Basis
'n Basis is 'n stof wat met 'n suur reageer om 'n sout en water te vorm.[1] In die chemie is drie definisies van 'n basis algemeen in gebruik: die Arrhenius-basis, die Brønsted-basis en die Lewis-basis. Almal stem saam dat basisse stowwe is wat met sure reageer, soos die Franse chemikus Guillaume-François Rouelle in die middel van die 18de eeu voorgestel het.[2] In water lewer 'n basis 'n oplossing met 'n pH hoër as 7, en 'n oplosbare basis wat hidroksiedione vrystel, word 'n alkali genoem.
Die tabel hieronder toon enkele basisse en hul chemiese simbole.
| Natriumhidroksied — NaOH | Koper(II)oksied — CuO |
| Kaliumhidroksied — KOH | Sinkoksied — ZnO |
| Kalsiumhidroksied — Ca(OH)2 | Ysteroksied — Fe2O3 |
Metaaloksiede, hidroksiede en veral alkoksiede is basisse, en die gekonjugeerde basisse van swak sure is swak basisse. Nie alle basisse los in water op nie. 'n Oplosbare basis word eers 'n alkali genoem as dit hidroksiedione (OH−) bevat en dit volledig vrystel.
Definisies
[wysig | wysig bron]Arrhenius-basis
[wysig | wysig bron]In 1884 het Svante Arrhenius voorgestel dat 'n basis 'n stof is wat in 'n waterige oplossing dissosieer en hidroksiedione vorm. Dié ione kan in 'n suur-basisreaksie met die waterstofione (H+) uit die dissosiasie van sure reageer om water te vorm. Volgens dié definisie was 'n basis dus 'n metaalhidroksied soos natriumhidroksied (NaOH) of kalsiumhidroksied (Ca(OH)2).
Basisse en sure word as chemiese teenoorgesteldes beskou omdat 'n suur die konsentrasie van hidroniumione (H3O+) in water verhoog, terwyl 'n basis dit verlaag. Deur die selfionisasie-ewewig van water te versteur, lewer basisse oplossings waarin die aktiwiteit van die waterstofione laer as in suiwer water is, sodat die oplossing by standaardtoestande 'n pH hoër as 7,0 het.
Brønsted-basis
[wysig | wysig bron]In die meer algemene suur-basisteorie wat Brønsted en Lowry in 1923 opgestel het, is 'n basis 'n stof wat waterstofkatione (H+), oftewel protone, kan opneem. Die waterige hidroksiede val ook hieronder, aangesien OH− met H+ reageer om water te vorm, sodat Arrhenius-basisse 'n deelversameling van Brønsted-basisse is. Daar is egter ook ander Brønsted-basisse wat protone opneem, soos waterige oplossings van ammoniak (NH3) of die organiese afgeleides daarvan, die amiene.[3] Dié basisse bevat geen hidroksiedioon nie, maar reageer tog met water, wat die konsentrasie van hidroksiedione laat toeneem.[4] Natriumkarbonaat en ammoniak neem albei H+ op wanneer hulle in water opgelos word:
Sommige nie-waterige oplosmiddels bevat ook Brønsted-basisse wat met gesolvateerde protone reageer. In vloeibare ammoniak is NH2− byvoorbeeld die basiese ioon wat protone van NH4+, die suur spesie in dié oplosmiddel, opneem.
Lewis-basis
[wysig | wysig bron]Gilbert N. Lewis het besef dat water, ammoniak en ander basisse 'n binding met 'n proton kan vorm danksy die ongedeelde elektronpaar wat die basisse besit.[4] In die Lewis-teorie is 'n basis 'n elektronpaarskenker wat 'n paar elektrone met 'n elektronontvanger, die Lewis-suur, kan deel.[5] Die Lewis-teorie is algemener as die Brønsted-model, want die Lewis-suur hoef nie 'n proton te wees nie: dit kan ook 'n ander molekuul of ioon met 'n leë, laagliggende orbitaal wees wat 'n elektronpaar kan opneem, soos boortrifluoried (BF3).
'n Lewis-basis is dus 'n molekuul met een of meer alleenpare elektrone van hoë energie wat met 'n leë orbitaal van lae energie in 'n ontvangermolekuul gedeel kan word om 'n adduk te vorm. Behalwe H+ sluit moontlike elektronpaarontvangers neutrale molekules soos BF3 in, asook metaalione in 'n hoë oksidasietoestand soos Ag2+, Fe3+ en Mn7+. Addukte met metaalione word gewoonlik as koördinasiekomplekse beskryf.[6] Volgens Lewis se oorspronklike formulering ontstaan 'n toestand van elektriese spanning wanneer 'n neutrale basis 'n binding met 'n neutrale suur vorm: die suur en die basis deel die elektronpaar wat voorheen aan die basis behoort het, en die gevolglike hoë dipoolmoment kan net deur 'n herrangskikking van die molekules tot nul verminder word.[7]
Slegs 'n beperkte aantal elemente het atome wat 'n molekuul basiese eienskappe kan gee: koolstof, stikstof en suurstof, asook fluoor en soms die edelgasse.[7] Dit kom gewoonlik voor in verbindings soos butiellitium, alkoksiede en metaalamiede soos natriumamied.
Ander definisies van basisse en sure is in die verlede voorgestel, maar word deesdae selde gebruik.
Herkoms van die begrip
[wysig | wysig bron]Die begrip "basis" spruit uit 'n ouer alchemistiese idee van "die matriks". Die Franse chemikus Louis Lémery het die term in 1717 as 'n sinoniem vir die ouer term "matriks" van Paracelsus gebruik. In ooreenstemming met die animisme van die 16de eeu het Paracelsus gepostuleer dat natuurlike soute in die aarde groei wanneer 'n universele suur of saadbeginsel 'n aardse matriks of baarmoeder bevrug. Die moderne betekenis en die algemene opname daarvan in die chemiese woordeskat word gewoonlik aan Rouelle toegeskryf. In 1754 het hy 'n neutrale sout uitdruklik gedefinieer as die produk van die vereniging van 'n suur met enige stof, hetsy 'n wateroplosbare alkali, 'n vlugtige alkali, 'n absorberende aarde, 'n metaal of 'n olie, wat as "'n basis" vir die sout kon dien deur dit 'n vaste vorm te gee. Die meeste sure wat in die 18de eeu bekend was, was vlugtige vloeistowwe wat gedistilleer kon word, terwyl soute kristallyne vaste stowwe was. Die stof wat die suur geneutraliseer het, is dus as die een beskou wat die vlugtigheid van die suur vernietig en die gevolglike sout sy vastheid gegee het.[2]
Eienskappe
[wysig | wysig bron]Die algemene eienskappe van basisse sluit in:
- Gekonsentreerde of sterk basisse is bytend vir organiese materiaal en reageer heftig met suur stowwe.
- Waterige oplossings van basisse en gesmelte basisse dissosieer in ione en gelei elektrisiteit.
- Basisse verander die kleur van aanwysers: hulle kleur rooi lakmoespapier blou en fenolftaleïen pienk, laat broomtimolblou in sy natuurlike blou kleur en kleur metieloranje geel.
- Die pH van 'n basiese oplossing by standaardtoestande is hoër as 7.
- Waterige oplossings van basisse voel glibberig en smaak bitter.[8][9]
Reaksie met water en basissterkte
[wysig | wysig bron]Die algemene reaksie tussen 'n basis (B) en water lewer 'n gekonjugeerde suur (BH+) en 'n gekonjugeerde basis (OH−):[4]
Die ewewigskonstante Kb van dié reaksie word met die volgende algemene vergelyking bereken:[4]
In dié reaksie ding die basis (B) en die uiters sterk basis OH− om die proton mee. Basisse wat met water reageer, het gevolglik relatief klein ewewigskonstantes,[10] en hoe kleiner die ewewigskonstante, hoe swakker is die basis.[4]
Sterk basisse
[wysig | wysig bron]'n Sterk basis is 'n basis wat volledig geprotoneer word wanneer dit met water in aanraking kom. Dié volledige protonering is die gevolg van die nivelleringseffek: die watermolekuul tree as 'n suur op wat die basis protoneer, sodat 'n hidroksied-anioon ontstaan.[7] Die term "sterk basis" kan verwarring veroorsaak, aangesien "sterk" hier 'n kategorie basis aandui eerder as 'n kwalitatiewe beskrywing. Guanidien is byvoorbeeld 'n baie basiese molekuul, maar dit voldoen nie aan die definisie van 'n sterk basis nie, omdat water dit nie volledig protoneer nie. Onder watervrye toestande kan sommige sterk basisse selfs swak suur C–H-bindings deprotoneer.
Algemene voorbeelde van sterk basisse is die hidroksiede van die alkalimetale en die aardalkalimetale, soos natriumhidroksied en kalsiumhidroksied. Weens hul lae oplosbaarheid kan sommige basisse, soos die aardalkalihidroksiede, gebruik word waar die oplosbaarheid nie in ag geneem word nie.[11] Tetra-alkielammoniumhidroksiede is ook sterk basisse, aangesien hulle volledig in water dissosieer. Guanidien is 'n spesiale geval van 'n spesie wat buitengewoon stabiel is wanneer dit geprotoneer word, om dieselfde rede wat perchloorsuur en swaelsuur baie sterk sure maak. Die volgende is sterk basisse:
| Groep | Basis | Formule |
|---|---|---|
| Alkalimetaalhidroksiede | Litiumhidroksied | LiOH |
| Natriumhidroksied | NaOH | |
| Kaliumhidroksied | KOH | |
| Rubidiumhidroksied | RbOH | |
| Sesiumhidroksied | CsOH | |
| Aardalkalimetaalhidroksiede | Magnesiumhidroksied | Mg(OH)2 |
| Kalsiumhidroksied | Ca(OH)2 | |
| Strontiumhidroksied | Sr(OH)2 | |
| Bariumhidroksied | Ba(OH)2 | |
| Ander | Tetrametielammoniumhidroksied | N(CH3)4OH |
| Guanidien | HNC(NH2)2 |
Superbasisse
[wysig | wysig bron]Die soute van groep 1-metale met karbanione, amiedione en hidriede is gewoonlik nog sterker basisse weens die uiterste swakheid van hul gekonjugeerde sure, wat stabiele koolwaterstowwe, amiene en diwaterstof is. Dié basisse word gewoonlik berei deur 'n suiwer alkalimetaal soos natrium by die gekonjugeerde suur te voeg, of deur metaal-halogeen-uitruiling. Hulle word superbasisse genoem en kan nie in waterige oplossing bewaar word nie, want hulle is sterker basisse as die hidroksiedioon en reageer dadelik met water om hidroksied en hul gekonjugeerde suur te vorm. Die etoksiedioon, die gekonjugeerde basis van etanol, ondergaan byvoorbeeld dié reaksie volledig in die teenwoordigheid van water:[12]
Basisse van koolstof, stikstof en suurstof sonder resonansiestabilisering is gewoonlik baie sterk basisse of superbasisse wat weens die suurheid van water nie in 'n wateroplossing kan bestaan nie. Resonansiestabilisering laat egter swakker basisse soos die karboksilate toe; natriumasetaat is byvoorbeeld 'n swak basis.[7]
Algemene superbasisse is:
- butiellitium (n-C4H9Li)
- litiumdiïsopropielamied (LDA), [(CH3)2CH]2NLi
- litiumdiëtielamied (LDEA), (C2H5)2NLi
- natriumamied (NaNH2)
- natriumhidried (NaH)
- litiumbis(trimetielsilil)amied, [(CH3)3Si]2NLi
Die sterkste superbasisse is slegs in die gasfase gesintetiseer. Die sterkste wat nog ooit gesintetiseer is, is die orto-diëtinielbenseen-di-anioon (C6H4(C2)2)2−, gevolg deur die meta- en para-diëtinielbenseen-di-anione. Voor dié di-anione geskep is, is die litiummonoksied-anioon (LiO−) as die sterkste superbasis beskou.
Swak basisse
[wysig | wysig bron]'n Swak basis is een wat nie volledig in 'n waterige oplossing ioniseer nie, of waarvan die protonering onvolledig is. Ammoniak neem byvoorbeeld 'n proton van water op volgens die vergelyking[13]
- NH3(aq) + H2O(l) → NH+4(aq) + OH−(aq)
Die ewewigskonstante van dié reaksie by 25 °C is 1,8 × 10−5,[14] sodat die omvang van die reaksie of die ionisasiegraad redelik klein is.
Neutralisasie van sure
[wysig | wysig bron]
'n Reaksie tussen waterige oplossings van 'n suur en 'n basis word neutralisasie genoem. Basisse en sure neutraliseer mekaar vinnig, in water sowel as in alkohol.[7] Opgelos in water ioniseer die sterk basis natriumhidroksied in hidroksied- en natriumione:
Net so vorm die suur waterstofchloried in water hidronium- en chloriedione:
Wanneer die twee oplossings gemeng word, verbind die H3O+- en OH−-ione tot watermolekules:
As gelyke hoeveelhede NaOH en HCl opgelos word, neutraliseer die basis en die suur mekaar presies, sodat net NaCl, in wese tafelsout, in oplossing agterbly. Die sout in so 'n oplossing skei in sy samestellende ione. As die oplossing met 'n bepaalde sout versadig is, presipiteer enige bykomende sout uit die oplossing.
Vaste basisse en katalise
[wysig | wysig bron]Voorbeelde van vaste basisse is:[15]
- oksiedmengsels soos MgO–SiO2 en CaO–SiO2
- basisse op 'n draer, soos NR3, NH3 en KNH2 op aluminiumoksied, en NaOH en KOH op silika op aluminiumoksied
- anorganiese verbindings: BaO, KNaCO3, BeO, MgO, CaO en KCN
- anioonuitruilharse
- houtskool wat by 900 °C behandel is of met N2O, NH3 of ZnCl2-NH4Cl-CO2 geaktiveer is
Die basiese sterkte van 'n vaste oppervlak word bepaal deur sy vermoë om 'n elektries neutrale suur te adsorbeer en dit in sy gekonjugeerde basis om te sit. Die hoeveelheid basiese sterkte van 'n vaste basiese katalisator word as die "aantal basiese plekke per eenheid oppervlakte van die vaste stof" uitgedruk. Daar is twee metodes om die aantal basiese plekke te meet: titrasie met bensoësuur met behulp van aanwysers, en die adsorpsie van 'n suur gas. 'n Vaste stof met genoeg basiese sterkte adsorbeer 'n elektries neutrale suur aanwyser, waarvan die kleur dan na dié van sy gekonjugeerde basis verander. By die gasadsorpsiemetode word die basiese plekke bepaal deur te bereken hoeveel koolstofdioksied geabsorbeer word.[16]
Basiese stowwe kan as onoplosbare heterogene katalisators vir chemiese reaksies gebruik word. Voorbeelde is metaaloksiede soos magnesiumoksied, kalsiumoksied en bariumoksied, asook kaliumfluoried op aluminiumoksied en sommige seoliete. Baie oorgangsmetale is goeie katalisators, en baie van hulle vorm basiese stowwe. Basiese katalisators word onder meer vir hidrogenering, die migrasie van dubbelbindings, die Meerwein-Ponndorf-Verley-reduksie en die Michael-reaksie gebruik. Wanneer CaO en BaO tot hoë temperature verhit word, kan albei hoogs aktiewe katalisators wees.[16]
Monoprotiese en poliprotiese basisse
[wysig | wysig bron]Basisse met net een ioniseerbare hidroksiedioon (OH−) per formule-eenheid word monoproties genoem, aangesien hulle een proton (H+) kan opneem. Basisse met meer as een OH− per formule-eenheid is poliproties.[17] Die aantal ioniseerbare hidroksiedione in een formule-eenheid van 'n basis word ook die suurheid van die basis genoem.[18][19] Na gelang van hul suurheid word basisse in drie soorte ingedeel:
| Soort | Hidroksiedione per molekuul | Voorbeelde |
|---|---|---|
| Monosuur (monoproties) | 1 | natriumhidroksied, kaliumhidroksied, silwerhidroksied, ammoniumhidroksied |
| Disuur (diproties) | 2 | bariumhidroksied, magnesiumhidroksied, kalsiumhidroksied, sinkhidroksied, yster(II)hidroksied, tin(II)hidroksied, lood(II)hidroksied, koper(II)hidroksied |
| Trisuur (triproties) | 3 | aluminiumhidroksied, yster(III)hidroksied, goud(III)hidroksied[19] |
Basisse in alledaagse gebruik
[wysig | wysig bron]
Basisse kan tuis gebruik word om 'n suur te neutraliseer of om vet op te los.
Tandepasta is 'n voorbeeld van 'n alkali wat 'n suur neutraliseer. Bakterieë op tande verteer suikers en produseer sure. Die sure los die kalsiumkarbonaat in tande op, en veroorsaak tandbederf (gaatjies in tande wat ook tandpyn meebring). Een effek van die gereelde gebruik van tandepasta is om die suur te neutraliseer en dus tandbederf te voorkom.
Dreinskoonmaker is 'n voorbeeld van 'n alkali wat gebruik word om vette en olie op te los. Olie en vet van kos sit in afvoerpype vas en blokkeer stadigaan pype. Natriumhidroksied reageer met die vette en olie om seep te vorm. Seep is oplosbaar in water en word maklik weggespoel.
Baie teensuurmiddels was suspensies van metaalhidroksiede soos aluminiumhidroksied en magnesiumhidroksied. Dié verbindings los swak op en keer dus dat die konsentrasie van hidroksiedione styg, wat die weefsel van die mond, die slukderm en die maag sou beskadig. Soos die reaksie voortgaan en die soute oplos, reageer die maagsuur met die hidroksied wat die suspensies lewer.[20]
Ander gebruike van basisse sluit in:
- Natriumhidroksied word in die vervaardiging van seep, papier en die sintetiese vesel rayon gebruik.
- Kalsiumhidroksied (gebluste kalk) word in die vervaardiging van bleikpoeier gebruik, en om die swaeldioksied in die uitlaatgasse van kragstasies en fabrieke te verwyder.[20]
- Natriumkarbonaat word as wassoda en vir die versagting van harde water gebruik.
- Natriumbikarbonaat word as koeksoda in kookkuns gebruik, vir die maak van bakpoeier, as teensuurmiddel teen slegte spysvertering en in soda-suur-brandblussers.
- Ammoniumhidroksied word gebruik om vetvlekke uit klere te verwyder.
Kyk ook
[wysig | wysig bron]Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ "Base". LibreText. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 April 2026.
- 1 2 Jensen, William B. (2006). "The origin of the term 'base'" (PDF). The Journal of Chemical Education. 83 (8): 1130. Bibcode:2006JChEd..83.1130J. doi:10.1021/ed083p1130. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 4 Maart 2016.
- ↑ Whitten et al. (2009), p. 363.
- 1 2 3 4 5 Zumdahl & DeCoste (2013), p. 257.
- ↑ Whitten et al. (2009), p. 349.
- ↑ Miessler, Gary L.; Tarr, Donald A. (1999). Inorganic Chemistry (2nd uitg.). Prentice-Hall. pp. 157-159. ISBN 0-13-841891-8.
- 1 2 3 4 5 Lewis, Gilbert N. (September 1938). "Acids and Bases". Journal of the Franklin Institute. 226 (3): 293-313. doi:10.1016/S0016-0032(38)91691-6. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 November 2021. Besoek op 3 September 2020.
- ↑ Johlubl, Matthew E. (2009). Investigating chemistry: a forensic science perspective (2nd uitg.). New York: W. H. Freeman and Co. ISBN 978-1429209892. OCLC 392223218.
- ↑ "Definition of BASE". merriam-webster.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Maart 2018. Besoek op 3 Mei 2018.
- ↑ Zumdahl & DeCoste (2013), p. 258.
- ↑ Zumdahl & DeCoste (2013), p. 255.
- ↑ "10.4.1. Alkoxide Ions". Chemistry Libretexts. LibreText. 16 Julie 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Oktober 2022. Besoek op 28 Oktober 2022.
- ↑ Whitten, Kenneth W.; Gailey, Kenneth D.; Davis, Raymond E. (1992). General Chemistry (4th uitg.). Saunders College Publishing. p. 358. ISBN 0-03-072373-6.
- ↑ Petrucci, Ralph H.; Harwood, William S.; Herring, F. Geoffrey (2002). General Chemistry. Principles and Modern Applications (8th uitg.). Prentice Hall. p. 678. ISBN 0-13-014329-4.
- ↑ Tanabe, Kozo (1970). Solid Acids and Bases: their catalytic properties. Academic Press. p. 2. ISBN 9780323160582. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Oktober 2022. Besoek op 19 Februarie 2015.
- 1 2 Tanabe, K.; Misono, M.; Ono, Y.; Hattori, H. (1990). New Solid Acids and Bases: their catalytic properties. Elsevier. p. 14. ISBN 9780080887555. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Oktober 2022. Besoek op 19 Februarie 2015.
- ↑ "Polyprotic Acids & Bases". Chemistry LibreTexts (in Engels). 13 Julie 2016. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Januarie 2022. Besoek op 9 Januarie 2022.
- ↑ "Electrophile – Nucleophile – Basicity – Acidity – pH Scale". City Collegiate. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Junie 2016. Besoek op 20 Junie 2016.
- 1 2 "Introduction to Bases: Classification, Examples with Questions & Videos". Toppr-guides (in American English). 2 Februarie 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Augustus 2019. Besoek op 14 Maart 2019.
- 1 2 Zumdahl & DeCoste (2013), p. 256.
Bronne
[wysig | wysig bron]- Whitten, Kenneth W.; Peck, Larry; Davis, Raymond E.; Lockwood, Lisa; Stanley, George G. (2009). Chemistry (9th uitg.). Brooks/Cole Cengage Learning. ISBN 978-0-495-39163-0.
- Zumdahl, Steven; DeCoste, Donald (2013). Chemical Principles (7th uitg.). Mary Finch.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]
Wikiwoordeboek het 'n inskrywing vir basis.