Draagstoel

‘n Draagstoel is 'n verouderde vervoermiddel.
Die stoel
[wysig | wysig bron]Dit het bestaan uit 'n toegeboude stoel met 'n deur, dak en vensters. Aan beide kante loop onderdeur die stoel 'n draagbalk waaraan dit deur twee of vier mans, gewoonlik slawe, opgetel en verder gedra is. Eintlik was dit 'n eenspersoonskoets sonder wiele. Soms was daar gordyntjies voor die vensters en is die houtwerk spoggerig beskilder.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]In Engeland was die draagstoel al vroeg in die 17de eeu bekend. Edelmanne en ander ryk en vooraanstaande mense is gereeld per draagstoel vervoer. Daardie dae was die paaie dikwels swak en modderig en was vervoer per draagstoel geriefliker as per koets deur perde getrek oor die stamperige paaie. Ryk Tulbagh het in sy Prag- en Praalwette bepaal hoeveel draagstoele 'n familie mag besit afhangende van hul stand in die samelewing. Tot 1829 was hulle nog in Kaapstad 'n algemene gesig as statusbewuste vroue vir middagtee by 'n vriendin gaan kuier het. 'n Draagstoel kon ook soms gehuur word en kan dus beskou word as 'n voorloper van die moderne taxi. 'n Mooi voorbeeld van 'n draagstoel is in die Koopmans-de Wet-huis.