Gaan na inhoud

Cleaner

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Cleaner
Regisseur Renny Harlin
Vervaardiger
Draaiboek Matthew Aldrich
Met
Musiek deur Richard Gibbs
Kinematografie Scott Kevan
Verspreider
  • Screen Gems
  • Millennium Films
Uitgereik 27 Mei 2007 (2007-05-27)
Speeltyd 88 minute
Land VSA
Taal Engels
IMDb-profiel

Cleaner is 'n Amerikaanse rillerrolprent van 2007 met Samuel L. Jackson wat deur Renny Harlin geregisseer is. Jacson speel die rol van die misdaadtoneelopruimer Tom Cutler wt vermoed hy is deel van 'n toesmeerdery. Ander akteurs is Ed Harris, Keke Palmer en Eva Mendes.

Die rolprent is op 27 Mei 2007 uitgereik.

Rolverdeling

[wysig | wysig bron]

Storielyn

[wysig | wysig bron]

Bederwingswaarskuwing: Die storielyn en/of storie se einde volg hieronder.


Die wewenaar en enkelpa Tom Cutler, 'n afgetrede polisieman is, bestuur sy eie misdaadtoneelopruimingsdiens. Agt jaar tevore is Tom se vrou tydens 'n huisbraak en roof vermoor, waarvan hulle jong dogter, Rose, getuie was. Tom ontvang 'n opdrag van 'n speurder Jones om die toneel in 'n welgestelde huis skoon te maak. Hy gaan binne met 'n sleutel wat onder 'n blompot versteek is en maak die bloed en weefsel skoon met sy eie spesiale mengsel van chemikalieë. Die volgende oggend besef Tom hy het nog die sleutelt en keer terug om dit terug te besorg. Die huiseienaar, Ann Norcut, weet oënskynlik nie dat Tom die vorige dag daar was of waarom sy dienste nodig sou wees nie. Tom redeneer dat sy kantoor die adres moes verwar het. Nietemin raak albei agterdogtig oor die situasie.

Tom vra sy assistant, Cherie, oor die werkopdrag uit en verneem dat die polisie nooit so 'n opdrag geplaas het nie. Tom vind ook uit daar is geen speurder met die naam Jones nie. Hy bêre die opdrag, die foto's, sy notas en die huissleutel in 'n koevert en sluit dit weg. Met die hulp van sy vriend en voormalige vennoot Eddie Lorenzo verneem hy dat Ann se man, John, vermis word. Eddie vermoed vuilspel, aangesien John se verdwyning plaasgevind het die dag voordat hy voor 'n groot jurie sou getuig teen die korrupte voormalige polisiekommissaris Robert Vaughn. Die volgende dag besoek Ann vir Tom by sy kantoor. Omdat hy nooit verduidelik het watter soort skoonmaakdienste hy lewer nie, lei Ann af dat dit 'n misdaadtoneel was en vra of haar man vermoor is. Tom weier om 'n duidelike antwoord te gee.

Later vind Eddie vir Tom waar hy 'n toneel in 'n hotelkamer skoonmaak en vertel hom dat, hoewel die forensiese span geen spore van DNS op die toneel gevind het nie, hulle wel professionele skoonmaakchemikalieë ontdek het. Tom onthul dat hy nie die polisie gekontak het nie omdat hy onseker is hoe omvangryk Vaughn se korrupsie is. Later ontmoet Tom vir Ann, wat vir hom 'n grootboek wys wat John bygehou het van die kentekennommers van elke korrupte polisieman op Vaughn se betaalstaat, insluitend Tom s'n. Jare tevore het Tom ingestem om 'n taak vir Vaughn uit te voer omdat hy geglo het dit sou Rose veilig hou. Tom vertel Eddie van die boek, en dié raai hom aan om dit te vernietig, aangesien dit 'n moontlike motief bevat waarom Tom vir John sou vermoor het. Tom keer terug na Ann, wat aan posttraumatiese stressteuring ly. Sy vra dat hy haar êrens heen neem, en Tom neem haar na sy werknemer Miguel se huis, waar hulle saam met hom en sy gesin aandete eet.

Tom gaan saam met Ann nadat speurder Jim Vargas haar gevra het om John se liggaam uit te ken. Daarna vertel die lykskouer Tom privaat dat John etlike jare tevore 'n vasektomie ondergaan het, wat beteken hy kon nie die pa gewees het van Ann se baba, wat op 'n miskraam uitgeloop het, nie. Tom lei af Ann het 'n buite-egtelike verhouding gehad en dat die sleutel wat op die stoep gelos is, aan haar minnaar behoort het. Hy vertel dié inligting aan Eddie, voordat hy 'n gedenkplaat bokant Eddie se kaggel opmerk waarop Ann se naam onderaan gegraveer is. Tom besef Eddie is Ann se minnaar en dat die kind syne was.

Tom besluit om Eddie aan Vargas uit te lewer maar Eddie gaan na Tom se huis, waar Rose alleen is. Tom haas hom huis toe en konfronteer Eddie, wat erken hy het John vermoor omdat hy geglo het Ann het gelieg oor haar miskraam en dat John haar gedwing het om 'n aborsie te ondergaan. Terwyl hy Tom met 'n vuurwapen aanhou, smeek hy woedend vir ondersteuning, maar toe polisievoertuie opdaag, mik hy om Tom te skiet. In plaas daarvan skiet Rose vir Eddie in die kop nadat sy Tom se dienspistool gaan haal het. Vargas bedank Tom en neem die grootboek met die belofte dat hy dit sal verbrand. Miguel maak daarna die misdaadtoneel skoon.

Ontvangs

[wysig | wysig bron]

Op Rotten Tomatoes was 17% van 12 resensies positief, met 'n gemiddelde punt van 4,3 uit 10.[1] Op Metacritic het die rolprent 'n gemiddelde punt van 49 uit 100 op grond van vier resensies, wat dui op 'n "gemengde of gemiddelde" ontvangs.[2]

Michael Rechtshaffen van The Hollywood Reporter het 'n positiewe resensie gegee en geskryf: "’n Netjies afgeronde misdaadraaisel met 'n slim uitgangspunt en 'n meesterlike hoofrolvertoning deur Samuel L. Jackson."[3]

Eddie Cockrell van die tydskrif Variety het geskryf: "Verwyder die onnodig omslagtige visuele styl, die modieuse narratiewe foefies en 'n klimaks wat sowel moreel afstootlik as logies absurd is en al wat oorbly in Renny Harlin se flou riller Cleaner is 'n taai klein noir oor oortredings uit die verlede wat weer na vore kom. Dit is te hoofstroom om aanhangers van die genre te lok, en te deurmekaar in sy karaktermotiverings om by die gewone bioskoopgehoor aanklank te vind. Dit sal waarskynlik gou verdwyn en slegs vae spore in sekondêre verspreidingskanale nalaat."[4]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Cleaner (2008)". Rotten Tomatoes. Besoek op 4 Mei 2020.
  2. "Cleaner Reviews". Metacritic. Besoek op 4 Mei 2020.
  3. "Cleaner". The Hollywood Reporter. 11 September 2007.
  4. Cockrell, Eddie (13 September 2007). "Cleaner". Variety.

Skakels

[wysig | wysig bron]