd van Abraham. 'n Verdere naam wat histories gebruik is, is Tihamah, en volgens 'n Islamitiese verklaring is die naam Faran dieselfde as die woestyn Paran wat in Genesis 21:21 vermeld word; die Siries-Arabiese geograaf Yaqut al-Hamawi het in die 12de eeu geskryf dat Faran "'n verarabiseerde Hebreeuse woord, een van die name van Mekka wat in die Tora genoem word", is.
Die geograaf Ptolemeus noem in die 2de eeu n.C. 'n plek Macoraba in Arabië, en sedert 1646 word geredeneer dat dit na Mekka verwys. Die tradisionele verklaring is dat die naam van die Ou-Suid-Arabiese stam M-K-R-B, "tempel", afgelei is, maar meer onlangse studies bevraagteken die gelykstelling met Mekka.
Ligging en klimaat
[wysig | wysig bron]Ligging en topografie
[wysig | wysig bron]Die heilige stad Mekka (in Arabies Makkah) lê 277 m bo seespieël in die droë beddings van die Wadi Ibrahim en 'n paar van sy kort sytakke naby die weskus (Rooisee) van Saoedi-Arabië. Mekka word omring deur die Siratbergreeks en in een van die pieke, die Jabal Hira, is die grot waar Mohammed hom afgesonder en visioene gehad het voordat hy profeet geword het. Die nag is bekend as Lailat al-'Kadr.
Die stad lê in die Hidjaz, 'n strook berge sowat 200 km breed wat die Nafudwoestyn van die Rooisee skei, en is een van die laagste stede van dié streek, al bereik party bergpieke binne die stadsgebied 'n hoogte van sowat 1 000 m. Die middedorp lê in 'n gang tussen die berge wat dikwels die "holte van Mekka" genoem word en waarin die valleie al-Taneem, Bakkah en Abqar lê; dié bergagtige ligging het die uitbreiding van die moderne stad bepaal. Mekka is in 34 wyke verdeel en die totale oppervlak van die moderne stad is meer as 1 200 km².[4]
Die stad se middelpunt is die Haramgebied waarin die Groot Moskee staan. Rondom die moskee lê die ou stad met sy bekendste wyk, Ajyad, en die hoofstraat wat na die moskee lei, is die Ibrahim al-Khalil-straat, wat na Abraham vernoem is. Tussen die moderne hotelle en winkelkomplekse staan daar in die middestad steeds tradisionele huise van twee tot drie verdiepings wat van plaaslike klip gebou is.
Waterbronne
[wysig | wysig bron]
Weens die klimaat was water deur die hele geskiedenis van die stad 'n knelpunt. Voor die moderne tyd was Mekka op 'n paar hoofbronne aangewese, waaronder plaaslike putte soos die Zamzambron, waarvan die water taamlik brak is. Die eerste groot poging om 'n volhoubare bron vir die vaste bevolking en die jaarlikse stroom pelgrims te vind, is in die Abbasidiese tyd deur Zubaida, die vrou van die kalief Haroen ar-Rasjid, onderneem. Sy het geld geskenk om die Zamzambron te verdiep en 'n groot bouprojek gefinansier wat waarskynlik 1,75 miljoen gouddinars gekos het. Dit het 'n ondergrondse akwaduk van die bron van Hunayn na Mekka ingesluit, sowel as 'n waterwerk op die berg Arafat wat as die Ayn Zubayda bekend staan.[5]
Die stelsel het met verloop van tyd verval, en in 1245, 1361, 1400, 1474 en 1510 het verskillende heersers groot herstelwerk laat doen. Toe die probleme bly voortduur, het die Ottomaanse sultan Süleyman die Grote in 1525 'n projek begin om die akwaduk in sy geheel te herbou; die werk is eers in 1571 voltooi. 'n Ander bron wat af en toe water gelewer het, was reënval, wat in klein opgaardamme en sisterne gestoor is. Volgens die geskiedskrywer al-Kurdi was daar teen 1965 al 89 vloede in die stad; die ergste in die vorige eeu was dié van 1942, waarna damme gebou is om die probleem te verminder. Vandag word die stad deur watersuiwerings- en ontsoutingsaanlegte van drinkwater voorsien.[4]
Klimaat
[wysig | wysig bron]Die stad het deur die jaar hoë temperature, met somertemperature van tot 45 °C. Ondanks die lae reënval (minder as 120 mm per jaar), wat hoofsaaklik in die winter val, bestaan die gevaar van seisoenale oorstromings wel omdat Mekka so laag geleë is.
Mekka het 'n warm woestynklimaat (BWh in die Köppen-klimaatklassifikasie). Soos die meeste Saoedi-Arabiese stede bly die temperature selfs in die winter warm: dan wissel dit van sowat 19 °C in die nag tot 30 °C in die middag. Somertemperature oorskry gereeld 40 °C in die middag en daal teen die aand tot sowat 30 °C, terwyl die humiditeit betreklik laag bly, op 30 tot 40 %. Reën val meestal in klein hoeveelhede tussen November en Januarie, en swaar donderstorms kom in die winter voor. Die af en toe somerreën van die afgelope jare word met die noordwaartse beweging van die intertropiese konvergensiesone verbind.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Vroegste geskiedenis
[wysig | wysig bron]
Die vroeë geskiedenis van Mekka is grootliks in duisternis gehul weens 'n gebrek aan duidelike bronne. Die stad lê in die binneland van die middelste deel van wes-Arabië, waarvan daar min geskrewe of argeologiese bronne bestaan – in teenstelling met die noordelike en suidelike dele van wes-Arabië, waar historici oor inskripsies, oorblyfsels van heiligdomme en waarnemings van Grieks-Romeinse skrywers beskik. Die deel van die Hidjaz rondom Mekka was afgeleë, klipperig en onherbergsaam en kon net klein gevestigde bevolkings in verspreide oases onderhou. Een studie, gegrond op vroeë Islamitiese genealogiese optekeninge, skat dat die bevolking van Mekka in die tyd van Mohammed sowat 550 was, terwyl Moslemgeleerdes wat op tradisionele bronne steun die getal soms so hoog as 10 000 stel.[6]
Die eerste ondubbelsinnige verwysing na Mekka in nie-Islamitiese letterkunde verskyn in 741, lank ná Mohammed se dood, in die Bisantynse-Arabiese kroniek. Vroeër verwysings is onseker: die Griekse geskiedskrywer Diodorus Siculus skryf in die 1ste eeu v.C. oor 'n heiligdom in Arabië wat "baie heilig en buitengewoon vereer deur alle Arabiere" is, maar die ligging wat hy beskryf, lê in noordwes-Arabië. Ptolemeus se Macoraba word sedert die 17de eeu met Mekka verbind, hoewel navorsers soos Patricia Crone dié gelykstelling verwerp en ander, soos Glen Bowersock, dit steun.
In die Islamitiese siening word die begin van Mekka aan Bybelse figure toegeskryf: Adam sou die eerste huis van God in Mekka gebou het volgens 'n hemelse voorbeeld, maar dié gebou is in die sondvloed verwoes. Die beskawing van Mekka het volgens die oorlewering begin nadat Abraham sy seun Ismael en Ismael se moeder Hagar op Allah se bevel in die vallei gelaat het. Mense van die Jemenitiese stam Jurhum het by hulle kom woon, en minstens een man van die Jurhum het Ismael en sy vader gehelp om die Kaäba te bou.
Onder die Koeraisj
[wysig | wysig bron]Ergens in die 5de eeu was die Kaäba 'n plek van aanbidding vir die gode van Arabië se heidense stamme; Mekka se belangrikste heidense godheid was Hubal, wat deur die heersende stam, die Koeraisj, daar geplaas is en tot die verowering van die stad deur Mohammed daar gebly het. In dieselfde eeu het die Koeraisj beheer oor Mekka verkry en bekwame handelaars geword. In die 6de eeu het hulle by die winsgewende speseryhandel aangesluit, aangesien oorloë elders die handelsroetes van gevaarlike seeroetes na veiliger landroetes verskuif het. Mekka se belang as handelsentrum het dié van Petra en Palmira oortref.
Teen die middel van die 6de eeu was daar drie groot nedersettings in noord-Arabië, almal langs die suidwestelike kus by die Rooisee. Al was die omgewing van Mekka heeltemal dor, was dit die rykste van die drie, met volop water uit die beroemde Zamzambron en 'n ligging op die kruispad van die groot karavaanroetes. Die harde toestande van die Arabiese Skiereiland het byna deurlopende twis tussen die plaaslike stamme beteken, maar een keer per jaar is 'n wapenstilstand afgekondig en het hulle vir 'n jaarlikse pelgrimstog op Mekka saamgetrek. Tot in die 7de eeu was dié reis vir die heidense Arabiere 'n godsdienstige plig om hulle heiligdom te vereer en van die Zamzamwater te drink, maar dit was ook die tyd van die jaar waarin dispute besleg, skuld vereffen en handel op die Mekkaanse markte gedryf is. Dié jaarlikse gebeure het die stamme 'n gevoel van gemeenskaplike identiteit gegee en Mekka 'n brandpunt van die skiereiland gemaak.
Kameelkaravane, wat volgens die oorlewering die eerste keer deur Mohammed se oupagrootjie gebruik is, was 'n groot deel van die stad se ekonomie. Die handelaars van Mekka het bondgenootskappe met die plaaslike nomadiese stamme gesluit, wat leer, lewende hawe en metale uit die omliggende berge na Mekka gebring het om op die karavane gelaai en na die stede van Sirië en Irak vervoer te word. Die Mekkane het verdrae met sowel die Bisantyne as die Bedoeïene gesluit en veilige deurgang, water- en weiregte vir die karavane beding, sodat Mekka die middelpunt van 'n los bondgenootskap van stamme geword het.
Die Jaar van die Olifant
[wysig | wysig bron]Die "Jaar van die Olifant" is die naam in die Islamitiese geskiedenis vir die jaar wat ongeveer met 570 tot 572 ooreenstem, toe Abraha volgens Islamitiese bronne soos Ibn Ishaq op 'n olifant met 'n groot leër na Mekka afgesak het nadat hy in Sanaa 'n katedraal, al-Qullays, gebou het. Abraha wou die pelgrimstog van die Arabiere van die Kaäba na al-Qullays verskuif. Volgens die Islamitiese tradisie is Mohammed in daardie jaar gebore. Toe die nuus van die leër se opmars kom, het die stamme Koeraisj, Kinanah, Choezaäh en Hoedjail hulle in die verdediging van die Kaäba en die stad verenig. Abd al-Muttalib het die Mekkane aangeraai om in die heuwels te skuil terwyl hy en 'n paar Koeraisj binne die perke van die Kaäba gebly het. Volgens die oorlewering het die leiersolifant, Mahmud, by die grens van Mekka gaan staan en geweier om verder te gaan; daar is al voorgestel dat 'n epidemie soos pokke die mislukte inval kon veroorsaak het. Die 105de soera van die Koran, Al-Fil, vertel hoe 'n donker wolk voëls die volgende dag met klippies in hulle bekke opgedaag en die leër verpletter het.
Mohammed en die verowering van Mekka
[wysig | wysig bron]

Mohammed is in ongeveer 570 n.C. in Mekka gebore. Sy verkondiging van 'n nuwe leer is nie in sy geboortestad aanvaar nie en hy het in 622 na Medina uitgewyk. Volgens hom het die mense 'n dwaalleer aangehang en sy prediking van die Islam was daarop gerig om die godsdiens van Abraham te herstel.
Mohammed is in die tak Banu Hasjim van die heersende stam Koeraisj gebore. Volgens die Islamitiese tradisie het hy in 610 in die grot Hira op die berg Jabal al-Nour begin om deur die aartsengel Djibriel openbarings van God te ontvang. Ná dertien jaar van vervolging deur die heidense stamme het hy en sy volgelinge, die moehadjiroen, in 622 na Jathrib uitgewyk, wat later Medina genoem is; die konflik tussen die Koeraisj en die Moslems word gewoonlik van dié punt af gereken. Die Mekkaanse pogings om die Islam uit te wis, het misluk: in die Slag van die Loopgraaf in 627 kon die verenigde leërs van Arabië Mohammed se magte nie verslaan nie. In 628 wou Mohammed en sy volgelinge die stad vir die pelgrimstog binnegaan, maar die Koeraisj het hulle verhinder, waarna die twee partye die Verdrag van al-Hudaybiya gesluit het, waarin die Koeraisj onderneem het om die Moslems die volgende jaar tot die stad toe te laat. Die wapenstilstand moes tien jaar hou, maar twee jaar later het bondgenote van die Koeraisj dit verbreek.
In 630 het hy na Mekka teruggekeer, die stad onder sy gesag gebring, alle afgode verwyder en tot die stad van Allah verklaar. Dit sou ook as pelgrimsoord vir alle Moslems dien.
Mohammed het toe na Medina teruggekeer nadat hy Attab ibn Asid as goewerneur van die stad aangestel het, en Mekka is as die heiligste plek van die Islam verklaar en as die middelpunt van die Moslempelgrimstog (Hadj) bevestig – een van die vyf pilare van die geloof. Mohammed is in 632 oorlede. Binne 'n paar honderd jaar het die Islamitiese wêreld van Noord-Afrika tot in Asië en dele van Europa gestrek, en Mekka het pelgrims uit die hele Moslemwêreld bly trek, sowel as geleerdes en vroom Moslems wat naby die Kaäba wou woon.
Middeleeue
[wysig | wysig bron]Mekka was nooit die hoofstad van enige Islamitiese staat nie, behalwe van die kortstondige kalifaat van Abdoellah ibn al-Zubayr. Moslemheersers het wel tot die onderhoud van die stad bygedra: in die tyd van die kaliefe Umar (634–644) en Uthman (644–656) is Christelike ingenieurs ingebring om keerwalle in die laaggeleë wyke te bou en die omgewing van die Kaäba teen vloede te beskerm. Ná Mohammed se terugkeer na Medina het die swaartepunt van die Islam van Mekka weggeskuif, en dit het verder verskuif toe die vierde kalief, Ali, Koefa as sy hoofstad gekies het. Die Umajjade het die hoofstad na Damaskus verskuif en die Abbasiede na Bagdad, wat bykans 500 jaar lank die middelpunt van die Islamitiese ryk gebly het.
Mekka het tydens die Tweede Fitna weer in die Islamitiese politiek na vore gekom, toe dit deur Abdoellah ibn al-Zubayr beheer is; die stad is in 683 en 692 deur die Umajjade beleër. Daarna het dit weinig in die politiek beteken en 'n stad van godsvrug en geleerdheid gebly. In 930 is Mekka deur die Karmatiete, 'n Sjiïtiese Ismailitiese sekte uit oostelike Arabië onder leiding van Abu Tahir al-Jannabi, aangeval en geplunder, en in 1349 het die Swart Dood die stad getref.
Een van die bekendste reisigers wat Mekka in die 14de eeu besoek het, was die Marokkaanse geleerde Ibn Battuta. Hy het in 1327 in die stad aangekom, drie jaar daar gebly en in 1330 vertrek. In sy reisverhaal beskryf hy die Kaäba as 'n groot gebou wat verwoes en kleiner as die oorspronklike herbou is, en die inwoners van die stad as beskeie, vriendelik en bereid om van alles wat hulle het met iemand te deel wat niks het nie.
Handel, sjarifs en vreemde heersers
[wysig | wysig bron]
As oase op die karavaanroetes tussen die lande rondom die Middellandse See en Asië en Afrika, het Mekka deur die eeue 'n handelsentrum geword. Selfs nadat die handelsaspek minder belangrik geword het, het Mekka, danksy die pelgrims, steeds 'n welvarende stad gebly. Die stad is bestuur deur sjarifs, wat lede was van families wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle van die profeet Mohammed afstam.
Ondanks hulle pogings om beheer oor die Hedzjasgebied uit te oefen, kon die Irakse Abbassiede (ongeveer 950 n.C.), die Egiptiese Mamelukke (13de eeu), die Ottomane (16de eeu) en die Saoedi-Arabiese Wahabiete (19de eeu) nie die stad se onafhanklikheid beïnvloed nie. In 1925 is Mekka egter finaal by Saoedi-Arabië ingelyf.
Die sjarif van Mekka, Barakat bin Muhammad, het die oppergesag van die Ottomaanse kalief in 1517 erken, maar 'n groot mate van plaaslike selfstandigheid behou. In 1803 is die stad deur die eerste Saoedi-staat ingeneem, wat dit tot 1813 beheer en 'n aantal historiese grafte en koepels in en om die stad verwoes het. Die Ottomane het die taak om Mekka terug onder hulle beheer te bring aan Mohammed Ali Pasja, hulle magtige onderkoning van Egipte, opgedra, en hy het in 1813 daarin geslaag. In 1853 het sir Richard Francis Burton die pelgrimstog na Mekka en Medina as Moslem verklee onderneem; hy was nie die eerste nie-Moslem-Europeër wat die Hadj meegemaak het nie, maar sy reis bly een van die bekendste. Mekka is ook gereeld deur cholera getref: tussen 1830 en 1930 het die siekte 27 keer onder die pelgrims uitgebreek.
Moderne geskiedenis
[wysig | wysig bron]
Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het die Britse intelligensie-offisier T. E. Lawrence saam met Hoessein bin Ali, die sjarif van Mekka, 'n opstand teen die Ottomaanse Ryk beraam, en Mekka was in 1916 die eerste stad wat sy magte verower het. Hoessein het 'n nuwe staat, die Koninkryk van die Hidjaz, verklaar met Mekka as hoofstad. Ná die inname van die stad in 1924 is die sjarif deur die Saoed-familie omvergewerp.
Onder Saoedi-beheer is 'n groot deel van die historiese stad gesloop, deels uit vrees van die regering dat sulke plekke tot verering naas Allah (sjirk) sou lei, en deels om plek te maak vir hotelle, woonstelle, parkeerterreine en ander infrastruktuur vir die pelgrims. Daar word beraam dat sowat 95 % van Mekka se historiese geboue sedert 1985 gesloop is en dat daar vandag minder as 20 strukture in die stad oorbly wat uit die tyd van Mohammed dateer.[7] Onder die geboue wat verlore gegaan het, is die huis van Chadidja, Mohammed se vrou, die huis van Aboe Bakr en die Ottomaanse Ajyadfort. Die stad is intussen so uitgebrei dat dit dorpe insluit wat vroeër as apart van die heilige stad beskou is.
Op 20 November 1979 het tweehonderd gewapende opstandelinge onder leiding van Juhayman al-Otaybi die Groot Moskee beset. Hulle het aangevoer dat die Saoedi-koningshuis nie meer die ware Islam verteenwoordig nie en het tienduisende pelgrims as gyselaars aangehou en hulle in die moskee verskans. Die beleg het twee weke geduur, het etlike honderde lewens gekos en die heiligdom – veral die galery tussen Safa en Marwa – ernstig beskadig voordat 'n gesamentlike mag die moskee kon herower.
Die groot getalle mense wat die Hadj meemaak, het al verskeie kere tot rampe gelei. Op 2 Julie 1990 het die ventilasiestelsel in 'n vol voetgangertonnel gefaal en is 1 426 mense versmoor of in 'n stormloop doodgetrap,[8] en op 24 September 2015 het 700 pelgrims in 'n stormloop by Mina tydens die steen-die-duiwel-ritueel gesterf. Mekka sal op Maandag 2 Augustus 2027 'n totale sonsverduistering van 5 minute en 8 sekondes lank belewe.
Die pelgrimstog en die Kaäba
[wysig | wysig bron]
Mekka beklee 'n besondere plek in die Islam en word in al die rigtings van die godsdiens as die heiligste stad beskou. Die stad se belang berus op die rol wat dit in die Hadj en die Umra speel en op sy status as die geboorteplek van Mohammed.
Al-Masdjid al-Haram
[wysig | wysig bron]Volgens Islamitiese tradisie is die Kaäba (Ka'ba) deur Abraham gebou as 'n replika van God se hemelse woning. Deur die eeue is dit telkens verwoes en herbou, en sedert die 16de eeu (1570) staan dit in die binneplein van die Al-Masdjid al-Haram, tesame met die heilige Zemzem-bron.
Die binneplein is ongeveer 165 m lank en 121 m breed en word omring deur 'n 7,5 m hoë muur met 'n aantal minarette. In 1955 is begin met verbouings om die oppervlakte van die binneplein te vergroot.
Op die oomblik kan 300 000 mense tegelykertyd in die binneplein aanbid. Die Kaäba vorm die religieuse middelpunt vir meer as een miljard Moslems dwarsoor die wêreld, aangesien die Islam bepaal dat wanneer Moslems bid, hulle hulle in die rigting van die Kaäba moet wend. (Hierdie gebedsrigting word die kiebla genoem.)
Die moskee is die plek van twee van die belangrikste rituele van sowel die Hadj as die Umra: die sewe rondgange om die Kaäba (tawaf) en die heen-en-weer loop tussen die twee heuwels Safa en Marwa (sa'i). Die Zamzambron lê ook binne die moskee. Volgens die Islamitiese tradisie is 'n gebed in dié moskee gelyk aan 100 000 gebede in enige ander moskee ter wêreld. Sedert die beleg van 1979 is die moskee verskeie kere uitgebrei, en verdere uitbreidings is steeds aan die gang.
Die Kaäba en die Swart Steen
[wysig | wysig bron]Die Kaäba is ’n vierkantige ruimte van 15 x 10 x 12 m binne die moskee met geen vensters nie en slegs een ingang. In die oostelike muur is die sogenaamde Swart Steen ingebou, wat heelwaarskynlik ’n meteoriet is. Die Kaäba is bedek met 'n swart kleed, die Kiswa, waarop tekste uit die Koran geborduur is. Die kleed word jaarliks vervang.
Onder Islamitiese geleerdes is daar verskil van mening oor wie die Kaäba die eerste keer gebou het: sommige meen dit was die engele en ander dat dit Adam was. Wat ook al die geval, dit is verskeie kere herbou voordat dit sy huidige vorm bereik het. Die vlak rondom die Kaäba waarop die gelowiges hulle rondgange doen, staan as die Mataf bekend. Dit is soenna om die Swart Steen aan te raak en te soen; die gebied rondom die steen is byna altyd vol mense en word deur polisie bewaak om die pelgrims se veiligheid te verseker. Volgens die oorlewering is die steen uit die paradys neergestuur en is dit gebruik om die Kaäba te bou; dit was oorspronklik witter as melk en het weens die sondes van die mens mettertyd swart geword.
Maqam Ibrahim
[wysig | wysig bron]
Die Maqam Ibrahim is die klip waarop Abraham gestaan het om die hoër dele van die Kaäba te bou. Dit vertoon twee voetspore wat groter is as dié van 'n gemiddelde mens van vandag. Die klip is verhoog en staan in 'n goue seshoekige kas langs die Kaäba op die Mataf. Die klip binne die kas is vierkantig, sowat 40 cm lank en breed en 20 cm hoog. Dit was vroeër in 'n struktuur, die Maqsurat Ibrahim, omsluit wat met 'n jaarliks vervangde geborduurde gordyn bedek was.
Safa en Marwa
[wysig | wysig bron]Moslems glo dat Allah in die Koran die heuwels Safa en Marwa as tekens van sy Godheid beskryf. Om sewe keer tussen die twee heuwels te loop – vier keer van Safa na Marwa en drie keer terug – is 'n verpligte deel (roekn) van die Umra en word ook tydens die Hadj verrig. Die galery tussen die twee heuwels vorm vandag deel van die Groot Moskee.
Hadj en Umra
[wysig | wysig bron]
Elke Moslem probeer om minstens een maal in sy leeftyd gedurende die pelgrimsmaand Dhu'l Hidjdja 'n bedevaart na Mekka te onderneem. Die doel van die reis is om 'n paar maal rondom die Kaäba te loop en die Swart Steen te soen. Voorts besoek hulle, getrou aan die Islamitiese tradisie, 'n paar heilige plekke in die omgewing wat verband hou met Mohammed se stryd om Mekka te verower.
As gevolg van die groot aantal pelgrims (sowat 1 miljoen in die pelgrimsmaand), is die stad se vervoerstelsel na die Tweede Wêreldoorlog drasties uitgebrei om met die toeloop te kan tred hou.
Die Hadj, ook die groot pelgrimstog genoem, lok vandag miljoene Moslems uit die hele wêreld en laat die bevolking van Mekka vir een week in die twaalfde en laaste maand van die Islamitiese jaar tot bykans drie keer sy gewone getal aangroei. In 2019 het 2 489 406 pelgrims die Hadj meegemaak.[9] Die Umra, of klein pelgrimstog, kan enige tyd van die jaar onderneem word en is nie verplig nie, hoewel dit in die Koran aanbeveel word. Benewens die Groot Moskee moet pelgrims ook die nabygeleë plekke Mina, Muzdalifah en die Berg Arafat besoek vir verskillende rituele wat deel van die Hadj is.
Jabal al-Nour en die Hira-grot
[wysig | wysig bron]Die Jabal al-Nour ("berg van die lig"), ook bekend as die Jabal Hira, is volgens Moslems die berg waarheen Mohammed hom weg van die bedryf van die stad afgesonder het. Die berg lê by die oostelike ingang van die stad en is met 642 m die hoogste punt binne die stadsgebied. Bo-op die berg is die grot Hira, waar Mohammed volgens Moslems op die ouderdom van 40 die eerste openbaring van Allah deur die aartsengel Djibriel ontvang het.
Bestuur en ekonomie
[wysig | wysig bron]Bestuur
[wysig | wysig bron]
Die stad word bestuur deur 'n goewerneur, die emir van Makkah, wat deur die koning van Saoedi-Arabië benoem word en verantwoording moet doen aan die minister van binnelandse sake. Hy is in beheer van die provinsie Makkah, waarvan Mekka die hoofstad is en waartoe ook die stede Djedda en Taif behoort.
Onder die Saoedi-regering word die stad self deur die streekmunisipaliteit van Mekka bestuur, 'n stadsraad van veertien plaaslik verkose lede onder voorsitterskap van die burgemeester – in Arabies die amin – wat deur die regering aangestel word. Sedert Januarie 2022 is Saleh al-Turki die burgemeester van die stad.[10]
Nie-Moslems mag ingevolge Saoedi-Arabiese wetgewing nie Mekka binnegaan nie, en die gebruik van bedrieglike dokumente om dit te doen, kan tot inhegtenisneming en vervolging lei. Die Mekkapoort, algemeen bekend as die Koranpoort, staan by die westelike ingang van die stad op die pad van Djedda en dui die grens van die Haramgebied aan waar die verbod geld. Die poort is in 1979 deur die Egiptiese argitek Samir Elabd ontwerp en stel 'n boek – die Koran – op 'n boekstander voor.
Onderwys en gesondheidsorg
[wysig | wysig bron]Sedert die Tweede Wêreldoorlog het Mekka 'n stadsraad, maar die name van die veertien gekose lede moet eers vir goedkeuring aan die regering voorgelê word voordat hulle hul ampte kan aanvaar. Die stad het twee inrigtings vir hoër onderwys, naamlik die Sjaria-Akademie vir Islamitiese reg en ’n opleidingskollege vir onderwysers. Alle onderwys is kosteloos, asook mediese dienste. Mekka se gesondheidsdienste het, benewens plaaslike siekteverskynsels, ook te kampe met verskillende siektes soos cholera, wat deur pelgrims die stad ingebring word.
Formele onderwys het in die laat-Ottomaanse tyd begin ontwikkel en stadig in die tyd van die Hasjemiete voortgegaan. Die eerste groot poging om die toestand te verbeter, is deur 'n Djeddase koopman, Mohammed Ali Zaynal Rida, gedoen, wat die Madrasat al-Falah in 1911–1912 in Mekka gestig het. Teen 2005 was daar 532 openbare en private skole vir seuns en nog 681 vir dogters. Die onderrigtaal in openbare sowel as private skole is Arabies, met Engels as tweede taal, hoewel party privaat skole wat deur buitelandse instansies gestig is, Engels as onderrigtaal gebruik. Vir hoër onderwys het die stad een universiteit, die Umm al-Qura-Universiteit, wat in 1949 as 'n kollege gestig is en in 1981 'n openbare universiteit geword het.
Gesondheidsorg word deur die Saoedi-regering gratis aan alle pelgrims verskaf. Daar is tien hoofhospitale in Mekka, waaronder die Ajyad-hospitaal, die Koning Faisal-hospitaal, die Koning Abdoelaziz-hospitaal, die Al Noor-spesialishospitaal, die Hira-hospitaal, die kraam- en kinderhospitaal en die Koning Abdoellah-mediese stad. Verder is daar baie klinieke vir sowel inwoners as pelgrims, en tydens die Hadj word verskeie tydelike klinieke opgerig om beseerde pelgrims te behandel.
Ekonomie
[wysig | wysig bron]
'n Groot deel van Mekka se inkomste is van die pelgrims afkomstig, maar sedert 1952 het die koning van Saoedi-Arabië 'n deel van die land se olie-inkomste beskikbaar gestel vir die instandhouding van die stad en sy heiligdomme. Landbougrond en water is skaars en voedsel word van onder meer Djedda af ingevoer. Water kom van die omringende wadi's, die Zubaidabron, wat suidwes van die stad geleë is, en die Azizijjahbron in die noordooste. Elektrisiteit is afkomstig van 'n oliekragsentrale op die pad na Medina. Mekka het beperkte nywerhede.
Die inkomste uit die pelgrimstogte het histories ver buite die stad se grense 'n uitwerking op die ekonomie van die hele Arabiese Skiereiland gehad. Dit is op verskillende maniere verdien: een manier was belasting op die pelgrims, wat veral tydens die Groot Depressie verhoog is en waarvan sommige tot so laat as 1972 bestaan het; 'n ander is die dienste aan pelgrims, en die Saoedi-lugredery Saudia verdien sowat 12 % van sy inkomste uit die pelgrimstog. Die stad ontvang meer as 100 miljoen Amerikaanse dollar uit die Hadj, terwyl die Saoedi-regering omtrent 50 miljoen dollar aan dienste daarvoor bestee. Die bedrywe wat wel in Mekka voorkom, sluit tekstiel, meubels en huishoudelike ware in, maar die grootste deel van die ekonomie is diensgerig en die stad speel nie meer 'n groot rol in Saoedi-Arabië se ekonomie nie, wat hoofsaaklik op olie-uitvoer gebou is.
Sedert 1970 het verskeie ondernemings in die stad ontstaan, onder meer die vervaardiging van gegolfde plaatyster, kopermyning, houtwerk, stoffering, bakkerye, landbou en bankwese. Die stad het in die 20ste en 21ste eeu aansienlik gegroei namate lugreise die getal pelgrims laat toeneem het; duisende Saoediërs word jaar in en jaar uit in diens geneem om die Hadj te bestuur en die hotelle en winkels te bedryf. 'n Nuwe industriële stad word in die Al Akashiya-wyk ontwikkel en beslaan 45 km².
Bevolking
[wysig | wysig bron]Mekka is baie dig bevolk. Die meeste langtermyninwoners woon in die ou stad rondom die Groot Moskee en baie van hulle werk in wat plaaslik as die "Hadj-bedryf" bekend staan. Die hele jaar deur stroom pelgrims die stad binne om die rituele van die Umra te verrig, en in die laaste weke van Dhu al-Qi'dah, die elfde Islamitiese maand, kom gemiddeld 2 tot 4 miljoen Moslems aan om aan die Hadj deel te neem. Die pelgrims kom uit uiteenlopende volke en agtergronde, hoofsaaklik Suid- en Suidoos-Asië, Europa en Afrika, en baie van hulle het in die stad agtergebly en inwoners geword. Teen die 19de eeu het mense van Suid-Asiatiese herkoms al 20 % van die bevolking uitgemaak; die Birmaanse gemeenskap is 'n ouer, gevestigde groep van sowat 250 000 mense. Die ontdekking van olie het in die afgelope halfeeu honderdduisende werkersimmigrante na die streek gebring, en die provinsie Makkah is die enigste provinsie van Saoedi-Arabië waar buitelanders die Saoediërs oortref.
Nie-Moslems mag nie in die stad kom nie, en die verbod strek ook tot die Ahmadiyya, wat as nie-Moslems beskou word. Tog het baie nie-Moslems die stad besoek, aangesien die beperkings nie altyd streng toegepas is nie. Die eerste opgetekende geval van 'n nie-Moslem wat die stad binnegegaan het, is dié van Ludovico di Varthema van Bologna in 1503. Volgens die oorlewering het Guru Nanak, die stigter van die Sikhisme, Mekka in Desember 1518 besoek, en een van die bekendste gevalle is dié van Richard Francis Burton, wat in 1853 as 'n Qadiriyya-Soefi uit Afghanistan gereis het.
Kultuur
[wysig | wysig bron]
Mekka se kultuur is diep deur die groot getalle pelgrims wat jaarliks aankom beïnvloed, en die stad beskik daarom oor 'n ryk kulturele erfenis. Juis weens dié toeloop is Mekka by verre die mees uiteenlopende stad van die Moslemwêreld.
Sport
[wysig | wysig bron]In die voormoderne Mekka was die algemeenste sporte informele stoeigevegte en wedloop. Sokker is vandag die gewildste sport in die stad sowel as in die koninkryk. Die stad huisves van die oudste sportklubs in Saoedi-Arabië, soos Al-Wehda, wat in 1945 gestig is, en die Koning Abdoelaziz-stadion is met plek vir 38 000 mense die grootste stadion in Mekka.
Argitektoniese bakens
[wysig | wysig bron]Teen die suidelike front van die Groot Moskee staan die Abraj al-Bait-kompleks, 'n groep van sewe geboue waarvan die middelste kloktoring 601 m hoog is; dit is een van die hoogste geboue ter wêreld en die sewe geboue vorm saam een van die grootste geboue ter wêreld volgens vloeroppervlak.
Media
[wysig | wysig bron]Die eerste drukpers is in 1885 deur Osman Nuri Pasja, 'n Ottomaanse wali, na Mekka gebring. In die tyd van die Hasjemiete is dit gebruik om die stad se amptelike koerant, Al Qibla, te druk. Die Saoedi-bewind het dié pers in 'n groter onderneming omskep en die nuwe amptelike blad van Mekka, Umm al-Qura, ingestel. Mekka het ook sy eie koerant, Al Nadwa, wat deur die stad besit word, terwyl ander Saoedi-koerante soos die Saudi Gazette, Al Madinah, Okaz en Al Bilad eweneens in die stad beskikbaar is.
Telekommunikasie is vroeg onder Saoedi-bewind beklemtoon. Onder Hoessein bin Ali was daar sowat 20 openbare telefone in die hele stad; in 1936 het die getal tot 450 gespring, wat ongeveer die helfte van al die telefone in die land was. Teen 1985 het Mekka, soos ander Saoedi-stede, oor moderne telefoon-, teleks-, radio- en televisiekommunikasie beskik, en verskeie televisiestasies dien vandag die stad.
Beperkte radiokommunikasie is onder die Hasjemiete tot stand gebring, en in 1929 is draadlose stasies in verskillende dorpe van die streek opgerig wat teen 1932 'n werkende netwerk gevorm het. Kort ná die Tweede Wêreldoorlog is dié netwerk aansienlik uitgebrei. Radio is sedertdien op groot skaal gebruik om die pelgrimstog te bestuur en die pelgrims toe te spreek; dié gebruik het in 1950 met uitsendings op die Dag van Arafat begin en teen 1957 was Radio Makkah met 50 kW die kragtigste stasie in die Midde-Ooste, waarna die krag negevoudig tot 450 kW verhoog is.
Vervoer
[wysig | wysig bron]
Mekka het nie 'n aktiewe lughawe nie: die stad word hoofsaaklik deur die Koning Abdoelaziz-internasionale lughawe in Djedda, sowat 70 km ver, vir internasionale en streeksverbindings en deur die streeklughawe van Taif vir binnelandse vlugte gedien. Om die groot getalle Hadj-pelgrims te hanteer, het die lughawe in Djedda 'n afsonderlike Hadj-terminaal wat 47 vliegtuie gelyktydig kan hanteer en tydens die Hadj-seisoen 3 800 pelgrims per uur kan ontvang.
Die stad lê op die kruising van twee van die belangrikste hoofweë van Saoedi-Arabië: Hoofweg 40, wat dit met Djedda in die weste en met Riaad en Dammam in die ooste verbind, en Hoofweg 15, wat na Medina, sowat 400 km na die noorde, en verder na Tabuk en Jordanië loop en in die suide na Abha en Jizan. Mekka word deur vier ringpaaie gedien en het ook baie tonnels.
Die Al-Masja'ir al-Muqaddassah-metro, wat op 13 November 2010 geopen is, is 'n 18,1 km lange verhoogde spoorlyn wat pelgrims na die heilige plekke Arafat, Muzdalifah en Mina vervoer om die verkeersdruk op die paaie te verminder; dit werk net gedurende die Hadj-seisoen en het nege stasies, drie in elk van dié plekke. 'n Verdere netwerk van vier lyne, die Mekka-metro, word beplan.
In 2018 is die Haramain-hoëspoedspoorlyn in gebruik geneem, wat Mekka en Medina via Djedda, die Koning Abdoelaziz-internasionale lughawe en die Koning Abdoellah-ekonomiese stad by Rabigh verbind. Die spoorlyn gebruik 35 elektriese treine wat elk teen tot 300 km/h oor 'n afstand van 450 km ry, wat die reistyd tussen die twee heilige stede tot minder as twee uur verkort, en kan jaarliks 60 miljoen passasiers vervoer.
Sien ook
[wysig | wysig bron]Bronne
[wysig | wysig bron]- Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0-908409-59-1, volume 18, bl. 107
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (en) "Mecca". Encyclopædia Britannica. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 November 2018. Besoek op 18 November 2018.
- ↑ (en) "Mecca Governorate". City Population. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Februarie 2024. Besoek op 3 Februarie 2024.
- ↑ (en) Peters, Francis E. (1994). The Hajj: The Muslim Pilgrimage to Mecca and the Holy Places. Princeton University Press. p. 206. ISBN 978-0-691-02619-0.
- 1 2 (en) Winder, R. B. (2008). "Makka – The Modern City". Encyclopaedia of Islam. Brill.
- ↑ (en) Peters, F. E. (1994). Mecca: a Literary History of the Muslim Holy Land. Princeton: Princeton University Press. pp. 135–136. ISBN 978-1-4008-8736-1.
- ↑ (en) M. Robinson (2022). "The Population Size of Muḥammad's Mecca and the Creation of the Quraysh". Der Islam. 99 (1): 10-37. doi:10.1515/islam-2022-0002.
- ↑ (en) "Shame of the House of Saud: Shadows over Mecca". The Independent. 19 April 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Maart 2009. Besoek op 23 Augustus 2026.
{{Verwys nuus}}: VS1-onderhoud: bot: oorspronklike URL-status onbekend (link) - ↑ (en) "1990". Express & Star. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 September 2012. Besoek op 3 Februarie 2013.
- ↑ (ar) "الحصر الفعلي للحجاج". General Authority for Statistics. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Julie 2020. Besoek op 29 Junie 2020.
- ↑ (en) "Who's Who: Saleh Al-Turki, the new mayor of Makkah". Arab News. 29 Januarie 2022. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Augustus 2022. Besoek op 26 Augustus 2022.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]| Wikimedia Commons bevat media in verband met Mekka. |
- (en) Toerisme-inligting oor Mecca op Wikivoyage
- (ar) Amptelike webwerf Geargiveer 4 Julie 2017 op Wayback Machine


