Gaan na inhoud

Haumea

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Haumea

Die Hubble-ruimteteleskoop se foto van Haumea (middel) en sy twee mane, Hiʻiaka (bo) en Namaka.
Ontdekking
Ontdek deur Brown et al., Ortiz et al.
Datum 28 Desember 2004 (Brown et al.)
Julie 2005 (Ortiz et al.)
Kleinplaneet-benaming(136108) Haumea
Alternatiewe name2003 EL61
Kleinplaneet-kategorie Dwergplaneet, plutoïde, TNV (nie meer cubewano)[1][2]
Etimologie Haumea
Wentelbaaneienskappe[3]
Epog 30 November 2008 (JD 2 454 800,5)
Afelium 51,585 AE (7,7170 terameter of Tm)
Perihelium 34,647 AE (5,1831 Tm)
Halwe lengteas 43,116 AE (6,4501 Tm)
Wentelperiode 283,12 jaar
(103 410 dae)
Gem. omwentelingspoed 4,53 km/s
Gem. anomalie 218,215°
Baanhelling 28,2137°
Lengteligging van stygende nodus 121,10°
Periheliumhoek 239,18°
Natuurlike satelliete 2
Fisiese eienskappe
Afmetings 2 122+174−144 × 1 688+10−14 × 1 036+36−38 km[4]
Gem. radius ≈772 km[4]
Massa (3,952±0,011)×1021 kg[4] (0,00066 aardmassas)
Gem. digtheid 2,050+0,157−0,152 g/cm3[4]
Oppervlak-
aantrekkingskrag
0,93 m/s2 by pole tot 0,24 m/s2 by langste as
Ontsnapping-
snelheid
1 km/s by pole to 0,71 km/s by langste as
Skynmagnitude 17,3 (opposisie)[5][6]

Haumea (kleinplaneetnommer 136108) is ’n dwergplaneet wat buite Neptunus se wentelbaan geleë is.[7] Dit is in 2004 ontdek deur ’n span onder leiding van Mike Brown van die Kaliforniese Tegnologiese Instituut (Caltech) by die Palomar-sterrewag en in 2005 formeel aangekondig deur ’n span van die Sierra Nevada-sterrewag in Spanje wat dit daardie jaar in voorafontdekkingsbeelde ontdek het wat in 2003 deur die span geneem is. Ná die aankondiging het dit die voorlopige benaming 2003 EL61 ontvang.

Op 17 September 2008 is dit genoem na Haumea, die Hawaise godin van geboorte en vrugbaarheid, in verwagting van die Internasionale Sterrekundige Vereniging (IAU) dat dit as ’n dwergplaneet geklassifiseer sou word. Na raming is dit die derde grootste bekende trans-Neptunus-voorwerp (TNV), ná Eris en Pluto, en ongeveer so groot soos Uranus se maan Titan. Voorafontdekkingsbeelde van Haumea is teruggevoer tot 22 Maart 1955.[3]

Haumea se massa is ongeveer 'n derde dié van Pluto en 1/1 400 dié van die Aarde. Hoewel sy vorm nie direk waargeneem is nie, stem berekeninge uit sy ligkurwe ooreen met dié van ’n ellips, met sy lengteas twee keer so lank soos sy breedteas. In Oktober 2017 het sterrekundiges die ontdekking van ’n ringstelsel om Haumea aangekondig, die eerste een wat om ’n trans-Neptunus-voorwerp en ’n dwergplaneet ontdek is.

Daar is tot onlangs gemeen Haumea se swaartekrag is voldoende om dit in hidrostatiese ewewig te hou, hoewel dit nou onseker is. Daar word gemeen Haumea se uitgerekte vorm, tesame met sy vinnige rotasie, ringe en hoë albedo (as gevolg van ’n oppervlak van kristallyne waterys), is die gevolge van ’n reusebotsing, wat Haumea as die grootste lid van ’n botsingsfamilie (die Haumeafamilie) gelaat het. Hierdie familie sluit verskeie groot trans-Neptunus-voorwerpe in, asook Haumea se twee bekende mane, Hiʻiaka en Namaka.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Ontdekking

[wysig | wysig bron]

Twee spanne maak aanspraak op die ontdekking van Haumea. ’n Span onder Mike Brown van Caltech het Haumea op 28 Desember 2004 ontdek op beelde wat hulle op 6 Mei 2004 geneem het. Op 20 Julie 2005 het hulle ’n aanlynopsomming van ’n verslag gepubliseer wat bedoel was om die ontdekking by ’n konferensie in September 2005 aan te kondig.[8]

Omstreeks dié tyd het José Luis Ortiz Moreno en sy span by die Sierra Nevada-sterrewag in Spanje Haumea gevind op beelde wat op 7-10 Maart 2003 geneem is.[9] Ortiz het die nag van 27 Julie 2005 ’n e-pos aan die Kleinplaneetsentrum (KPS) gestuur om hulle ontdekking bekend te maak.[9]

Brown het aanvanklik aan Ortiz die erkenning vir die ontdekking gegee,[10] maar die Spaanse span later van bedrog begin verdink nadat hy verneem het die Spaanse sterrewag het die dag voor die aankondiging van die ontdekking toegang tot Brown se waarnemingslogboeke verkry, ’n feit wat hulle nie in die aankondiging bekend gemaak het nie. Dié logboeke het genoeg inligting bevat om die Ortiz-span in staat te stel om Haumea in hulle 2003-beelde vooraf te ontdek, en hulle het weer toegang daartoe verkry kort voordat Ortiz teleskooptyd geskeduleer het om bevestigingsbeelde vir ’n tweede aankondiging aan die KPS op 29 Julie te kry. Ortiz het later erken hy het toegang tot die Caltech-waarnemingslogboeke verkry, maar enige oortreding ontken en verklaar hy wou bloot verifieer of hulle ’n nuwe voorwerp ontdek het.[11]

Die IAU-protokol bepaal erkenning vir die ontdekking van ’n kleinplaneet gaan aan die persoon wat eerste ’n verslag by die KPS indien met genoeg posisionele data vir ’n redelike bepaling van sy wentelbaan, en dat die erkende ontdekker voorkeur het met die keuse van ’n naam. Die IAU se aankondiging op 17 September 2008 dat Haumea benoem is deur ’n gesamentlike komitee wat ingestel is vir liggame wat na verwagting dwergplanete sou wees, het egter geen ontdekker genoem nie. Die plek van ontdekking is as die Sierra Nevada-sterrewag van die Spaanse span aangedui,[12][13] maar die gekose naam, Haumea, was die Caltech-voorstel. Ortiz se span het "Ataecina", die antieke Iberiese godin van die lente, voorgestel;[9] as ’n chtoniese godheid sou dit gepas gewees het vir ’n plutino, wat Haumea nie is nie.

Naam en simbool

[wysig | wysig bron]

Voordat dit ’n permanente naam gekry het, het die Caltech-ontdekkingspan die bynaam "Santa" onder mekaar gebruik, omdat hulle Haumea op 28 Desember 2004, net ná Kersfees, ontdek het.[14] Die Spaanse span was die eerste om in Julie 2005 ’n aanspraak op die ontdekking by die KPS in te dien. Op 29 Julie 2005 het Haumea die voorlopige benaming 2003 EL61 gekry gebaseer op die datum van die Spaanse ontdekkingbeeld. Op 7 September 2006 is dit genommer en in die amptelike katalogus van kleinplanete opgeneem as (136108) 2003 EL61.

Ingevolge riglyne wat destyds deur die IAU vasgestel is, waarvolgens klassieke Kuipergordelvoorwerpe name moet kry van mitologiese wesens wat met skepping verbind word,[15] het die Caltech-span in September 2006 formele name uit die Hawaise mitologie aan die IAU voorgelê vir beide (136108) 2003 EL61 en sy mane, "om hulde te bring aan die plek waar die satelliete ontdek is".[16] Die name is voorgestel deur David Rabinowitz van die Caltech-span.[7] Haumea is die moedergodin van die eiland Hawaiʻi, waar die Gemini-sterrewag en W.M. Keck-sterrewag op Mauna Kea geleë is. Daarbenewens word sy met Papa, die godin van die aarde en vrou van Wākea (ruimte), geïdentifiseer.[17] Dit het destyds gepas gelyk omdat daar gemeen is Haumea bestaan byna geheel en al uit soliede rots, sonder die dik yslaag oor ’n klein rotsagtige kern wat tipies is van ander bekende Kuipergordelvoorwerpe.[18][19] Laastens is Haumea die godin van vrugbaarheid en geboorte, met baie kinders wat uit verskillende dele van haar liggaam voortgespruit het;[17] dit stem ooreen met die swerm ysagtige liggame wat vermoedelik tydens ’n antieke botsing van die hoofliggaam afgebreek het.[19] Die twee bekende mane, wat ook vermoedelik op hierdie manier gevorm het,[19] is gevolglik genoem na twee van Haumea se dogters, Hiʻiaka en Namaka.[18]

In 2008 het die IAU aangekondig die naam van die dwergplaneet sou Haumea wees, eerder as Ataecina, die voorstel van die Ortiz-span.[20][21] Die huidige riglyne bepaal name van onderwêreldgode (soos Ataecina) word eerder vir plutino's gebruik. Plutino’s is in ’n 3:2-resonansie met Neptunus,[22] terwyl Haumea in ’n swak 7:12-resonansie is.[23]

’n Planetêre simbool vir Haumea is in Unicode op U+1F77B ingesluit.[24] Planetêre simbole word nie meer algemeen in die sterrekunde gebruik nie, maar meestal deur astroloë.[25] Dit is egter ook deur Nasa gebruik.[26]

Haumea se wentelbaan buite Neptunus (blou) is soortgelyk aan dié van Makemake (groen). Die posisies is dié van 1 Januarie 2018.

Wentelbaan

[wysig | wysig bron]

Haumea het ’n wentelperiode van 284-285 aardjare, ’n perihelium van 35 AE en ’n baanhelling van 28°.[3][27] Dit het vroeg in 1992 deur afelium beweeg en is tans meer as 50 AE van die Son af.[5] Dit sal in 2133 sy perihelium bereik.[28] Haumea se wentelbaan het ’n effens groter eksentrisiteit as dié van die ander lede van sy botsings. Dit is vermoedelik te wyte aan Haumea se swak 7:12-wentelresonansie met Neptunus, wat sy aanvanklike wentelbaan geleidelik oor die verloop van ’n miljard jaar verander het.[19][29]

Met ’n skynbare magnitude van 17,3[5] is Haumea die derde helderste voorwerp in die Kuipergordel ná Pluto en Makemake, en dit is maklik met ’n groot amateurteleskoop waarneembaar.[30] Die planete en die meeste klein Sonnestelselliggame deel egter ’n gemeenskaplike baanoriëntasie wat ontstaan het tydens hulle vorming in die oerskyf van die Sonnestelsel. Daarom het die meeste vroeë opnames van verafgeleë voorwerpe gefokus op die projeksie van hierdie gemeenskaplike vlak aan die hemel, wat die sonnebaan genoem word.[31]

Namate die hemelgebied naby die sonnebaan deeglik ondersoek is, het latere opnames begin soek na voorwerpe wat dinamies in wentelbane met groter hellings gebring is, asook na meer verafgeleë voorwerpe met stadiger gemiddelde bewegings oor die hemel.[32][33] Dié opnames het uiteindelik die ligging van Haumea gedek, met sy groot baanhelling en huidige posisie ver van die sonnebaan.

Dit is onwaarskynlik dat Haumea se toekomstige wentelbaan oor die bestaan van die Sonnestelsel stabiel sal wees. ’n Studie waarin die toekomstige wentelbane van 34 trans-Neptunus-voorwerpe gesimuleer is, het getoon Haumea is statisties die waarskynlikste om binne die volgende miljard jaar uit sy wentelbaan na die interstellêre ruimte of die binneste Sonnestelsel uitgeslinger te word.[34]

Moontlike resonansie met Neptunus

[wysig | wysig bron]

Haumea is vermoedelik in ’n 7:12-baanresonansie met Neptunus.[19] Sy stygende knoop Ω presesseer met ’n periode van ongeveer 4,6 miljoen jaar, en die resonansie word twee keer per presessiesiklus verbreek, of elke 2,3 miljoen jaar, net om ongeveer honderdduisend jaar later terug te keer.[2]

Aangesien dit nie ’n stabiele resonansie is nie, klassifiseer die Amerikaanse sterrekundige Marc Buie dit as nieresonerend.[35]

Fisiese eienskappe

[wysig | wysig bron]

Grootte, vorm en samestelling

[wysig | wysig bron]

Die grootte van ’n Sonnestelselvoorwerp kan uit sy optiese magnitude, sy afstand en sy albedo afgelei word. Voorwerpe lyk vir waarnemers op Aarde helder óf omdat hulle groot is óf omdat hulle hoogs weerkaatsend is. Indien hulle weerkaatsing (albedo) bepaal kan word, kan ’n ruwe skatting van hulle grootte gemaak word. Vir die meeste verafgeleë voorwerpe is die albedo onbekend, maar Haumea is groot en helder genoeg dat sy termiese uitstraling gemeet kan word. Dit verskaf ’n benaderde waarde vir sy albedo en gevolglik sy grootte.[36]

Die berekening van sy afmetings word egter bemoeilik deur sy vinnige rotasie. Daar word gemeen die grootste deel van die wisseling in Haumea se helderheid word nie deur plaaslike verskille in albedo veroorsaak nie, maar deur die afwisseling tussen die syaansig en die aansig van die punte soos dit vanaf die Aarde gesien word.[30] Daar word aangevoer die rotasie en amplitude van Haumea se ligkurwe plaas sterk beperkings op sy samestelling. Indien Haumea in hidrostatiese ewewig was en ’n lae digtheid soos Pluto gehad het, met ’n dik mantel van ys oor ’n klein rotsagtige kern, sou sy vinnige rotasie dit in ’n groter mate verleng het as wat die wisselings in sy helderheid toelaat. Dié oorwegings beperk sy digtheid tot ’n reeks van 2,6-3,3 g/cm3.[37] In vergelyking het Hiʻiaka, wat rotsagtig is, ’n digtheid van 3,3 g/cm3, terwyl Pluto, wat tipies is van ysagtige voorwerpe in die Kuipergordel, ’n digtheid van 1,86 g/cm3 het.

Haumea se moontlik hoë digtheid is kenmerkend van silikaatminerale soos olivien en piroksien, wat baie van die rotsagtige voorwerpe in die Sonnestelsel vorm. Dit het ook daarop gedui dat die grootste deel van Haumea uit rots bestaan wat deur ’n betreklik dun laag ys bedek word. ’n Dik yslaag, wat meer tipies van Kuipergordelvoorwerpe is, kon weggeskiet het tydens die botsing wat die Haumeafamilie gevorm het.[19]

Omdat Haumea mane het, kan die massa van die stelsel uit hulle wentelbane bereken word deur Kepler se wet te gebruik. Die resultaat is 4,2×1021 kg, 28% van die massa van die Plutostelsel en 6% van dié van die Maan. Byna al hierdie massa is in Haumea vervat.[38]

Verskeie berekeninge van Haumea se afmetings met behulp van ellipsmodelle is gemaak. Die eerste model wat ná Haumea se ontdekking opgestel is, is bereken uit grondgebaseerde waarnemings van Haumea se ligkurwe by optiese golflengtes. Dit het ’n totale lengte van 1 960 tot 2  km en ’n visuele albedo (pv) van meer as 0,6 opgelewer.[30] Die waarskynlikste vorm is ’n ellips met drie asse en benaderde afmetings van 2 000 × 1 500 × 1 000 km.[30] Waarnemings deur die Spitzer-ruimteteleskoop het ’n deursnee van 1 150+250−100 km en ’n albedo van 0,84+0,1−0,2 opgelewer uit fotometrie by infrarooi golflengtes van 70 μm.[36] Daaropvolgende ontledings van die ligkurwe het ’n ekwivalente sirkelvormige deursnee van 1 450 km voorgestel.[39]

In 2010 het ’n ontleding van metings wat met die Herschel-ruimteteleskoop verkry is, saam met die ouer metings van die Spitzer-teleskoop, ’n nuwe raming van Haumea se ekwivalente deursnee opgelewer: sowat 1 300 km.[40] In 2013 het die Herschel-ruimteteleskoop Haumea se ekwivalente sirkelvormige deursnee as ongeveer 1 240+69−58 km gemeet.[41]

Die berekende ellipsvorm van Haumea, 1 960 × 1 518 × 996 km (met die aanname van ’n albedo van 0,73). Links is die minimum en maksimum ekwatoriale silhoeët (1 960 × 996 en 1 518 × 996 km). Regs is die aansig van die pool af (1 960 × 1 518 km).
Haumea se vinnige rotasie (van net minder as 4 uur) het dit tot ’n drieassige ellips uitgerek. Haumea vertoon onderskeibare kleurvariasies terwyl dit roteer, wat dui op ’n donkerrooi vlek op sy oppervlak soos hier uitgebeeld.

Waarnemings van ’n ster-okkultasie in Januarie 2017 het egter al hierdie gevolgtrekkings in twyfel getrek. Hoewel die gemete vorm van Haumea, soos voorheen veronderstel, verleng was, het dit volgens die data wat uit die okkultasie verkry is, aansienlik groter afmetings gehad – Haumea is omtrent so groot soos Pluto langs sy langste as en ongeveer die helfte daarvan by sy pole.[42] Die gevolglike digtheid wat uit Haumea se waargenome vorm bereken is, was ongeveer 1,8 g/cm3 – meer in ooreenstemming met die digthede van ander groot TNV's. Hierdie vorm was oënskynlik nie versoenbaar met ’n homogene liggaam in hidrostatiese ewewig nie,[42] hoewel Haumea nietemin blykbaar een van die grootste ontdekte TNV's is,[36] kleiner as Eris en Pluto, soortgelyk aan Makemake en moontlik Gonggong, en groter as Sedna, Quaoar en Orcus.

’n Studie van 2019 het probeer om die teenstrydige metings van Haumea se vorm en digtheid te versoen deur numeriese modellering van Haumea as ’n gedifferensieerde liggaam. Daar is bevind dat afmetings van ≈ 2 100 × 1 680 × 1 074 km die beste passing met Haumea se waargenome vorm tydens die okkultasie in 2017 gelewer het.[43] Die hersiene oplossing vir Haumea se vorm impliseer dat dit ’n kern van sowat 1 626 × 1 446 × 940 km het, met ’n betreklik hoë digtheid van ≈ 2,68 g/cm3, wat dui op ’n samestelling wat grootliks uit gehidreerde silikate soos kaoliniet bestaan. Die kern word omring deur ’n ysagtige mantel wat in dikte wissel van ongeveer 70 km by die pole tot 170 km langs sy langste as. Dit maak tot 17% van Haumea se massa uit. Haumea se gemiddelde digtheid word op ≈ 2,018 g/cm3 geraam, met ’n albedo van ≈ 0,66.[43]

Oppervlak

[wysig | wysig bron]

In 2005 het die Gemini- en die Keck-teleskoop spektrums van Haumea verkry wat sterk kenmerke van kristallyne waterys getoon het, soortgelyk aan die oppervlak van Pluto se maan Charon.[44] Dit is ongewoon, omdat kristallyne ys by temperature bo 110 K vorm, terwyl Haumea se oppervlaktemperatuur onder 50 K is, ’n temperatuur waarby amorfe (vormlose) ys gevorm word.[44] Daarbenewens is die struktuur van kristallyne ys onstabiel onder die voortdurende bombardement deur kosmiese strale en energieke deeltjies van die Son wat trans-Neptunus-voorwerpe tref.[44] Die tydskaal waarop kristallyne ys onder hierdie bombardement na amorfe ys terugkeer, is in die orde van 10 miljoen jaar,[45] terwyl trans-Neptunus-voorwerpe al miljarde jare in hulle huidige koue omgewings verkeer.[29]

Stralingskade behoort ook die oppervlak van trans-Neptunus-voorwerpe rooier en donkerder te maak as die algemene oppervlakmateriaal uit organiese ys en tolienagtige verbindings bestaan, soos in die geval van Pluto. Die spektrums en kleur dui dus daarop dat Haumea en die lede van sy familie onlangs ’n oppervlakvernuwing ondergaan het, met vars ys as gevolg. Geen aanneemlike meganisme vir hierdie oppervlakvernuwing is egter voorgestel nie.[46]

Haumea is so helder soos sneeu, met ’n albedo in die reeks 0,6-0,8, wat met kristallyne ys ooreenstem.[47] Ander groot TNV’s soos Eris blyk albedo's te hê wat net so hoog of selfs hoër is.[47] Modellering van die oppervlak se spektrums met die beste passing het daarop gedui dat 66% tot 80% van Haumea se oppervlak blykbaar uit suiwer kristallyne waterys bestaan, met waterstofsianied of fillosilikaatklei moontlik as een van die bydraende faktore tot die hoë albedo.[44] Anorganiese sianiedsoute soos kopersianied-kaliumsianied kan ook voorkom.[44]

Verdere studies van die sigbare en naby-infrarooi spektrams dui egter op ’n homogene oppervlak wat bedek is met ’n intieme 1:1-mengsel van amorfe en kristallyne ys, tesame met hoogstens 8% organiese materiaal. Die afwesigheid van ammoniakhidraat sluit kriovulkanisme uit, en die waarnemings bevestig dat die botsingsgebeurtenis meer as 100 miljoen jaar gelede moes plaasgevind het, in ooreenstemming met die dinamiese studies.[48] Die afwesigheid van meetbare metaan in Haumea se spektrums stem ooreen met ’n warm botsingsgeskiedenis wat sulke vlugtige stowwe sou verwyder het,[44] in teenstelling met Makemake.[49]

Benewens die groot variasies in Haumea se ligkurwe as gevolg van die liggaam se vorm, wat alle kleure in gelyke mate beïnvloed, toon kleiner, onafhanklike kleurvariasies wat in beide sigbare en naby-infrarooi golflengtes waargeneem word, ’n gebied op die oppervlak wat sowel in kleur as albedo verskil.[50][51] Meer spesifiek is ’n groot donkerrooi gebied op Haumea se helderwit oppervlak in September 2009 waargeneem, moontlik ’n impakkenmerk, wat dui op ’n gebied ryk aan minerale en organiese (koolstofryke) verbindings, of moontlik ’n groter hoeveelheid kristallyne ys.[52][53] Haumea kan dus ’n gevlekte oppervlak hê wat aan Pluto herinner, hoewel nie in dieselfde uiterse mate nie.

Ring en mane

[wysig | wysig bron]
Haumea se rotasie van 3,9155 uur binne die ontdekte ring.

’n Sterokkultasie wat op 21 Januarie 2017 waargeneem en in ’n Oktober 2017-artikel in die tydskrif Nature beskryf is, het op die teenwoordigheid van ’n ring om Haumea gedui. Dit is die eerste ringstelsel wat om ’n TNV ontdek is.[42][54] Die ring het ’n radius van ongeveer 2 287 km, ’n breedte van ~70 km en ’n ondeursigtigheid van 0,5. Dit lê ruim binne Haumea se Rochelimiet, wat ’n radius van ongeveer 4 400 km sou gehad het indien Haumea bolvormig was (die feit dat Haumea nie bolvormig is nie skuif die limiet verder uit).[42]

Die ringvlak is 3,2±1,4 grade ten opsigte van Haumea se ewenaarvlak gekantel en val ongeveer saam met die wentelvlak van sy groter, buitenste maan, Hiʻiaka.[42][55] Die ring is ook naby die 1:3-baanresonansie met Haumea se rotasie (wat op ’n radius van 2 285 ± 8 km van Haumea se middelpunt af plaasvind). Daar word beraam dat die ring 2,5% tot Haumea se totale helderheid bydra.[42]

Haumea and its orbiting moons, imaged by Hubble in 2008. Hiʻiaka is the brighter, outermost moon, while Namaka is the fainter, inner moon.

Twee klein mane is om Haumea ontdek: (136108) Haumea I, of Hiʻiaka, en (136108) Haumea II, of Namaka.[12] Darin Ragozzine en Michael Brown het albei in 2005 ontdek deur waarnemings van Haumea met die W.M. Keck-sterrewag.

Botsingsfamilie

[wysig | wysig bron]
’n Grafiek wat bevestigde[56][57] Haumeafamilielede volgens skaal toon (soos in 2025). Lede waarvan die grootte nie gemeet is nie, word met beraamde deursneë getoon, met ’n veronderstelde albedo van 0,7.

Haumea is die grootste lid van sy botsingsfamilie, ’n groep sterrekundige voorwerpe met soortgelyke fisiese en baaneienskappe wat vermoedelik gevorm het toe ’n groter voorganger deur ’n botsing versplinter is.[19] Dié familie is die eerste een wat onder TNV’s geïdentifiseer is en sluit, benewens Haumea en sy mane, (55636) 2002 TX300 (≈364 km), (24835) 1995 SM55 (≈174 km), (19308) 1996 TO66 (≈200 km), (120178) 2003 OP32 (≈230 km) en (145453) 2005 RR43 (≈252 km) in.[58] Brown en sy kollegas het voorgestel die familie was ’n direkte gevolg van die botsing wat Haumea se ysagtige mantel verwyder het,[19] maar ’n tweede voorstel dui op ’n ingewikkelder oorsprong: Die materiaal wat tydens die aanvanklike botsing uitgestoot is, het eerder saamgeklonter en ’n groot maan van Haumea gevorm, wat later tydens ’n tweede botsing versplinter is, waarna die fragmente na buite versprei het.[59] Hierdie tweede scenario lewer blykbaar ’n verspreiding van snelhede vir die fragmente wat beter ooreenstem met die gemete snelheidsverspreiding van die familielede.[59]

Die teenwoordigheid van die botsingsfamilie kan daarop dui dat Haumea en sy "nakomelinge" moontlik in die verstrooide skyf ontstaan het. In die huidige ylbevolkte Kuipergordel is die kans op so ’n botsing gedurende die ouderdom van die Sonnestelsel minder as 0,1 persent.[60] Die familie kon nie in die digter oergordel van die Kuipergordel gevorm het nie, omdat so ’n hegte groep deur Neptunus se migrasie na die gordel ontwrig sou word – die veronderstelde oorsaak van die gordel se huidige lae digtheid.[60] Daarom blyk die dinamiese gebied van die verstrooide skyf, waar die moontlikheid van so ’n botsing veel groter is, waarskynlik die plek van oorsprong te wees van die voorwerp wat Haumea en sy verwante objekte voortgebring het.[60]

Omdat dit minstens ’n miljard jaar sou neem vir die groep om so ver uitmekaar te versprei as wat tans die geval is, word vermoed die botsing wat die Haumeafamilie gevorm het, het minstens so lank gelede plaasgevind.[58]

Haumea soos op 6 Oktober 2007 deur New Horizons afgeneem.

Verkenning

[wysig | wysig bron]

Haumea is in Oktober 2007, Januarie 2017 en Mei 2020 op ’n afstand deur die New Horizons-ruimtetuig waargeneem, onderskeidelik van afstande van 49 AE, 59 AE en 63 AE af.[61] Die ruimtetuig se uitgaande baan het waarnemings van Haumea teen hoë fasehoeke moontlik gemaak wat nie van die Aarde af verkry sou kon word nie, waardeur die ligverstrooiingseienskappe en fasekurwegedrag van Haumea se oppervlak bepaal kon word.[61]

’n Verbyvlugsending kan Haumea binne 16,45 jaar bereik indien dit op 1 November 2026, 23 September 2037 of 29 Oktober 2038 gelanseer word.[62] Haumea kan ’n teiken vir ’n verkenningseding word,[63] en ’n voorbeeld hiervan is ’n voorlopige studie van ’n ruimtetuig na Haumea en sy mane (op 35-51 AE).[64]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. ↑ "MPEC 2010-H75 : DISTANT MINOR PLANETS (2010 MAY 14.0 TT)" (2006 provisional Cebuano listing). Minor Planet Center. 10 April 2010. Besoek op 2 Julie 2010. {{Verwys web}}: Eksterne skakel in |format= (hulp)
  2. 1 2 (en) Marc W. Buie (25 Junie 2008). "Orbit Fit and Astrometric record for 136108". Southwest Research Institute (Space Science Department). Besoek op 2 Oktober 2008.
  3. 1 2 3 (en) "Jet Propulsion Laboratory Small-Body Database Browser: 136108 Haumea (2003 EL61)". NASA's Jet Propulsion Laboratory. 10 Mei 2008. Besoek op 11 Junie 2008.
  4. 1 2 3 4 Proudfoot, Benjamin; Grundy, Will; Rommel, Flavia Luane; Fernández-Valenzuela, Estela; Ragozzine, Darin (27 Mei 2026). "Triaxial shapes and densities of G!kún | 'hòmdímà, Haumea, and Varda from stellar occultations". The Planetary Science Journal. arXiv:2605.28636.
  5. 1 2 3 (en) "AstDys (136108) Haumea Ephemerides". Department of Mathematics, University of Pisa, Italy. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Junie 2011. Besoek op 19 Maart 2009.
  6. ↑ (en) "HORIZONS Web-Interface". NASA Jet Propulsion Laboratory Solar System Dynamics. Besoek op 2 Julie 2008.
  7. 1 2 "IAU names fifth dwarf planet Haumea". IAU Press Release. 17 September 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Julie 2011. Besoek op 17 September 2008.
  8. ↑ Michael E Brown. "The electronic trail of the discovery of 2003 EL61". Caltech. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 September 2006. Besoek op 16 Augustus 2006.
  9. 1 2 3 Pablo Santos Sanz (26 September 2008). "La historia de Ataecina vs Haumea" (in Spaans). infoastro.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 September 2008. Besoek op 29 September 2008.
  10. ↑ Michael E. Brown. How I Killed Pluto and Why It Had It Coming, hoofstuk 9: "The Tenth Planet"
  11. ↑ Jeff Hecht (21 September 2005). "Astronomer denies improper use of web data". New Scientist.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Maart 2011. Besoek op 12 Januarie 2009.
  12. 1 2 "Dwarf Planets and their Systems". US Geological Survey Gazetteer of Planetary Nomenclature. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Junie 2011. Besoek op 17 September 2008.
  13. ↑ Rachel Courtland (19 September 2008). "Controversial dwarf planet finally named 'Haumea'". NewScientistSpace. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 September 2008. Besoek op 19 September 2008.
  14. ↑ "Santa et al". NASA Astrobiology Magazine. 10 September 2005. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 April 2006. Besoek op 16 Oktober 2008.
  15. ↑ "Naming of Astronomical Objects: Minor planets". International Astronomical Union. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Desember 2008. Besoek op 17 November 2008.
  16. ↑ Mike Brown (17 September 2008). "Dwarf planets: Haumea". Caltech. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 September 2008. Besoek op 18 September 2008.
  17. 1 2 Robert D. Craig (2004). Handbook of Polynesian Mythology. ABC-CLIO. p. 128. ISBN 978-1-57607-894-5. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Februarie 2023. Besoek op 11 November 2020.
  18. 1 2 "News Release – IAU0807: IAU names fifth dwarf planet Haumea". International Astronomical Union. 17 September 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Julie 2009. Besoek op 18 September 2008.
  19. 1 2 3 4 5 6 7 8 Brown, M. E.; Barkume, K. M.; Ragozzine, D.; Schaller, L. (2007). "A collisional family of icy objects in the Kuiper belt" (PDF). Nature. 446 (7133): 294-296. Bibcode:2007Natur.446..294B. doi:10.1038/nature05619. PMID 17361177. S2CID 4430027. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 4 Mei 2020. Besoek op 14 Julie 2019.
  20. ↑ "International Astronomical Union". iauarchive.eso.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 September 2026. Besoek op 12 Junie 2026.
  21. ↑ Courtland, Rachel. "Controversial dwarf planet finally named 'Haumea'". New Scientist (in American English). Besoek op 12 Junie 2026.
  22. ↑ WGSBN (22 Februarie 2025). "Rules and Guidelines for Naming Non-Cometary Small Solar-System Bodies" (PDF). wgsbn-iau.org.
  23. ↑ Baransky, A (2020). "Astrometric and photometric observations of six brightest trans-Neptunian objects at the Kyiv comet station". Advances in Astronomy and Space Physics – via arxiv.
  24. ↑ "Proposed New Characters: The Pipeline". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Januarie 2022. Besoek op 29 Januarie 2022.
  25. ↑ Miller, Kirk (26 Oktober 2021). "Unicode request for dwarf-planet symbols" (PDF). unicode.org. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 23 Maart 2022. Besoek op 6 Augustus 2022.
  26. ↑ JPL/NASA (22 April 2015). "What is a Dwarf Planet?". Jet Propulsion Laboratory. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Januarie 2021. Besoek op 24 September 2021.
  27. ↑ "Haumea". NASA Science. 14 November 2017. Besoek op 16 Augustus 2026.
  28. ↑ "Horizons Batch for Haumea at perihelion around 1 June 2133". JPL Horizons (Perihelion occurs when rdot flips from negative to positive. The JPL SBDB generically (incorrectly) lists an unperturbed two-body perihelion date in 2132). Jet Propulsion Laboratory. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 September 2021. Besoek op 13 September 2021.
  29. 1 2 Michael E. Brown. "The largest Kuiper belt objects" (PDF). Caltech. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 1 Oktober 2008. Besoek op 19 September 2008.
  30. 1 2 3 4 Rabinowitz, D. L.; Barkume, Kristina; Brown, Michael E.; Roe, Henry; Schwartz, Michael; Tourtellotte, Suzanne; Trujillo, Chad (2006). "Photometric Observations Constraining the Size, Shape, and Albedo of 2003 EL61, a Rapidly Rotating, Pluto-Sized Object in the Kuiper Belt". Astrophysical Journal. 639 (2): 1238-1251. arXiv:astro-ph/0509401. Bibcode:2006ApJ...639.1238R. doi:10.1086/499575. S2CID 11484750.
  31. ↑ C. A. Trujillo & M. E. Brown (Junie 2003). "The Caltech Wide Area Sky Survey". Earth, Moon, and Planets. 112 (1-4): 92-99. Bibcode:2003EM&P...92...99T. doi:10.1023/B:MOON.0000031929.19729.a1. S2CID 189905639.
  32. ↑ Brown, M. E.; Trujillo, C.; Rabinowitz, D. L. (2004). "Discovery of a candidate inner Oort cloud planetoid". The Astrophysical Journal. 617 (1): 645-649. arXiv:astro-ph/0404456. Bibcode:2004ApJ...617..645B. doi:10.1086/422095. S2CID 7738201.
  33. ↑ Schwamb, M. E.; Brown, M. E.; Rabinowitz, D. L. (2008). "Constraints on the distant population in the region of Sedna". American Astronomical Society, DPS Meeting #40, #38.07. 40: 465. Bibcode:2008DPS....40.3807S.
  34. ↑ Muñoz-Gutiérrez, Marco A.; Peimbert, Antoni; Lehner, Matthew J.; Wang, Shiang-Yu (Oktober 2021). "Long-term Dynamical Stability in the Outer Solar System. I. The Regular and Chaotic Evolution of the 34 Largest Trans-Neptunian Objects". The Astronomical Journal. 162 (4): 164. arXiv:2107.00240. Bibcode:2021AJ....162..164M. doi:10.3847/1538-3881/ac1102. S2CID 235694711.
  35. ↑ "Orbit and Astrometry for 136108". www.boulder.swri.edu. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Julie 2020. Besoek op 14 Julie 2020.
  36. 1 2 3 Stansberry, J.; Grundy, W.; Brown, M.; Cruikshank, D.; Spencer, J.; Trilling, D.; Margot, J-L. (2008). "Physical Properties of Kuiper Belt and Centaur Objects: Constraints from Spitzer Space Telescope". The Solar System Beyond Neptune. University of Arizona Press: 161. arXiv:astro-ph/0702538. Bibcode:2008ssbn.book..161S.
  37. ↑ Alexandra C. Lockwood; Michael E. Brown; John Stansberry (2014). "The size and shape of the oblong dwarf planet Haumea". Earth, Moon, and Planets. 111 (3-4): 127-137. arXiv:1402.4456v1. Bibcode:2014EM&P..111..127L. doi:10.1007/s11038-014-9430-1. S2CID 18646829.
  38. ↑ Brown, M. E.; Bouchez, A. H.; Rabinowitz, D.; Sari, R.; Trujillo, C. A.; Van Dam, M.; Campbell, R.; Chin, J.; Hartman, S.; Johansson, E.; Lafon, R.; Le Mignant, D.; Stomski, P.; Summers, D.; Wizinowich, P. (2005). "Keck Observatory Laser Guide Star Adaptive Optics Discovery and Characterization of a Satellite to the Large Kuiper Belt Object 2003 EL61" (PDF). Astrophysical Journal Letters. 632 (1): L45-L48. Bibcode:2005ApJ...632L..45B. doi:10.1086/497641. S2CID 119408563. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 2 Desember 2017. Besoek op 4 November 2018.
  39. ↑ Lacerda, P.; Jewitt, D. C. (2007). "Densities of Solar System Objects from Their Rotational Light Curves". Astronomical Journal. 133 (4): 1393-1408. arXiv:astro-ph/0612237. Bibcode:2007AJ....133.1393L. doi:10.1086/511772. S2CID 17735600.
  40. ↑ Lellouch, E.; Kiss, C.; Santos-Sanz, P.; Müller, T. G.; Fornasier, S.; Groussin, O.; et al. (2010). ""TNOs are cool": A survey of the trans-Neptunian region II. The thermal lightcurve of (136108) Haumea". Astronomy and Astrophysics. 518: L147. arXiv:1006.0095. Bibcode:2010A&A...518L.147L. doi:10.1051/0004-6361/201014648. S2CID 119223894.
  41. ↑ Fornasier, S.; Lellouch, E.; Müller, T.; Santos-Sanz, P.; Panuzzo, P.; Kiss, C.; Lim, T.; Mommert, M.; Bockelée-Morvan, D.; Vilenius, E.; Stansberry, J.; Tozzi, G. P.; Mottola, S.; Delsanti, A.; Crovisier, J.; Duffard, R.; Henry, F.; Lacerda, P.; Barucci, A.; Gicquel, A. (2013). ""TNOs are cool": A survey of the trans-Neptunian region VIII. Combined Herschel PACS and SPIRE observations of nine bright targets at 70–500 μm" (PDF). Astronomy and Astrophysics. 555: A15. arXiv:1305.0449. Bibcode:2013A&A...555A..15F. doi:10.1051/0004-6361/201321329. S2CID 119261700. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 5 Desember 2014.
  42. 1 2 3 4 5 6 Ortiz, J. L.; Santos-Sanz, P.; Sicardy, B.; Benedetti-Rossi, G.; Bérard, D.; Morales, N.; et al. (2017). "The size, shape, density and ring of the dwarf planet Haumea from a stellar occultation" (PDF). Nature. 550 (7675): 219-223. arXiv:2006.03113. Bibcode:2017Natur.550..219O. doi:10.1038/nature24051. hdl:10045/70230. PMID 29022593. S2CID 205260767. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 7 November 2020. Besoek op 19 Augustus 2020.
  43. 1 2 Dunham, E. T.; Desch, S. J.; Probst, L. (April 2019). "Haumea's Shape, Composition, and Internal Structure". The Astrophysical Journal. 877 (1): 11. arXiv:1904.00522. Bibcode:2019ApJ...877...41D. doi:10.3847/1538-4357/ab13b3. S2CID 90262114.
  44. 1 2 3 4 5 6 Chadwick A. Trujillo; Michael E. Brown; Kristina Barkume; Emily Shaller; David L. Rabinowitz (2007). "The Surface of 2003 EL61 in the Near Infrared". Astrophysical Journal. 655 (2): 1172-1178. arXiv:astro-ph/0601618. Bibcode:2007ApJ...655.1172T. doi:10.1086/509861. S2CID 118938812. {{Verwys vaktydskrif}}: Aanhaling het leë onbekende parameter: |1= (hulp)
  45. ↑ Gemini Observatory (17 July 2007). "Charon: An ice machine in the ultimate deep freeze". Persberig. http://www.spaceflightnow.com/news/n0707/17charon/. Besoek op 2007-07-18.
  46. ↑ Rabinowitz, D. L.; Schaefer, Bradley E.; Schaefer, Martha; Tourtellotte, Suzanne W. (2008). "The Youthful Appearance of the 2003 EL61 Collisional Family". The Astronomical Journal. 136 (4): 1502-1509. arXiv:0804.2864. Bibcode:2008AJ....136.1502R. doi:10.1088/0004-6256/136/4/1502. S2CID 117167835. Verwysingfout: <ref> tag with name "Rabinowitz2008" defined in <references> group "" has no content.
  47. 1 2 Brown, M. E.; Schaller, E. L.; Roe, H. G.; Rabinowitz, D. L.; Trujillo, C. A. (2006). "Direct measurement of the size of 2003 UB313 from the Hubble Space Telescope" (PDF). The Astrophysical Journal Letters. 643 (2): L61-L63. arXiv:astro-ph/0604245. Bibcode:2006ApJ...643L..61B. doi:10.1086/504843. S2CID 16487075. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 10 September 2008.
  48. ↑ Pinilla-Alonso, N.; Brunetto, R.; Licandro, J.; Gil-Hutton, R.; Roush, T. L.; Strazzulla, G. (2009). "Study of the Surface of 2003 EL61, the largest carbon-depleted object in the trans-neptunian belt". Astronomy and Astrophysics. 496 (2): 547-556. arXiv:0803.1080. Bibcode:2009A&A...496..547P. doi:10.1051/0004-6361/200809733. S2CID 15139257.
  49. ↑ Tegler, S. C.; Grundy, W. M.; Romanishin, W.; Consolmagno, G. J.; Mogren, K.; Vilas, F. (2007). "Optical Spectroscopy of the Large Kuiper Belt Objects 136472 (2005 FY9) and 136108 (2003 EL61)". The Astronomical Journal. 133 (2): 526-530. arXiv:astro-ph/0611135. Bibcode:2007AJ....133..526T. doi:10.1086/510134. S2CID 10673951.
  50. ↑ P. Lacerda; D. Jewitt & N. Peixinho (2008). "High-Precision Photometry of Extreme KBO 2003 EL61". Astronomical Journal. 135 (5): 1749-1756. arXiv:0801.4124. Bibcode:2008AJ....135.1749L. doi:10.1088/0004-6256/135/5/1749. S2CID 115712870.
  51. ↑ P. Lacerda (2009). "Time-Resolved Near-Infrared Photometry of Extreme Kuiper Belt Object Haumea". Astronomical Journal. 137 (2): 3404-3413. arXiv:0811.3732. Bibcode:2009AJ....137.3404L. doi:10.1088/0004-6256/137/2/3404. S2CID 15210854.
  52. ↑ Agence France-Presse (16 September 2009). "Astronomers get lock on diamond-shaped Haumea". European Planetary Science Congress in Potsdam. News Limited. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 September 2009. Besoek op 16 September 2009.
  53. ↑ "Strange Dwarf Planet Has Red Spot". Space.com. 15 September 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 November 2009. Besoek op 12 November 2009.
  54. ↑ Verrassing! Die dwergplaneet Haumea het ’n ring Geargiveer 22 Oktober 2017 op Wayback Machine, Sky and Telescope, 13 Oktober 2017.
  55. ↑ Kondratyev, B. P.; Kornoukhov, V. S. (Oktober 2020). "Secular Evolution of Rings around Rotating Triaxial Gravitating Bodies". Astronomy Reports. 64 (10): 870-875. Bibcode:2020ARep...64..870K. doi:10.1134/S1063772920100030.
  56. ↑ Proudfoot, Benjamin; Ragozzine, Darin (Mei 2019). "Modeling the Formation of the Family of the Dwarf Planet Haumea". The Astronomical Journal. 157 (6): 230. arXiv:1904.00038. Bibcode:2019AJ....157..230P. doi:10.3847/1538-3881/ab19c4. S2CID 90262136.
  57. ↑ Proudfoot, Benjamin; Fernández-Valenzuela, Estela; Stansberry, John; Kiss, Csaba; Ragozzine, Darin; Fraser, Wesley; Pike, Rosemary; Pinilla-Alonso, Noemi (Desember 2024). "A Near-infrared Survey of Candidate Haumea Family Members". The Astronomical Journal. 168 (6): 269. Bibcode:2024AJ....168..269P. doi:10.3847/1538-3881/ad864e. hdl:10831/121057. S2CID 274155364.
  58. 1 2 Ragozzine, D.; Brown, M. E. (2007). "Candidate Members and Age Estimate of the Family of Kuiper Belt Object 2003 EL61". Astronomical Journal. 134 (6): 2160-2167. arXiv:0709.0328. Bibcode:2007AJ....134.2160R. doi:10.1086/522334. S2CID 8387493.
  59. 1 2 Schlichting, H. E.; Sari, R. (2009). "The Creation of Haumea's Collisional Family". The Astrophysical Journal. 700 (2): 1242-1246. arXiv:0906.3893. Bibcode:2009ApJ...700.1242S. doi:10.1088/0004-637X/700/2/1242. S2CID 19022987.
  60. 1 2 3 Levison, H. F.; Morbidelli, A.; Vokrouhlický, D.; Bottke, W. F. (2008). "On a Scattered Disc Origin for the 2003 EL61 Collisional Family—an Example of the Importance of Collisions in the Dynamics of Small Bodies". Astronomical Journal. 136 (3): 1079-1088. arXiv:0809.0553. Bibcode:2008AJ....136.1079L. doi:10.1088/0004-6256/136/3/1079. S2CID 10861444.
  61. 1 2 Verbiscer, Anne J.; Helfenstein, Paul; Porter, Simon B.; Benecchi, Susan D.; Kavelaars, J. J.; Lauer, Tod R.; et al. (April 2022). "The Diverse Shapes of Dwarf Planet and Large KBO Phase Curves Observed from New Horizons". The Planetary Science Journal. 3 (4): 31. Bibcode:2022PSJ.....3...95V. doi:10.3847/PSJ/ac63a6. 95.
  62. ↑ McGranaghan, R.; Sagan, B.; Dove, G.; Tullos, A.; Lyne, J. E.; Emery, J. P. (2011). "A Survey of Mission Opportunities to Trans-Neptunian Objects". Journal of the British Interplanetary Society. 64: 296-303. Bibcode:2011JBIS...64..296M.
  63. ↑ Poncy, Joel; Fontdecaba Baiga, Jordi; Feresinb, Fred; Martinota, Vincent (2011). "A preliminary assessment of an orbiter in the Haumean system: How quickly can a planetary orbiter reach such a distant target?". Acta Astronautica. 68 (5-6): 622-628. Bibcode:2011AcAau..68..622P. doi:10.1016/j.actaastro.2010.04.011.
  64. ↑ Paul Gilster: Vinnige wentelbaan om Haumea Geargiveer 23 September 2015 op Wayback Machine. Centauri Dreams—The News of the Tau Zero Foundation. 14 Julie 2009, besoek op 15 Januarie 2011

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]